Читать книгу Hartland - Deon Opperman - Страница 11

— VII —

Оглавление

Die hekwag laat hom dadelik deur toe hy sien dis Boetjan se motor. Seun van die eienaar, vrye toegang, geen formaliteite. Boetjan ry rustig, stadig in die lang oprit op. Twee jaar gelede, toe hy nog die probleem gehad het, sou hy met ’n getoet en ’n fanfare opgedaag het, joviaal gesuip. Maar hy is al vier maande droog. Steeds lewe hy van dag tot dag, maar hy is besig om sy stukkies terug te sit waar hulle hoort.

Hy parkeer sy 4x4 buite sig van die sitkamer en braaiplek. Wil graag vir Elna-hulle verras, maar ook sy entrance só maak dat hy nie onnodiglik in sy ma vasloop nie.

Net die gedagte daaraan laat die knop op sy maag vaster draai. Hy voel hoe sy mond droog word, die ou behoefte wat knaag. Die ou oplossing, genadiglik geen oplossing meer nie. Hy het sy verstand teruggekry.

En daardie gesonde verstand sê vir hom dat hy die dag moet vat soos dit kom. As daar ’n kans is, sal hy die ding met sy ma probeer bylê. Soos dinge gaan, is dit dalk vandag meer moontlik as ooit tevore. Miskien het hy ’n onregverdige voordeel omdat hy weet wat aan die gang is – maar dis nou hoe dit is. Mens kan tog nie die res van jou lewe op ’n kille afstand lewe van jou ma, dié persoon by wie jy die graagste liefde en erkenning wil hê nie?

Dit is presies dít wat Maria Boetjan ontneem het ná Francois se dood. Hulle het saam grensdiens gedoen, Boetjan en Francois. Destyds. Boetjan het teruggekom, Francois nie. En wat Maria betref, was dit Boetjan se skuld dat sy broer dood is. Sy pa kon – of wou – nie sy ma se smart vererger deur haar die waarheid te vertel nie. Die gesuipery het hom wat Boetjan is amper alles gekos. Maar hy het opgestaan. Hy word ’n wildplaasbestuurder, en al moet hy dit nou self proklameer, hy gaan die beste ooit wees. Sy ma sal niks daarvan dink nie, maar ook dít sal eendag verby wees.

Boetjan wens hy kan meer soos sy pa wees. ’n Harde sakeman wat alles strategies perfek beplan. Dis wat nodig is om sy pa en sy ma en die waarheid saam onder een dak te kry, maar hoe gaan hy dít bewerkstellig? Ongelukkig aard hy na sy ma. Hy kán ook strategies dink, maar sy hart is sy meester. En dan is daar ook nog die olifant in die kamer. Die olifant wat niemand nog raakgesien het nie, maar miskien het dit tyd geword, dink Boetjan. Die olifant en die waarheid saam onder een dak ...

Hy sien sy pa en Elna se Neil voor hom by die motorhuis instap. Sy pa is so verdiep in Neil se antwoorde dat hy Boetjan nie onder die prieel sien staan nie. Probeer waarskynlik om die ou bande met sy kleinkind so gou moontlik te herstel. Die jare het gevlieg. Sy pa kan in elk geval nie meer swaar dinge dra nie, en dis wat hy Neil nou laat doen. Boetjan kom rustig agterna. Hy hoor hoe Neil vir Jan vertel dat Bertus hom wysgemaak het dat hulle nie in Kanada braai nie. Neil het aangeneem dis omdat sy pa eintlik nie van braai hou nie.

“Dit sal die dag wees!” roep Jan uit terwyl Neil sy draggie hout langs die vuurmaakplek neersit. “Jou pa, mannetjie, was ’n bobaas-braaier, selfs beter as ek, al moet ek dit nou self sê.”

“Nie in Kanada nie, Oupa.”

Bertus kom vanuit die lapa aangestap, braaitang in die hand.

“Wat hoor ek nou dat jy nie in Kanada braai nie?” Boetjan kan aan sy pa se gesig sien dat hy Bertus nie gaan laat wegkom met kulturele moord nie.

“Ag nee wat, Pa. Die lewe is anders daar.”

Bertus ken die tekens nie, maar Boetjan weet – as sy pa só op sy tone gaan staan, is daar onweer in die lug.

“’n Vuur is ’n vuur en vleis is vleis. Dis ’n bleddie skande dat jou seun nie weet hoe om ’n braai te pak nie. ’n Braai is een van die steunpilare van die Afrikaner-kultuur.”

Boetjan begin nader staan. Hy kan nie langer só staan en afluister nie.

Jan sien hom uit die hoek van sy oog en draai dadelik weg van die vuurtjie. Hy staan nader, bly oor die afleiding wat aankom in die vorm van sy forse bruingebrande seun. “Boetjan!” roep hy. “Welkom. Welkom, my seun.”

“Dag, Pa.” Boetjan skud sy pa se hand, hou dit ’n ruk vas. Dan draai hy na Bertus. “Dag, swaer. Welkom terug. Lekker om julle weer hier te hê.”

’n Siel sonder bedrog, dink sy pa.

“Dankie, man.” Bertus wou “swaer” sê, maar dit kom moeilik.

Boetjan swaai na Neil. “Hell’s bells, jy’t gerek sedert ek jou laas gesien het.”

Neil is die ene tande soos die volle lading van sy oom se glimlag hom tref. “Ja, Oom.”

“Ja-nee kyk,” sê Bertus, “Elna koop skaars vir hom ’n nuwe broek, of die pype is klaar te kort. Jy lyk goed, swaer.” Boetjan se gulle reaksie op sy kind laat Bertus van sy eie vaste besluite vergeet.

“Onkruid vergaan nie.” Boetjan grinnik half ingedagte.

“Hoe gaan dinge daar in die wildtuin?”

“Wild!”

Hulle bars uit van die lag. Boetjan is daarvoor bekend dat hy nie maklik aan die gesels raak oor die dinge wat hom na aan die hart lê nie.

“Maar nie so wild soos hier in die stad nie,” val Jan in. “ Ek sê nou die dag vir Ma ons moet saam met Boetjan daar in die wildtuin gaan bly. Jy staan daar by die braai in die nag, om jou hoor jy die leeus brul en die hiënas roep, maar nêrens in die land voel jy so veilig soos tussen daardie wilde diere nie.”

“Dit kan ek glo.”

Vir Boetjan voel dit of die braai nou aan die gang kom – al het sy pa nog nie eens die braaihout, wat hy sorgvuldig opgestapel het volgens sy ou, beproefde braaihout-struktuur, aan die brand gesteek nie. Elna het Boetjan van binne die huis opgemerk en kom nou met arms wyd uitgestrek op hom afgepyl.

“Boetjan!” Elna spring in sy arms dat hy haar in die rondte moet tol om sy ewewig te behou.

Boetjan bêre sy gesig in haar nek van vreugde. Toe hulle mekaar laas gesien het, het Elna só teruggedeins van sy drankasem dat sy dit nie kon verduur dat hy haar ’n drukkie gee nie. Hy is dankbaar – nóg ’n brug wat herstel is deur nugterheid.

“Ooooooo, my broer, dis so goed om jou te sien!”

“En om jou te sien, sus.”

Sy gee hom ’n klapsoen op sy wang en staan dan terug, vee weer trane uit haar oë.

“Sien jy, Bertus, daar huil sy al weer?” sê Maria.

Boetjan kyk nou oor Elna se skouer na sy ma. Maria is minder gul teenoor Boetjan wanneer hy hom uiteindelik uit Elna se omhelsing losmaak. “Hallo, Ma,” sê hy eweneens stroewer.

Maria staar hom swyend aan. Geen soentjie nie. “Hallo, Boetjan.” kom dit uiteindelik sag.

Hartland

Подняться наверх