Читать книгу Hartland - Deon Opperman - Страница 16

— XII —

Оглавление

“Nou ja, julle moet my verskoon, laat ek my battery so bietjie kan recharge.” Jan se woorde was die finale teken dat almal kan gaan doen wat hulle nou bitter graag wil doen – ’n bietjie slaap. Die gaste is weg. Ouma is in haar kamer. Neil lê al en snork op sy bed.

Die huis is stil. Elna is bewus van die geluide van ’n briesie deur die bome buite die huis. Nou en dan ’n getoet van ver weg, daar onder, waar die naweekverkeer ’n onverbiddelike tempo handhaaf.

Bertus en Elna het alleen agtergebly – die eerste keer dat hulle alleen is sedert hulle hul slaapkamer in Kanada verlaat het, hoeveel ure gelede? wonder Elna.

Dis ’n oneindig lange dag. Sy het met rukke en stote tydens hul vlug geslaap. Daar is altyd vreemdelinge binne ’n meter van jou af, en al sou Bertus of Neil ook binne daardie meter beweeg, voel dit altyd so, wel, openbaar. Blootgestel.

Elna is nie meer seker op watter dag en in watter tydsone sy haar bevind nie.

Die enigste ding wat konstant gebly het sedert hulle uit Kanada weg is, is die spanning wat tussen haar en Bertus lê. Sy weet, sy weet – één gesprek, een goeie gesprek, en hulle sal dinge kan regmaak. Sy is seker Bertus weet dit ook, miskien in sy onderbewuste eerder as voorop in sy gedagtes, maar hy weet dit. Dis net dat goeie gesprekke gewoonlik aan die gang kom as jy die regte sinjale sien en daarop reageer. Ignoreer jy daardie tekens, beteken dit uiteindelik dat jy die goeie gesprek by wyse van ’n woordewisseling agter die rug moet probeer kry. En dan is albei agterna vir mekaar kwaad. Dit los niks op nie. Soos die ure verbygegaan en sy probeer het om ’n vrolike front aan almal by haar pa se braai voor te hou, het sy net meer bewus geword daarvan dat sy én Bertus die sinjale met minagting laat verbygaan.

En maak nie saak hoe akuut dit nou is nie, soms moet sy op haar tande kners, of sy draai om en gee hom die klap wat hy verdien.

Nou weer. Elna huiwer op die rand van ’n uitbarsting. Wat besiel Bertus om ewe kameraadskaplik vir haar te vra wat dit met mense is wat altyd aan hulle wat geëmigreer het vra of hulle dit oorweeg om terug te kom?

Is die vent só afgestomp vir sy vrou se gevoelens? Is hy blind!

Elna staan ’n ruk met die laaste skinkbord vol vuil glase in haar hande en sit dit dan stadig, berekend sag, op die kombuis se werktafel neer. “Waarskynlik omdat hulle dink oor hoe hulle sou voel as hulle nie meer in die land van hulle geboorte leef nie,” sê sy.

“It irritates me,” antwoord Bertus, terug in sy Kanadese skedelspasie, “I’m going to lie down.” Hy kom staan agter haar, sit sy arms om haar lyf en laat sy slaap sag teen haar agterkop rus. “If I’m not mistaken it’s five or six o’clock in the morning for us. Neil has passed out.”

Elna hou hom terug: “Hoekom Engels met my, maar nie as my ma of pa by is nie?”

Bertus hou haar steeds vas. “Ek wil nie ’n issue daarvan maak nie.”

Elna draai haar kop skuins en sien hom die kamer uit met: “Ek’s nou daar.”

En tog rek die middag vir haar nog langer uit soos sy die kombuis aan die kant bly maak – uit gewoonte, soos ’n dogter in die huis van haar ouers maar doen, maar ook omdat daar ’n woede in haar kook wat sy liewer gesluk wil kry voordat sy by haar man in hul slaapkamer aansluit.

Oorweeg sy dit om terug te kom?

Elke dag, elke dag ...

Hartland

Подняться наверх