Читать книгу Marike se laaste dans - Deborah Steinmair - Страница 7

Hoofstuk 3

Оглавление

Daar staan Marike langs die pad met haar tassie, soos Brel se Bedremmelde Frieda.

Die verkeerslig word groen, maar ek trek af en hou met skreeuende remme langs haar stil, sonder om my flikker aan te sit, tot groot ontsteltenis van ’n ry taxi’s agter my.

“Mevrou de Klerk, kan ek u ’n geleentheid gee?”

“Dit sal danig gaaf wees, Maud.”

“Ken u my?”

“Ek lees jou soms op die internet, my skat. LitNet en Die Burger is oral beskikbaar.”

“Aan … die Anderkant ook?”

“O ja. Dit vat net ’n bietjie langer om af te laai.”

“Mevrou …”

“Noem my Marike, mens. Ek’s nie seker hoe oud ek nou is nie en wie weet of ek nog ’n mevrou is.”

“Waarheen gaan ons?”

“Besluit jý, my skat. Ek is hartlik sat georganiseer. Ek is hier om te leer ontspan, soos oom Diederik moes leer huil.”

“Van Melle. En oom Karel wat sy geweer saamgeneem het.”

“Alhoewel daar nie hekke is nie. Maar dis ontstellend hoeveel hunkering daar steeds bestaan. Jy sal eendag weet: dis nie so eenvoudig om ’n lyf af te skud nie.”

Sy sit haar voetjies, in skitterwit seilskoene, op die paneelbord van die nuwe motor wat my eksman vir my gekoop het.

Sy stryk haar hare plat en frons teen die agtermiddagson.

Sy steek ’n sigaret aan. Ek loer nuuskierig na die pakkie. Dis Sobranie Cocktail, die giftige gekleurde sigaretjies wat dramastudente in my jeug gerook het. Sy teug diep, dog elegant. Sy hoef haar seker nie meer oor haar longe te bekommer nie?

F.W. het opgehou rook, dit weet ek uit Martie Retief-Meiring se boek oor die nuwe mevrou De Klerk, Elita.

Marike se laaste dans

Подняться наверх