Читать книгу Marike se laaste dans - Deborah Steinmair - Страница 11

Hoofstuk 7

Оглавление

Ek skrik in die middel van die nag wakker van ’n pak stilte soos ’n lugleegte.

Marike sit op die rand van my bed.

Sy skop-skop met haar seilskoenvoetjies teen die bedkassie. Sy frons diep. Haar wit bloesie lyk vars gestryk. Sy dra ’n smeersel lipstif en elke haar is op sy plek.

“Jy is mos danig oor gesels, Maud, en altyd vol vrae. Wel, die nag is te lank. Ek kan slaap wanneer ek dood is. Ek het behoefte aan ’n koppie tee en ’n bietjie klets. Ek het tee gemaak. Het jy nét rooibostee? Ek vermoed die melk het ’n krakie. Hier, dis swart met bruinsuiker. En ek het die skottelgoed gewas.”

“Dankie.”

In die halflig van die straatlamp, nog halfverdwaal in die voorportaal van slaap, voel ek vrymoedig om iets van my hart af te kry:

“Voordat ons miskien vriende word en ek jou blindelings in alles moet ondersteun, wil ek net noem … ek bewonder op ’n manier vir F.W. dat hy die moed gehad het om sy hart te volg eerder as fatsoenlikheid. En ek glo nie Elita is ’n sjampanjeborreltjie soos jy gesê het nie.”

“Jy reken? Sy was eers my vriendin. Verskoon my as ek nie veel waarde heg aan vriendinne nie. Vir F.W. sal ek oor drie leeftye bemin en ewig bewonder. Ek en jy het iets in gemeen, Maud. Ons altwee is beterweters. Ek dink nie daar is hoop vir ’n vriendskap nie.”

“Hmmm. ‘Maud’ beteken ‘strong in battle’. Het jy kaneel in die tee gesit?”

“Pypkaneel en steranys om die sinne te vertroos.”

“Marike, hoekom wil jy jou moordenaar om verskoning gaan vra?”

“Moord is ’n komplekse saak, Maudie. Daar is baie onsigbare faktore wat inspeel.”

“Maar hoe kan dit ooit die slagoffer se skuld wees?”

“Trek elke dag die volle wapenrusting aan, sê Paulus in Korintiërs. In die lewe moet ’n mens sterk wees. Paraat en weerbaar. As jy ‘af’ raak, as jy pateties en onseker en in die pad begin voel, vra jy onbewustelik om afgeransel te word. Die instrument waardeur jy jou einde ontmoet, is dikwels niks meer as toeval nie. Die moordenaar word eintlik gebruik deur … noem dit maar die kosmos. Hy was op die verkeerde tyd op die verkeerde plek.”

“Of dalk was jý. Het jy so gepraat toe jy nog … gelewe het? Was jy nie enkel-Gereformeerd nie? Het jy nie die voorsienigheid en predestinasie aangehang nie?”

“Kyk, let’s face it. Ek was redelik clueless. ’n Mens tel heelparty waarhede op in die Wagkamer.”

Marike se laaste dans

Подняться наверх