Читать книгу Marike se laaste dans - Deborah Steinmair - Страница 17

Hoofstuk 13

Оглавление

Ek vat graag mense na Die Skrywer toe. Dit het haar al by geleentheid laat brom: “Ek is nie ’n toeriste-attraksie nie.”

Sy woon in Parklands, ’n klipgooi van Marike se laaste woning. Dis ’n nuwe woonbuurt met identiese huise wat lyk asof hulle uit Lego-blokkies aanmekaargesit is. Soos in ’n rekenaarspeletjie – Sim City.

Sal sy vir Marike kan sien? wonder ek.

Ek klop aan haar woonsteldeur. Die Skrywer maak oop. Sy dra ’n mosgroen trui onderstebo. Haar bleek poniestert is windverwaaid en haar gesig vol room, soos ’n witgesignar.

Sy kyk oor my skouer: “Jis, Marike, howzit?”

“Ek het van sommige van jou boeke gehou,” sê Marike.

“Bakgat. Ek maak vir ons ’n koppie tee.”

Niemand weet presies hoe oud die skrywer is nie. Toe sy baie jonk was, reken ’n resensent eenmaal sy is te jonk vir haar temas, amper soos “te groot vir haar skoene”. Daarna verstrek sy altyd ’n fiktiewe geboortedatum en só verskyn dit in boeke en bundels. Sy gee deur die jare sommer ’n paar verskillende datums, die een min of meer haar ma se geboortedatum.

Haar vel lyk soos sagte leer. Sy het oë soos verbleikte denim. Sy is tegelyk militaristies en sag.

Kort voor lank sit Die Skrywer en Marike sy aan sy op die klavierstoeltjie. Die Skrywer se seesterhandjies dartel oor die klawers en laat ’n Russiese lied dawer. Sy sing in ’n droewe bariton: “Occhi, chornye”.

Op die klavier staan twee glase rooiwyn, Marike s’n met die afdruk van pienkrooi lippe op die rand.

Asof afgespreek gaan die lied oor in Brel se “Ay Marieke Marieke … le ciel flamand … de Bruges et Gand …”

Dan sing Die Skrywer ’n romantiese lied uit haar ma se jeug in ’n rokerige bariton: “These foolish things”.

Buite begin haar buurvrou, ’n Russiese bruid wat volgens Die Skrywer per pos bestel is, haar Afrikaanse man se motor was. Haar profiel is beeldskoon, haar uitdrukking hunkerend.

Die kaketiel hang onderstebo in die suurlemoenboom en praat saam. Die hele buurt se duiwe paradeer in haar agterplaas, stywebeen soos soldate. Die honde rol met wit oë op die mat rond, soos perde wat naderende reën ruik.

Soos dikwels in Die Skrywer se blyplek, kry die weeksoggend ’n swaai in die heup. Die alledaagse gooi die handdoek in en doen ’n wawiel.

Die lug is vol blinkertjies en gewone voorwerpe kry ’n stralekrans.

Marike se laaste dans

Подняться наверх