Читать книгу Marike se laaste dans - Deborah Steinmair - Страница 5
Hoofstuk 1
ОглавлениеEk sien haar die eerste keer sewe jaar ná haar dood.
My naam is Maud Grobler en my lewe lank sien ek dinge wat nie daar is nie.
Ek sien nie dikwels spoke nie, behalwe soms uit die hoek van my oog. Wanneer ek my kop in hul rigting draai, het hulle lankal verkas.
Die ondooies meld hulle gewoonlik bloot as ’n teenwoordigheid by my aan: ek stap ’n vertrek binne en weet dat iemand onsigbaar in die leunstoel in die hoek sit en tob. Of hulle teister my drome.
Hulle maak my nie bang nie.
Maar daar staan Marike by die robot naby haar woonstel, roerloos soos ’n stilfoto. Net haar klere lig in die wind.
Sy druk ’n paprandhoed met een hand vas teen die suidoos. Sy dra ’n wit vloothemp en swart rompie. Haar blik rus op die verste horison. Sy frons met mening. In haar ander hand klem sy ’n klein reistassie vas.
Sy laat my dink aan Jacques Brel se Timid Frieda “with her valises held so tightly in her hands”.
Net buite Kaapstad, agter ’n moeras digby Bloubergstrand, hurk ’n woonstelkompleks met ’n dak wat herinner aan Liewe Heksie se hoed. Dis ’n nasionale vingerwysing.
Ek weet nie of ek slaap of wakker is nie. Miskien is dit alles ’n kollektiewe droom.
Op 4 Desember 2001 is Suid-Afrika se laaste blanke Presidentsvrou hier vermoor deur ’n tingerige sekuriteitswag. Al wat hy gesteel het, was haar horlosie en selfoon. Miskien wou hy ook die Nobelprys vir Vrede wat haar eksman losgeslaan het, buit.
Ek het haar nooit in die lewe ontmoet nie. Ek het haar nie geken nie. My woede oor haar moord is persoonlik. In my kop is sy die plakkaatnooi van Christelike Afrikanernasionalisme wat sy kruin bereik het in die middel en sy gat gesien het kort voor die einde van die vorige eeu.
Sy het ingekoop in die ideaal wat aan ons almal voorgehou is, van die raakvattervrou as helpmaat, klankbord en voetstoel van haar man; as tuisteskepper en woekeraar vir liefdadigheid. Tegelyk elegante modepop, grasieuse gasvrou en klein patroon – rustelose intellek of te not.
In my kop is sy saamgebondel met briljante, neurotiese slagoffers van hul eie mentaliteit en die voorskrifte van hul tydsgees, soos my ma en Sylvia Plath. Nerveuse presteerders wat bly ywer het om die liefde van hul pa’s te verower.
Die getrouste proponente van die vorige eeu se verwagtings het fronsend gestol. Hulle kon nie in gelid bly met die tyd nie. Hulle het uit die mode geraak soos W.B. Yeats se stokou deuntjie. Hulle het die hand aan eie lewe geslaan of in die agtermiddag in netjiese woonstelle na die son op die see gestaar met ure om te verwyl voordat ’n moffie-pel hulle kom oplaai vir dansklas.
Die Marike in my kop het nie sinneloos gesterf om eers ses-en-dertig uur later deur haar haarkapper op die vloer ontdek te word nie.
Omdat dit ’n droom is, kan ek op enige punt begin …