Читать книгу Hartland - Deon Opperman - Страница 20
— I —
ОглавлениеDominee Rudi Naudé het vir homself geen antwoorde op die vrae wat nou soos sweepslae in sy kop klap nie. Hoekom gebeur dit met hom? Hy wat die krag van gebed ken? Hy bid, en vind antwoorde. Hy bid, en God bring genesing vir die siekes in sy gemeente.
Vanmiddag, toe hulle terugkeer van swaer Jan-hulle, tóé het dit begin.
Hy het Rika herinner aan hul roeping. Aan die voorbeeld waardeur hulle die gemeente moet lei. As hy haar nie vandag gekeer het nie, het sy meer as een glasie wyn gedrink. En dit deug nie. Rudi haat dit om met haar te praat asof sy ’n kind is. Maar dis al hoe sy luister!
Dit was nie ’n lekker gesprek nie.
Daar is iets wat haar hinder, hy kom dit agter aan die traak-my-nieagtigheid waarmee sy hom soms antwoord: Ek lei hulle nie ... jy’s die dominee ...
Hy en Rika het op die bed gaan sit, sodat hy hulle in die gebed kon lei, sodat hulle saam kon bid vir krag.
Toe lui iemand die klokkie by die voorhek.
Dit is presies waar dit begin het. Hierdie sweepslae in sy kop.
’n Boemelaar.
Ongekamde hare, ruie baard. Vel wat lyk of dit te veel son en te min water gesien het. Rudi skat die man in sy veertigs.
“Dominee Naudé?” het die man gevra.
“Ja ...?”
“Dominee Rudi Naudé?”
“Ja ... Hoe kan ek help?”
Rudi het begin dink aan maniere waarop mens sulke boemelaars sonder te veel gewetenswroeging kan verwilder.
“Ek wil my lewe terughê ... wat jy by my gevat het.”
Hy was sprakeloos.
Rudi het gedink aan sy deur God gegewe roeping. Sy taak.
Hy het die man ingenooi.
Na sy studeerkamer geneem; Rika wat die man skrams in die verbygaan gesien het.
Sy naam is Hannes, het die man gesê.
Hannes.
Rudi het sy gebruiklike plek geneem – die stoel waarvandaan hy al soveel gemeentelede gehelp, vermaan en tot verantwoording geroep het. Sy Bybel, in wit leer gebonde, toegevou voor hom. ’n Beeld van Christus aan die kruis agter hom in ’n opening in sy boekrak.
Hannes het hom eers net gesit en bekyk.
“As dominee van hierdie gemeente,” het Rudi formeel begin, “is my deur oop vir enige mens wat kom hulp soek, maar ek wil hê jy moet verstaan dat ek ook nie sal toelaat dat my welwillendheid misbruik word nie.”
Hannes het nog etlike sekondes geswyg en toe met ’n rustige stem begin praat. “Jy was in negentien twee-en-tagtig kapelaan gewees op die grensbasis, Ogongo.”
“Dit was lank gelede ... ek was nog jonk, maar ja ...” Hy het versigtig geantwoord. Watse ou koeie wil die man gaan uitgrawe?
Maar as hy nou terugdink, weet hy dat hy al begin verdedigend praat het voordat hy geweet het wat Hannes pla.
“Onthou jy my nie?”
“Ek’s jammer, maar duisende troepe het daar deurgekom.”
“Ek was een van hulle. Onthou jy die dag toe ’n jong soldaat van agtien na jou toe gekom en sy bekommernis uitgespreek het oor daai draadkamp wat so twintig tree van jou tent af is?”
Hy kon dit glad nie onthou nie. Kan steeds nie.
“Die draadkamp waarin ons Swapo-krygsgevangenes in daai gat in die grond gemartel het.”
’n Paar ou herinneringe het begin terugkom.
Ja, die herinneringe het hom ongemaklik laat voel. Laat hom maar dít erken.
Maar Hannes ... die man kon sien dat hy begin onthou.
“Toe kom daardie agtienjarige soldaat na jou en hy sê: ‘Dominee, ek het groot probleme met wat in daai draadkamp aangaan. Wat sou Christus sê as hy moes sien hoe ons krygsgevangenes martel ... hulle met rottangs slaan, met elektriese drade skok, hulle in gate in die grond toemaak?’ ”
Hy kon net na Hannes staar.
“En toe sê jy vir daardie jong man: ‘Soldaat, ons veg hier in die naam van God. Gaan doen jou plig en moenie dit weer bevraagteken nie, of jy word aangekla en jy gaan tronk toe.’ ”
Hy weet hy hét dit gesê, maar die woorde, en hul brutale onbeskaafdheid, het hom geruk. Hy kon aan niks dink om te sê wat nóú sou sin hê nie.
“Wel ... ek was daai jong soldaat. En op daardie dag het ek my geloof verloor. Kon ek nooit weer in ’n God of Christus se liefde glo nie. Tot vandag toe probeer ek die bloed van daai mense wat ons gemartel het van my hande afwas. Maar ek kan nie. Ek het daai bloed met drank probeer afwas, maar dit het nie gewerk nie. Ek het daai bloed met dwelms probeer afwas, maar dit het ook nie gewerk nie. Toe reken ek, ná al hierdie jare, dat die enigste een wat daai bloed van my hande kan afwas, die een is wat my hande in die naam van God in daai bloed gedoop het.”
Rika het hom gered.
Die gedienstige pastorievrou.
Hannes het opgehou praat.
“Rudi ... kan ek vir jou en jou gas ’n koppie koffie aanbied?”
Hy was nog só oorbluf dat hy nie kon antwoord nie.
“Dankie, Mevrou,” het Hannes gesê, “maar ek is nie hier vir koffie nie.”
Sy het gefrons, na hom gekyk en padgegee. Wat sou sy in elk geval kon doen? wonder Rudi.
Dit was weer stil tussen hom en Hannes. Vir ’n oomblik het hy gewens dat hy buite was, dáár by die verkeer wat in die strate dreun.
“So, nou’s ek hier,” het Hannes weer op sy rustige, besadigde toon hervat, “om te vra: Kan jy daai bloed van my hande afwas?”
Hannes het vorentoe gesit, sy hande wat mekaar in toom hou oor Rudi se boeke heen. Rudi kon die smart en hartseer – óú smart en hartseer – in sy stem hoor toe hy afsluit: “Kan jy my geloof uit daardie gat in die grond op die grens laat opstaan? Want ek wag al baie langer as drie dae.”
Die oomblik het gekom, besef Rudi nou, waarin hy moet rekenskap gee van sy aandeel aan die geskiedenis van hierdie land.
Hy het met Hannes saamgestap hekkie toe.
Hannes het gesê hy kom weer.
Afspraak? Belofte? Dreigement?
Hy het weer sy pastorie in gevlug.
Maar toe Rika kom vra wie dit was, kon hy nie die waarheid op sy lippe neem nie. “Dit, my skat,” het hy gesê, “is een van die kruise van dominee wees: Jy moet jou deur oopmaak, maak nie saak wie aan hom klop nie. Sy naam is Hannes ... drank en dwelms. Hy’t hulp kom vra.”
Rika het hom aangemoedig. Maar hy – hy kon niks hoor nie. Soos hy destyds nie kon sien nie. Hy kon net staan, sy gedagtes vasgeslaan.
Hoekom moes hy lieg?
En nou?
Rudi dink aan Efesiërs 3. Hy weet wat hy moet doen. Kniel in gebed voor die Vader. Aan wie hy en Hannes albei hul bestaan te danke het. Bid dat Hy deur sy Gees vir Hannes die krag van heling gee. En vir hom? Die krag van boetedoening? Van nederigheid en ootmoed? Kan hulle nog, nou, met Hannes se klag wat sy gemoed vergif, nog saam as gelowiges begryp hoe wyd die liefde van Christus strek? Terwyl dit juis hy is wat Hannes sy geloof gekos het ...
Hy weet dat God die hoorder en verhoorder van alle gebede is.
Maar hy huiwer. Hy kon nie eerlik teenoor Rika wees nie. Wat sal hy vir God sê?
Sy drentelgang deur die huis eindig uiteindelik in sy studeerkamer. Hy sit agter sy lessenaar, die Bybel voor hom oop. Sy gedagtes dwaal. Hy dink aan God, die barmhartige God. Hy dink aan sy geloof, wat vir hom sê dat God nooit sal toekyk hoe hy, Rudi Naudé, seerkry sonder om hom te beskerm nie. Wanneer hy in die spervuur van sy naaste kom, dit glo Rudi, is dit weens dinge wat hy oor homself gebring het, sy eie dade. Wat bly daar vir hom oor wanneer hy by hierdie kruispaaie kom?
Rudi staan op, neem sy Bybel en stap om sy lessenaar. Hy trek die gemakstoel wat voor sy lessenaar staan uit en plaas die Bybel op die kussing neer.
Dan kniel hy voor die stoel, vou sy hande in gebed saam, met sy voorkop teen sy hande en oor die Bybel. “My Hemelse Vader, ek kniel hier voor U vandag, u nederige dienaar, en vra dat U my gebed sal hoor. In u Heilige Woord het U gewaarsku dat die sondes van die vaders besoek sal word aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat U haat ...”
Sy konsentrasie word versteur deur ’n klop aan die deur.
Hy lig sy kop, open vir ’n oomblik sy oë. “Nie nou nie!” roep hy en buig sy hoof weer in gebed, sy oë toe, sy konsentrasie terug by sy gesprek met die Hemelse Vader. “Vandag het daardie sondes my ingehaal ... het ek gekyk na ’n man uit wie se siel ek u Heilige Gees verban het. Ek was jonk en het nie geweet wat ek doen nie. Ek smeek U vir leiding en vir u wysheid, dat ek hierdie onreg, hierdie sonde, kan uitwis, en u kind weer terug na u heilige kroos kan bring. En mag U, in u oneindige genade, my vergewe vir wat ek gedoen het.”
Rudi open sy oë. Vir ’n oomblik oorweeg hy dit om op te staan, na sy vrou en kinders te gaan. Maar dan besef hy dat hy vanaand net vertroosting op een plek sal vind.
Hy bly op sy knieë.
Durf hy die Here daaraan herinner dat Hy beloof het dat die gebed van ’n gelowige ’n kragtige uitwerking het?
Rudi voel dat sy gemoed lig telkens wanneer hy “amen” prewel.
Dan kom die herinneringe terug. Die bosveld-briesie en die reuke wat dit dra. Die gat in die grond en die koppe wat bo die grond uitsteek.
Hy bly op sy knieë.
In die sitkamer sit Rika op die bank met haar breiwerk op haar skoot. Sy sit na die Travel-kanaal en kyk – ’n wonderlike Mediterreense vakansie. Haar gedagtes is besig met die soort vlugte wat sy nooit met Rudi sal bespreek nie. Hy het dit so moeilik met die gemeente wat krimp en die samelewing se laste wat vermeerder, sy wil hom nie nog laat voel dat hy nie vir haar sorg nie.
Esmé stap in, geïrriteerd: “Ma, wat gaan aan met Pa? Hy’s nou al ure in sy studeerkamer. Ek wil iets belangriks oor my kursus met hom bespreek voor ek my vorms instuur, maar elke keer as ek klop, stuur hy my weg.”
“My kind, jy weet mos nou al ... as Pa nie met ons wil praat nie, dan is dit omdat hy met die Here praat.”
“Wel, ek’s seker die Here sal verstaan as hy net vir ’n paar minute die gesprek op pause sit.”
“Esmé! Skaam jou!”
“Jammer, Ma ... maar rêrig.”
“Dit was nog altyd so, en so sal dit altyd wees.”
Op die skerm voor haar vaar ’n jong vrou op ’n seiljag wat by ’n eiland voor anker lê. Voel die wind in jou gesig, dink Rika.
“Partykeer wens ek ek het ’n normale pa gehad.”
“En wat, my kind,” vra Rika, haar oë steeds op die TV-skerm vasgenael, “as jy na die lewe om jou kyk, is ’n normále pa?”