Читать книгу Hartland - Deon Opperman - Страница 15

— XI —

Оглавление

Wanneer die jeugdiges op vlug slaan na die meer sensuele, uitspattige omgewing van die jacuzzi, kry die grootmense hul sit in ’n groot kring onder die dak van die lapa. Jan is in sy noppies: beter kon hy dit nie beplan het nie.

Elna is die enigste een wat staan, drankie in die hand. Sy probeer haar hoorbaar maak bo die gemurmel van stemme: “Dames en Here, ek wil graag ’n heildronk instel ... op Pa se vyf-en-sestigste verjaarsdag.”

“Nie so haastig nie, kind,” protesteer Jan luidkeels. Hy het sekere bygelofies wat hy nie kan afskud nie. Een daarvan is dat mens nooit die vel verkoop voordat die bok geskiet is nie. “Dis eers môre. Laat my toe om die laaste paar uur van my nog-nie-vyf-en-sestig-jaar-oud-nie te geniet.”

Almal lag. Hy kan maar grap, maar verjaar sal hy verjaar. Gee die horlosie net kans.

“Nou goed,” gaan Elna voort, ”dan drink ons op die laaste paar uur van Pa se nog-nie-vyf-en-sestig-jaar-oud-nie.”

“Gesondheid!” al in die rondte.

Jan kom stadig orent. Hy lig sy glas: “En op goeie vriende wat nie meer met ons is nie. Zweli, ons drink op jou ma en pa ... dertig jaar my vennoot. Ek mis hom. Ek mis hulle albei.”

“Gesondheid,” kom dit weer, glasies omhoog.

“En op Francois,” kom Ouma se krakerige stemmetjie.

Die kring sit geskok stil.

Maria sug.

Boetjan kyk af na sy glas sodawater.

Elna kyk na Boetjan langs haar op die bank.

Jan het geen ander keuse nie: “En op Francois!”

Is daar iets soos lewende ironie? wonder Jan wanneer “gesondheid” weer eens in die rondte, glasies omhoog, uitgespreek word.

Dan begin Rudi sing, en die ander val saam met hom in: “Lank sal hy lewe, lank sal hy lewe in sy gloria ...”

Net Jan, Maria en Boetjan sing nie saam nie, elkeen versonke in ’n ander gedagte. Die laaste “gloria” se galm hang nog wanneer Jan die oomblik wegstuur van sy somberheid: “Nou ja toe, dankie mense. Kom ons kry iets op die vuur en hou ’n paartie.”

Jan wil begin beweeg, maar Adriaan spring langs hom op. Adriaan is korter van gestalte as Jan, sodat hy na hom opkyk wanneer hy praat: “Jan, moet ek nie ’n paar van daai jong latte roep om die vleis te kom braai nie?”

Jan is in ’n sekere sin nog van die ou skool. As jy iemand oornooi na ’n braai, dan doen die gasheer die braaiwerk. Dit staan nie in die Bybel nie, maar kon netsowel. “Nee dankie,” sê hy tussen sy tande deur. “Dis my paartie en my braai, en net hierdie hande mag daaraan raak.”

Jan stap na sy vuurtjie – gemaak in ’n vlekvryestaal-kontrepsie wat hy nog self ontwerp en laat bou het. Jan se braaistyl is ’n mengsel van oud-Boers en moderne sjiek. Hy beweeg voortdurend tussen die lapa en die braaiplek. Op pad om die vuurtjie se kole uiteen te hark hoor hy hoe Rudi vir Bertus uitvra oor sy onderneming in Kanada en Rudi se antwoord oor die veertigpersent-aandeel wat hy die vorige jaar noodgedwonge aan ’n kollega moes verkoop. Hy hoor verskillende dinge in Bertus se antwoord oor die hoop wat hy het dat dinge nou van krag tot krag sal gaan. Maar hy ken die retoriek. Het dit in sy jong dae self ’n slag moes gebruik. Daarna te veel kere gehoor by mense wie se drome hul glans begin verloor het weens die aanslag van die realiteite van die ekonomie en die harde lewe. Die retoriek van iemand wat nie wil hê ander moet weet hoe ellendig swaar hy kry om net dinge aan die gang te hou nie.

“Ja-nee, dis nie ’n maklike ding om ’n nuwe besigheid te begin nie,” sê Jan, so in die verbygaan met ’n bak vleis op pad na sy rooster, “veral nie in ’n vreemde land nie.”

Terwyl hy eers die wors in die middel uitpak, hoor hy Antoinette se vraag of hulle dalk sal terugkom na Suid-Afrika. Hy weet hoekom Antoinette die vraag gevra het. Natuurlik bang vir Elna, die enigste van sy oorlewende twee kinders wat ’n sterk sakekop het.

Maar Bertus doof daardie vlammetjie. Hulle is gelukkig in Kanada.

Jan kyk op van die tjops wat hy uitplaas na Elna. Sy stem gewis nie met Bertus saam nie. Wat Jan nog meer verbaas, is wie dit is wat die ongemaklike stilte verbreek. Rika. Wat nooit betrokke raak by sulke gesprekke nie.

“En jy, Elna?” vra Rika.

Jan sien hoe al die koppe na Elna draai, hoe sy dadelik haar vrolike gesig opsit: “Ek’s baie gelukkig, dankie, tannie Rika. Dis maar moeilik in die begin. Mens ken niemand. Maar uiteindelik maak jy vriende en dan gaan dit beter.”

Nou weet Jan vir seker dat sy dogter vir iets skerm. So ’n standaardantwoord op ’n simpel vraag is nie iets wat sy Elna maklik pleeg nie. Die wors gee ’n rokie af wat Jan sy oë laat toeknip. Wanneer Antoinette weer begin praat, besef Jan dat sy dieselfde afleiding as hy van Elna se antwoord gemaak het. Maar hy, Elna se pa, sal so iets laat verbygaan en later probeer raad gee.

Antoinette, wat haar hele lewe lank nog in terme van bedreigings vir Adriaan se loopbaan gedink het, kan nie die kans laat verbygaan om Elna se ongemak voor almal te probeer vererger nie. “Wat mis jy die meeste?” vra sy kort duskant smalend.

“O, dit kan ek baie maklik antwoord: behalwe vir Ma en Pa en almal van julle ... ’n huishulp.”

Jan voel die trots in hom opwel. Sy dogter laat haar nie só maklik koudsit nie! Bertus tree ook vir Elna in die bres: “Gelukkig woon ons in die Eerste Wêreld – almal het elke arbeidsbesparings-gadget waaraan jy kan dink. Ons yskas bestel die kos.”

Terwyl Jan die vleis kans gee om die hitte te leer ken, neem hy ’n lang teug uit sy glasie whisky voordat hy weer langs Maria op die rusbank gaan sit. Hoe kan Bertus, ná soveel jare van getroud wees met Elna, so ’n elementêre fout maak en vir haar die gaping gee om tot die aanval oor te gaan?

En so is dit ook, dink Jan wanneer Elna se stem helder en ferm opklink: “Dis net jammer dat die vloere hulleself nie vee nie en die klere hulleself nie stryk nie en die beddens hulleself nie opmaak nie, nè, my man?”

Laat hulle wat slim is, hul bekke hou, dink Jan – maar Bertus gaan voort. “Klein prys om te betaal vir die wete dat dit nog alles daar sal wees as jy saans by die huis kom en jou kinders ...” Jan kyk na Elna, sien hoe die ontsteltenis haar gesig laat verhard, “... nog op straat kan speel in plaas van agter tienvoetmure en tralies.”

“Ag wat,” val Maria dadelik weg, “ons trek al laer vandat ons voorvaders die eerste keer voet op hierdie grond gesit het.”

“Hoewel die vrouens nou nie meer die roers hoef te laai nie,” sê Antoinette. “Ons druk net die panic button en laat die geveg aan Armed Response oor.”

Almal bars uit van die lag. Nie omdat dit danig snaaks is nie, maar omdat hulle weet dit is presies wat Antoinette sal doen.

“En dit, dames en here, is vooruitgang,” verklaar Jan.

Hierdie keer lag almal regtig hartlik saam.

Met die uitsondering van Ouma. Jan sien hoe haar hande na haar knieë beweeg en haar mondhoeke aftrek. “Maria, jy’t my kombers vergeet. My bene kry koud.”

Daardie neulstemmetjie! Jan wil opstaan, Maria ’n kans gee om te sit, maar sy lankmoedige vrou draai haar kop na hom, knik sodat net hy dit kan sien en staan op om die kombers te gaan haal. Sy gee haar wynglas vir Elna om te hou, amper asof sy die stokkie in ’n aflosspan aangee vir die een wat volgende moet praat.

“Ouma kan bly wees Ouma woon nie in Kanada nie,” sê Elna. “Dit word yskoud daar, vir maande aaneen.”

“Hoekom sou ek in Kanada wou woon?” Sy lag by haarself, verlore in haar eie manier van dink. “Laat ek jou een ding vertel, my meidjie: ek weet van dinge wat groei. Jy kan nie ’n volgroeide boom hier uit die grond uit ruk en daar gaan plant nie. ’n Boom se wortels praat met die grond waar hy groei, en terwyl hulle praat, verander hulle mekaar op maniere wat net God kan verstaan. Nou ruk jy hom uit en druk sy wortels in vreemde grond, en dan wonder jy hoekom hy vrek. Ek sal jou sê hoekom: want die wortels en daai vreemde grond praat nie dieselfde taal nie. Dis dié dat ’n boom staan waar hy staan. En as hy die dag aan die einde van sy tyd kom, dan vrek hy net daar waar hy gestaan het en word weer een met die einste grond waarmee hy gepraat het, wat sy taal geken het.”

Jan besluit om niks te sê nie. Mense maak aanmekaar die fout om Ouma te onderskat. Hy weet sy is ’n strategiese denker. Soos hyself. Hy kry dit waarskynlik van haar! Sy het waarskynlik goed gedink oor die manier waarop sy haar diepste gevoelens oor Elna en Bertus se emigreerdery kan uitdruk. Niks wat sy sê is ooit die weggooi-gedagtes van ’n seniele ou feeks nie. Die beeld wat sy gekies het om dit mee te doen, kan almal verstaan. Sy het waarskynlik ook deeglik beplan oor hoe sy Maria uit die geselskap kon wegstuur, sodat Maria nie op haar gebruiklike manier die boodskap kon versag met ’n vermanende opmerking nie.

Ouma se boodskap het die gewenste uitwerking. Almal is tjoepstil.

Adriaan lig sy glasie na sy lippe, oë wat net sy skoene raaksien.

Rika se blik is op, ja, waarop sou dit gerig wees? wonder Jan. Haar eie lewe?

Bertus staar nors voor hom uit. Hy weet met wie Ouma gepraat het.

Elna weer – Jan voel hoe ’n knop in sy keel begin vorm – Elna het ’n weemoedigheid wat nie met ’n sagte woord verwyder kan word nie.

Maria kom aan met die kombersie. Die stilte tref haar vol, soos ’n vlaag yskoue lug. Sy aarsel, maar trek die kombersie dan oor Ouma se skoot en bene. “Daar’s hy, Ma. Is dit nou beter?”

“Natuurlik is dit beter, anders sou ek nie daarvoor gevra het nie.”

Haar woorde laat Maria verstar waar sy, wynglas weer in die hand, pas sag langs Jan gaan sit het.

Sy kyk na Jan, haar oë vra: Wat nou? Hoekom moet ek dit verduur?

Jan se oë troos haar: Los dit, laat dit gaan.

Hy het gehoop dat hierdie dag sonder struweling sou wees. Jan glimlag vir homself – hoe dom van hom! Hy moes mos geweet het dat sy familie nooit anders kan as om getrou te wees aan hulself nie. Elke slag dat hy dink hy kan ’n bietjie selfsugtig wees, van hulle verwag om sy groot dag saam met hom te geniet, dan sal hulle maar weer wys hoeveel hy daarop kan staatmaak dat hulle presies dít sal doen wat hulle altyd doen. Adriaan – ja, Adriaan wat Jan altyd moet dra – wat dadelik opspring en sê hy het nog ’n dop nodig. Antoinette, die ewige aanhitser, wat by hom aansluit en Rika probeer aanhits om teen Rudi se wense in nog ’n glas wyn te drink, Rika wat ja sê, asof ...

Rudi plaas sy hand vermanend op haar been. “My liefling ...”

Rika kyk vir ’n oomblik na Rudi, buig die knie. “Weet jy, Adriaan, ek dink ek het eintlik genoeg gehad.” Sy lag verleë. “Netnou slinger ek hier rond.”

Antoinette is dadelik gereed om te por. “Rika, die dag as ek jou sien rondslinger, is die dag dat hierdie land weer ’n wit president het.”

Jan kom die kombuis binne met ’n groot bak vol gebraaide vleis. Maria is alleen daar, besig om opdienbakke uit te sit. Bakke vol slaai staan op die toonbank. Jan sit sy bak neer en Maria begin dadelik om dit oor te pak in die opdienbakke. Wanneer hy met haar praat, is dit in ’n sagte toon, een wat verskoning vra vir al sy ma se kwinterige opmerkings, sy liefde vir Maria onmiskenbaar. “Sal ek die pap solank uitvat?”

“Ja. En daar’s die sous.” Sy beduie hy moet oppas vir die warm bak, gee hom ’n lap aan om sy hande te beskerm, maar gee dit ook nie aan nie, sodat hulle staan en hande vashou.

Daar kom ’n stilte tussen hulle.

Maria kyk op na Jan, kommer in haar oë. “Wanneer gaan jy vir Elna en Bertus sê?”

Jan laat die sekondes verbygaan. ’n Kwelling laat sy hele gelaat versomber.

“Ek weet nie.” Hy skraap moed bymekaar, probeer die oomblik lig maak. “Oormôre, ná my verjaarsdag.” Hy haal sy skouers op, begin wegbeweeg, wil nie sien hoe die hartseer van Maria besit neem nie. Hy glimlag. “Maar eers hou ons partytjie.”

Jan stap uit met die sous.

Hy laat Maria agter met hul stilte.

Hartland

Подняться наверх