Читать книгу Marike se laaste dans - Deborah Steinmair - Страница 13

Hoofstuk 9

Оглавление

Die volgende oggend, in die helder daglig, is daar geen teken van Marike nie.

Die skottelgoed is wel gewas. Die twee teekoppies staan onderstebo in die afdroograk. Die kat is nog soek.

In die sitkamer struikel ek oor iets. Dis haar reistassie wat teen die bank leun. Ek gaan sit op die mat en trek dit nader. Dis toegerits en toegesluit, maar ’n klein goue sleuteltjie hang nog aan die ritssluiter. Ek wikkel dit los en sluit die slotjie oop terwyl ek oor my skouer loer.

Binne is ’n handjievol voorwerpe: ’n blikkie Doom, ’n foto van F.W. in ’n maroen kamerjas, ’n teelepeltjie met die ou landswapen en “Libertas” daarop, ’n halwe dosie gekleurde sigarette, ’n fluweelroos, ’n effens platgedrukte ontwerpershoed, ’n handskoen. Dit laat my dink aan die liedjie oor die ashoopkoningin.

“Julle joernaliste is darem ongeneeslik nuuskierig. Moenie dat ek jou skrikmaak nie. Oppas, my foto.”

“Ek is nie ’n joernalis nie. Ek was ’n sub, maar ons afdeling van die koerant het verlede week toegemaak. Ek is afgelê. I lost my job two weeks before Christmas – dit kom uit ’n liedjie van Rodriguez.”

“O, ideaal. Dan kan ek en jy onverstoord rondslenter en agter die kap van ’n paar byltjies kom.”

“Ek wil nie ongeskik wees nie …”

“Jy bedoel seker jy wil nie ongepoets wees nie. Ek reken jy is heeltemal geskik vir die taak.”

“Ek bedoel, hoe weet jy ek het nie beter dinge om te doen nie, soos werk soek?”

“Jy het my immers gesién. Dit beteken jy het vrae rondom my … einde. Of my lewe.”

“Ek het teorieë, ja. Jy spook al lank by my. As ek voltyds werk, het ek nie altyd genoeg tyd om dinge deur te dink nie. Ek het van kleins af ’n duisend teorieë in my kop, maar die gewone lewe wil dit altyd verdring. Om te dink, om een gedagte klaar te maak, is ’n ongelooflike luukse wanneer jy vir ’n maatskappy werk.”

“Dan is dít waarom jy jou werk verloor het. ’n Bestiering. En gaan koop asseblief vandag vir ons Earl Grey-tee. Wat pla jou omtrent my lewe?”

“Die ongeleefde deel.”

“Skote Petoors.”

Marike se laaste dans

Подняться наверх