Читать книгу Hartland - Deon Opperman - Страница 7
— III —
ОглавлениеOuma Cilliers sit net waar Jan haar gelaat het en staar oor die huise en bome in die verte. Haar gedagtes is by tye en mense wat fleurig was toe die klippe onder hierdie sitkamer nog bloot onder die hemele gelê het. Hul plasie, haar geliefde. Hy wat nie meer hier is nie, hulle wat weggeraak het in haar gedagtes. Die grond wat seker nou gereed lê vir die ploegskaar. Die melkkoeie, die verpesting in Kleinjan se lewe, voordat hy groot Jan geword het en skoonheidsdrome aan die land se vrouens verkoop het. Dink hy soms nog terug aan die vroeë oggende, met die spene wat deur sy vingers glip, die melk wat teen die emmer se wande girts-girts? Die paadjie terug opstal toe, sy wat met hom raas as hy koeimis in die huis in trap? Die koffie wat op die Aga staan en moer trek? Sy sien hom nog sit by die tafeltjie in die kombuis, geduldig en wag dat die beskuit sag word in die swart koffie. En Kleinjan wat sy enemmelbeker vinnig by die wasbak uitspoel, nog koffie ingooi, en verkas, stalle toe, waar hy om die hoekie met die plaasvolk om die konka gaan sit, ’n beker koffie ruil vir ’n mielie wat hulle vir hom in die konka gereed gemaak het, die pitte plek-plek swart gebrand, sodat hy dit met opset en vernuf moet kou. Kleinjan, altyd die geselligheid vanself, selfs op oggende wanneer die son nog nie die ryp van die gras weggebrand het nie. Nie omgegee het met wie hy gesels nie, solank hy net kon gesels. Kry dit seker maar van haar. Sy was nooit op haar bek geval nie. Mense het haar daarvoor kwalik geneem. Wat maak dit saak? Mens moet die waarheid dien – sê wat jy sien. Nou nog. Maria, die klein merrie, wip haar daarvoor. Maar terugpraat? Nooit, té bang die ou vrou sal haar nog meer van dieselfde gee. Jan maak beswaar, maar o so beleefd beswaar. Kan die kind dan nie sy ma aanvat nie? Soos sy pa gedoen het. O, dit was dae daai! Hulle het mekaar goed gesê, maar met respekte altyd. En agterna, wanneer die toorn gesak het, was hulle steeds nog so lief vir mekaar soos altyd. Wanneer Elna die slag vir haar uit Kanada skryf, is dit tog te ordentlik. Maar sy weet, dít wat nie gesê word nie, spreek luider as selfs ’n rugbyskare se gebulder. Wag maar, hulle is op pad en hulle sal die kwaadgeit nie kan wegsteek nie. Daarvan is sy seker. Sal seker die vroomheid vanself wees, maar sy het ore en sy het oge en sy sal weet, bitter gou weet. Hulle kan dit nie vir haar wegsteek nie. Boetjan het probeer, maar sy het hom in die oë gekyk en sy het die drankduiwel sien terugkyk. Hulle mag dink sy’s oud en seniel, maar hulle weet nie hoeke groot fout hulle maak nie.
Sy hoor nie die motor buite toet nie, drie keer, feestelik.
Maria kom ingehardloop met ’n uitbundige “Jan! Ma! Hulle’s hier! Hulle’s hier!” Sy onthou skielik hul sekuriteitshek en -stelsel. “Hoe’t hulle ingekom?”
Sy praat met Jan. Asof sy nie hier is nie.
“Wat vra jy, my skat?” Jan aard op dié manier darem na sy pa. Stel gerus wanneer hy die angs in Maria se stem hoor. “Ek het hulle naam voor by die sekuriteit gelos.”
Sy is trots op Jan se bedagsaamheid. Maar sy is eintlik baie geïrriteerd met hom – en Maria. Hulle is die afgelope ruk baie geheimsinnig, sit met mekaar en tjie-tjie wanneer hulle dink sy nie kan hoor nie. Sy is seker hulle maak planne om ook landuit te vlug. Hul skatte veilig te gaan maak anderkant die land se grense. Haar alleen te laat. Miskien is iets anders ook aan die uitbroei. Dalk met Elna te doen? Sy kan sien dat Jan vir Maria probeer beskerm. Die oomblik is vir haar baie groot. Praat al maande lank daarvan om by Elna in Kanada te gaan kuier. Elna het net telkens laat weet dat hulle nog nie ingeburger genoeg is nie, dat die tyd nie heeltemal geleë is nie. Wat ’n ma soos Maria haar natuurlik dadelik allerhande drog-scenario’s laat indink: Die ergste wat moontlik kan gebeur, is moontlik aan die gebeur. Of nog erger! Dan kalmeer Jan haar, Jan met sy ysere wil en sagte begrypende stem. Met dié dat Elna se Bertus die rug so ferm op Suid-Afrika gekeer het, is Jan en Maria hiperbewus van enigiets wat tipies van die negatiewe aspekte van die Suid-Afrikaanse bestaan mag wees – soos moontlik inbrekers wat helder oordag by hul sekuriteitshek kan verbykom. Verbeel jou! Skaam vir jou eie land! Iemand moet Bertus nog die waarheid vertel, kaalkop. Dalk moet sy dit sommer vandag nog doen.
Ouma Cilliers sien die vertedering raak waarmee Jan na Maria kyk. Sy kan sien hoe die vrees in Maria se oë die wyk neem, en sy weer bewus word van haarself en hoekom die dag vir haar spesiaal is.
Jan glimlag dadelik wanneer hy sien hoe Maria aan haar hare vat en die onvermydelike vra: “Hoe lyk ek?”
“Soos altyd, my vrou, pragtig.” Hy sê dit soos ’n jong minnaar, en Maria bedank hom met ’n glimlag soos net sy kan, iewers tussen minnares en dankbaarheid. “Hulle gaan sien ek het ouer geword,” sê sy.
“Ons het albei ouer geword.” Jan lag in sy keel. “En hulle’t dit lankal op Skype gesien!”
“O ja, dis waar.”
Alles terug na normaal.
Jan en Maria begin beweeg na waar hulle stemme van buite hoor aankom.
“Wil Ma saamkom?” vra Jan.
Uiteindelik! Sy het begin wonder of sy onsigbaar is. “Moenie jou oor my bekommer nie,” sê sy egter en wuif hom met die hand weg. “Ek het my versekering.”
Die woorde bly hang in die leë vertrek. Sy hoor hoe Maria vir Jan sê sy’s jammer hulle het Elna-hulle nie op die lughawe gaan ontmoet nie; Jan wat vir die soveelste keer verduidelik dat Bertus en Elna ’n motor moes huur omdat hulle wiele tydens hul besoek nodig sou hê. Ouma hoor die vreugdevolle uitroepe van buite kom, die blye jubeling. Sy wil nog keer, kan nie toelaat dat haar kleinkinders haar só sien nie, maar die voorbode neem van haar besit en sy begin ruk van die huil, ’n ontsteltenis wat diep uit haar hart kom, ’n beklemming dat hierdie die begin is van die groot verandering en dat geen versekering op Gods aarde genoeg is om daardie verandering te stuit nie. Dat sy agterna stoksielalleen sal sit.