Читать книгу Hartland - Deon Opperman - Страница 19
Maria
ОглавлениеMaria staan in haar kombuis, vroetel met die vuil skottelgoed, maar kry nie orde geskep nie. Haar gedagtes is by Elna en die sluimerende hartseer by haar dogter. En natuurlik by Jan, wat sy geheim steeds probeer vertroetel.
’n Ou flarde musiek kom in haar gedagtes op, woorde wat sy só goed ken: Uit die blou van onse hemel, uit die diepte van ons see ...
Sy raak stil, haar gedagtes ver weg. Uit die blou van onse hemel, uit die diepte van ons see. Sy lewe al lank genoeg om te weet dat hoe die wêreld is en hoe jy wens dit moet wees, altyd twee verskillende dinge is. Sy weet ook dat die vooruitgang van ’n volk in sy mans sit en die oorlewing van ’n volk in sy vrouens lê.
Op die primitiefste vlak is dit ’n feit dat een man in nege maande soveel vrouens kan bevrug as wat daar dae in daardie nege maande is. Sy saad gesaai, is die man dan vry om te gaan kyk wat anderkant die berge lê, en bevorder hy, juis omdat hy vry is, die vooruitgang van sy volk. Aan die ander kant kan elke vrou net een keer in nege maande baar. ’n Man met baie kinders by baie vrouens sal naderhand sukkel om hulle name te onthou, maar elkeen van daardie vrouens ken haar kind, van sy eerste roering, soos ’n seeanemoon teen die rotswand van haar moer, tot sy uitstorting as mens op aarde.
Een vrou, een geboorte, baie vrouens, baie geboortes. Dis ’n eenvoudige som. Daarom dat ’n volk sal oorleef en vinnig vermeerder as daar meer vrouens is as mans, maar nie andersom nie. As jy ’n volk wil uitwis, vermoor sy vrouens.
’n Ma behoort nie gunstelinge te hê nie, veral nie onder haar seuns nie; hulle voel dit aan. Maar sy erken: Francois was – hoe sal sy dit stel – nader aan haar hart as Boetjan. Miskien omdat Francois so baie na sy pa gelyk het, of miskien omdat hy meer na haar geaard het. Waarskynlik al twee ...