Читать книгу Hartland - Deon Opperman - Страница 14

— X —

Оглавление

Dis vir Neil moeilik om te sê hoekom dit vir hom so anders is hierdie keer. Hier sit hulle nou in oom Jan se jacuzzi, omdat Esmé gesê het hulle moet. Esmé, Gerhard, Vlooi en Elisabeth. Laas toe hy hulle gesien het, was Esmé nog ’n jong student en sou sy nie met die kinders gespeel het nie. Gerhard was toe meer sports as nou, lewendiger, minder, wel, wat noem mens dit, heilig? Nou sit hy net daar, sê nou en dan iets, en wanneer hy dit sê, is Esmé die enigste een wat kan verder praat. Hy is só depro. En Vlooi wil net politiek praat, heeltyd. En hy wat Neil is, wil net inhaal, nuus hoor, maar sy neefs en niggies is nie die soort wat sommer ’n once-over van hul lewensgeskiedenis gee nie.

Maar dis lekker!

In Vancouver kan hy nie eens drink nie, hy’s nog te jonk, maar Vlooi laat hom sy bier deel. Sy appelsap staan daar eenkant, in case sy pa verbykom. “Drop die bier in die water,” het Vlooi gesê, “die oomblik dat jy jou pa gewaar.”

Vlooi het hierdie ding wat hom krap. In die sitkamer was dit al soos in “ek sê julle” dit en “ek sê julle” daai. As dinge aangaan soos nou, is Suid-Afrika een van die dae nes Zimbabwe. Daar’s ’n dude hier, Ma Lêma of so iets. Hy’s Suid-Afrika se eie Mugabe, sê Vlooi. En dan gooi Gerhard sy nat kombers oor die issue: “Ja, maar wees nou eerlik – mense soos hy is ’n klein minderheid.” En dan gooi Vlooi soos in heavy sarcasm: “Iiiiis dit? Daai ou praat vir die jong swart massas, en daar’s miljoene van hulle. Die land gaan eers ’n ashoop wees voordat daai jong massas uitgefigure het hulle moes miskien na iemand anders geluister het. Dis wat met elke staat in Afrika gebeur het.”

In die sitkamer al was dit lekkerder om na Elisabeth te kyk. Wow! Laas het sy nog drade om haar tande gehad en het sy altyd sulke hemde met lang moue gedra. Lang moue saam met jeans! Jy’t nooit haar skouers gesien nie, laat staan nog daardie twee borste. En sy groei nog! Hulle is nog nie soos hulle eendag gaan wees nie. A mouthful of fun, sê die ouens in Vancouver.

Hy het maar met sy handdoek voor sy swembroek jacuzzi toe gestap en eerste ingeklim toe almal nog agter sy rug was.

Nou sit hulle hier. Vlooi mission oor AIDS en oorbevolking, Gerhard sê God het redes daarvoor, Vlooi moet óf met mense begin werk, óf iets anders kry om oor te worry.

Esmé, oh what a woman, kry dan nie die morbs soos Vlooi nie. “Gerhard, is dit dan nie God se wil dat Vlooi sulke dinge raaksien en ons waarsku daarteen nie?”

“Ja, maar wees nou eerlik, as mens alles só sien ...”

“Wat presies is wat jy doen ...”

“Ja, maar Esmé, wat ek bedoel is dat mens nie God se raadsplan moet bevraagteken nie.”

“Dis nie wat ek gedoen het nie,” sê Vlooi.

“Ja, maar ouens soos jy ...”

“Ouens soos ek?” Gelukkig begin Vlooi nou glimlag.

“Kyk,” gee Gerhard oor, “AIDS en oorbevolking en armoede en waaroor julle altyd kla, die werksetiek, dis nie dinge wat mens met die gebaar van ’n hand kan verander nie. Jy moet in die stelsel beweeg, gaan werk tussen die mense, soos ek ...”

Elisabeth se voet raak per ongeluk aan syne. Sy trek dit weg, maar haar glimlag kom oor die water, loud and clear. Sy soek nie hierdie politiek en godsdiens nie.

“Jy begin heeltemal te veel sinne met ‘ja, maar’, Gerhard,” hoor hy Esmé sê.

Hy wens hy sukkel nie so om aan die praat te kom nie. Wat hy ook al aan Elisabeth gaan sê, weet hy, gaan simpel klink.

Hy soek na haar voet onder die water. Sal ook per ongeluk wees.

“Nee, ou swaer,” sê Vlooi skielik in sy rigting. “Dis my been.”

Neil begin bloos, maar hy glimlag darem saam met die ander. Dit begin voel of hulle op dieselfde golflengte is.

Esmé is die eerste wat padgee. Neil kyk hoe sy in haar eenstuk-swempakkie uitklim. Pragtige lang bene. Spierwit van geen son kry nie. En dan volg Elisabeth haar. In haar bikini. Vlooi en Gerhard gesels oor verset. Maar love a duck! Check daardie lyf!

Sodra hy Esmé en Elisabeth uit die verkleekamertjie sien kom, Elisabeth nog met haar bikini aan, waag hy dit uit die water. Handdoek byderhand.

Hy stort deeglik. Sy pa het hom gewaarsku teen al die infeksies wat in jacuzzi’s leef.

Skielik sien hy haar gesig in die deur.

“Skuus. Ek’t nie besef hier’s iemand hier nie.” Elisabeth beweeg weer uit.

Neil kyk dadelik af om te sien wat Elisabeth sou gesien het. Hy bloos van voor af. Maar hy voel ook ’n opgewondenheid oor hom spoel – hy is seker sy het doelbewus ingeloer. Doodseker daarvan. Want hy het haar glimlag gesien voordat sy weer die deur toegedruk het.

Hy begin afdroog. Haastig.

Hy het pas sy bermuda aangetrek wanneer hy weer die deur hoor oopgaan.

Dis weer Elisabeth.

Met daardie glimlag!

Hy kan nie uitmaak of sy op die punt is om uit te bars van die lag en of sy die een of ander gevoel probeer onderdruk nie. Sy lyk so ... Wel hel, sy flirt met hom!

Neil besluit om haar rede te gee. Hy trek sy asem diep in sodat sy die resultaat kan sien van die ure wat hy in Vancouver in die skool se gym deurbring. Hierdie torso genoeg vir jou? dink hy.

“Ek hoop nie jy dink ek’s voorbarig nie,” begin sy, “maar ek wou net vir jou sê: laas toe ons mekaar gesien het, was ons wat? ... dertien, veertien ... en nou’s ons agtien. En ek wou net vir jou sê jy het intussen bleddie handsome geword. Ek weet jy’s my nefie, maar dit beteken nie ek kan nie so iets vir jou sê nie ... as ’n kompliment ... jy weet.”

“Dankie.” Wat anders kan hy sê terwyl hy weet, absoluut weet, dat sy daardie gestruikel oor woorde van haar vir maksimum dramatiese effek beplan het? Net vir hom! Sy is waaragtig besig om met hom te flirt.

“En in any case, ons is nie eers regtig niggie en nefie nie ... my pa is jou oupa se broer ... so, dis meer soos vriende.”

Neil se oë kom vir ’n oomblik tot rus op die pragtige borste van sy niggie wat eintlik sy vriendin is.

Sy sien dit raak, sê niks, haal net ’n slag diep asem om die effek te vergroot. “En ek wou net vir jou vra ...” gaan sy voort. “Ag, nou voel ek skaam.”

“Ja ...?”

Sy haal weer diep asem, maar kyk af, haar kakebeen effe uitgestoot, sodat sy hopelik tegelyk kuis en koketterig lyk. Neil voel weer uiter-­mate gevlei.

“Ek wou net vir jou vra: Dink jy ook ek het mooi geword?”

Neil antwoord dadelik. “Baie.” Jeez, dink hy, is dit al wat ek kan sê? “Baie,” sê hy weer.

“Jy’s so ’n sweetie.” Sy stap tot teen hom en gee hom ’n huiwerende piksoentjie op sy wang.

Hy voel haar borste teen hom druk.

Elisabeth kyk Neil diep in die oë, beweeg nie ’n sentimeter terug nie. “Ek’s so bly julle’t kom kuier.”

Nog het hy geen woorde nie. As sy nou nader staan, gaan hy moet toeslaan, of hy wil of nie.

“Anyway, ek wou net sê, sien jou nou-nou.”

Eers nou staan sy tru, maak die deur oop en glip uit.

Neil staar na die deur: “Wat de donner was dit?”

Hy kyk op in die spieël teen die muur. Hy gee vir homself ’n oorwinnaarsglimlag. Heeltemal te vroeg, weet hy. Maar by voorbaat.

Dan hoor hy Vlooi se stem, direk buite die deur. “En as jy nou so teen die deur staan?”

Elisabeth het nie weggestap nie! “Wat traak dit jou?” snou sy.

Dan raak dit stil. Het sy nou weggestap?

Hy hoor iemand aan die deur klop. “Besig!” roep hy.

Hartland

Подняться наверх