Читать книгу Hartland - Deon Opperman - Страница 10

— VI —

Оглавление

Daar was ’n aand, eintlik ’n nag, hul eerste winter in Vancouver, toe Bertus, met die naglampie agter sy skouers wat veroorsaak dat sy gesig in donkerte gehul is en sy haar oë effens op skrefies moet trek, na Elna gedraai het en gesê het hy sukkel om haar te verstaan. Soms.

Sy toon rustig, daardie gemaklike praat van minnaars ná ’n aand van liefde.

Elna het nie dadelik geantwoord nie. Dit was reeds meer as ’n jaar nadat hy die ontsaglike knou van regstellende aksie gekry het. Sy loopbaan aan skerwe. Elna het haar bes probeer om die sielkundige knou teen te werk, hom te ondersteun. Bertus het geweet hy kon nie veg teen die onverbiddelike verandering wat besig was om die land te transformeer nie. Hy moes vlug. En Elna het hom gesteun omdat sy geweet het dis die vinnigste manier om haar ou Bertus te herstel. Hulle het na Kanada gevlug, westelike Kanada, so ver as moontlik van Suid-Afrika af. Bertus het begin herstel, sy voete weer begin vind. Hy het sy eie maatskappy begin, maar sommige van sy metodes het hul daaglikse lewe begin knou. Alles moes op Engels gedoen word. Afrikaans het hulle in Suid-Afrika agtergelaat. Elna het agtergekom dat sy besig was om te kwyn, om van haar man weg te groei. Verlange na haar land, haar taal, haar mense het méér weggevreet as wat liefde kon heel. En telkens, wanneer sy wou sê: “Kyk na my, sien jy die skade?” moes sy onttrek, voorkeur gee aan die gekneusde ego van Bertus en haar missie om dit te herstel.

Elna het haar hand uitgesteek, sy wang gestreel. “Read my face,” het sy gesê. “All you need to know, you’ll find it there.”

Hulle het lank só bly lê, Bertus wat na haar staar.

Verstaan jy? wou sy vra.

Sy het sy oë in die hulsel van skadu gesoek. Oop maar elders.

Tussen haar dommeldrome deur op die vlug hierheen het sy gewonder hoe sy haar gesig gaan wegsteek. Haar familie ken haar. Hulle sal haar een kyk gee en weet.

Nou, op die patio voor Elna en Bertus se kamer, staan Maria en Elna ’n oomblik vir mekaar en kyk. Dit is asof die neersit van die tasse, die vinnige ingaan by die badkamer en die uitstap op die patio vir Elna finaal wil sê: Terug, terug, ek’s terug!

Maria weer kan nie ophou kyk na haar dogter se gesig nie. Sy sien die tekens van moeilike maande wat agter die rug is, die vermoeienis van die vlug. En dan word haar gemoed gevul met die wonderlike warmte wat uit haar dogter se blydskap straal. Daar’s pyn in die oë, sien Maria, maar die vreugde van weersien laat Elna blom.

Maria praat nog oor kaste en handdoeke en help julself in die kombuis, maar dan baai sy weer in Elna se breë glimlag. “Ag, my kind, dis so lekker om julle weer hier te hê.” Sy trek Elna nader. “Vir my ook, Ma.”

Vir ’n oomblik staan hulle so in mekaar se arms. Skielik begin Elna ruk soos sy huil. Rou snikke wat haar teen haar ma se lyf laat skud.

“My kind? My gogga?” Maria staan effens terug, sodat sy Elna se gesig kan sien. “Wat makeer? Elna? Praat met my, my kind. Hoekom huil jy?”

“Hy wou hom nie bring nie, Ma.”

“Hoe bedoel jy nou hy wou hom nie bring nie?”

“Bertus. Hy wou nie vir Neil saambring nie.”

“Maar hy’s ons kleinseun. Hoekom sou Bertus nie wou hê ons moet hom sien nie?”

“Nie daaroor nie, Ma. Hy wou hom nie na dié land toe bring nie. Ons het amper geskei omdat ek aangedring het. Hy wou hom daar by vriende los sodat ek en hy alleen kon kom.”

“Ek’s jammer, maar ek verstaan nie.”

“Hy wil hê Neil moet in murg en been ’n Kanadees wees.”

“Dis absurd. Julle praat dan Afrikaans.”

“Nie in Kanada nie. Ons praat Engels ... by die werk, by die huis. Ons praat Engels. Bertus voel as Neil Afrikaans by die huis praat en Engels by die skool, hy nooit behoorlik sal aanpas nie ... altyd half Afrikaner sal wees.”

“Maar hy sal altyd half Afrikaner wees. Jy kan mos nie jou herkoms ontken nie.”

“Dis wat ek heeltyd vir Bertus sê.”

“Neil was dertien toe julle hier weg is. Hy weet mos waar hy gebore is, waar hy vandaan kom. Sy ouma en oupa bly per slot van sake nog in Suid-Afrika.”

“Bertus is nie oop vir gesprek nie. Dit was moeilik genoeg om die land te verlaat, om weg te gaan van Ma en Pa, van alles wat ek ken, maar om alleen in ’n vreemde land te sit en nie eens oor jou verlange en heimwee met jou man te kan praat nie. Om as moeder jou kind se moedertaal te moet ontken. Ek sukkel, Ma.”

“Ai, my kind.”

Daarmee sien Maria dan ook, weggesteek agter die liewe gelaat, die verhaal van die lang eensame stryd wat Elna moes stry. En niemand het daarvan geweet nie. Hoe kon hulle só blind wees?

Hartland

Подняться наверх