Читать книгу Hartland - Deon Opperman - Страница 4
Jan Cilliers
ОглавлениеJan Cilliers is die patriarg – maar hy hou nie van dié woord nie. Jan Cilliers is ’n strateeg. Die velle papier voor hom is vol met sy strategiese beplanning. Dít wat hy daar geskryf en geteken het, sal die lotgevalle in die komende maande bepaal van baie mense in die uitgebreide Cilliers-familie. Bloed en aangetroud.
Jan staan by een van die groot vensters in sy sitkamer, van waar hy ’n blik op die silhoeëtte van die wolkekrabbers van die middestad het. Dan draai hy van die venster weg, sodat mens reguit in die kommer in sy oë vaskyk:
“Ons almal verloor ... op die ou end.
“Maar dis nie waar ek wil begin nie. Ek wil eers besigheid praat. My vrou sou sê: ‘Hoe dan anders? Dis jou hele lewe.’ Waarop ek dan antwoord: ‘Hoe dan nie? Alles is besigheid.’ ”
Jan het ’n rustigheid in sy stem – waarskynlik danksy die baie jare wat hy al die pasaangeër in sy familie is. Maar as ’n mens fyn luister, kan jy die moegheid daarin hoor. Maar niemand sal hom betrap waar hy toelaat dat daardie moegheid oorgaan in moedeloosheid nie.
“’n Mens se lewe is ’n balansstaat. Jy het jou bates en jou laste – dit wat jy het en dit wat jy skuld. Aan die een kant is daar dit wat jóú dra, en aan die ander dit wat jy moet dra. En dit moet balanseer – ’n bate vir elke las en ’n las vir elke bate. Presies gelyk. Wanneer jy begin, is jou laste klein; jou bates ook. Maar met verloop van tyd word die getalle aan beide kante van daardie lyn al hoe groter – meer wat jou dra, meer om te dra.
“En dis waar die inkomstestaat sy bydrae maak – die dryfveer van die balansstaat. Want sonder profyt – of verlies – staan alles tjoepstil. Om ’n profyt te wys is eenvoudig – jou inkomste moet jou uitgawes oorskry, jy moet meer inkry as wat jy uitgee. Eenvoudig, maar nie maklik nie. Kry dit reg, dan wys jy ’n profyt en jou bates groei. Kry dit verkeerd, en jou bates krimp.
“En so is dit met alles: met geld, met die politiek, met die liefde – met die lewe self.”