Читать книгу Hartland - Deon Opperman - Страница 17
— XIII —
ОглавлениеVlooi, die onrustige dwaler. Vandat hulle van oom Jan-hulle teruggekeer het, kan hy nie sy sit kry nie. Soek iets te peusel in die kombuis, maar trek sy neus op vir alles in sy ma se yskas en spens. Gaan staan voor die spieël in die badkamer en vind dat niks, maar absoluut niks, aan sy gesig verander het sedert hy dit die oggend goed in dieselfde spieël bekyk het nie. Iets hap aan sy skene en hy kan nie agterkom watse gedierte dit is nie. Maar hoe meer hy dwaal, hoe helderder sien hy die saak, en uiteindelik kan dit nie anders nie. Hy stap na Elisabeth se kamer, waar die deur soos gebruiklik toe is. Hy stap in sonder om te klop en gaan sit in die groot gemakstoel waarin Elisabeth haar gewoonlik drapeer. Vanmiddag lê sy egter plat op haar maag op haar bed en blaai deur ’n modetydskrif.
“Excuse me,” kom dit van die bed af, “wie’t gesê jy mag inkom?”
“Moenie dink ek weet nie waarmee jy besig is nie.”
Elisabeth blaai nog verbete deur die tydskrif. “Besig met wat?”
Sy draai nie na Vlooi nie. Hierdie manier van haar, om met hom te praat terwyl sy alewig met iets anders besig is, irriteer die hel uit hom uit.
As hy haar gesig kon sien, sou hy sien hoe sy haar frons oefen.
Vlooi staan op en stap nader, leun met uitgestrekte arms op die bed, en nou eers verwerdig Elisabeth haar dit om na hom te draai.
“Ek het gesien hoe jy met ou Neiltjie flirt.”
“Ag asseblief, man.”
Hy sal haar sewe uit tien gee vir verontwaardiging. ’n Bietjie meer woede, en dit kon nege uit tien gewees het vir ingehoue verontwaardiging. “Lyk ek vir jou soos ’n poephol? Huh?”
Elisabeth staan van die bed af op. Die verontwaardiging op haar gelaat voer ’n stryd met ’n trotse, skalkse glimlag, en die glimlag is besig om te wen. “Ek weet nie waarvan jy praat nie.”
“O, jy weet nie waarvan ek praat nie. Soos in wat het jy in die badkamer saam met hom gesoek? Huh?”
Elisabeth se masker wil-wil glip. Terwyl sy praat, sukkel Vlooi om te verstaan hoekom sy so glimlag, terwyl sy kliphard probeer om te klink asof sy haarself glo. “Ek het per ongeluk ingestap toe hy daar binne was, dis al.”
“Per ongeluk?”
“Oom Jan-hulle het nie Men- en Ladies-toilette nie, oukei?”
“En daarom het jy daar gestaan en glimlag soos ’n kat met room om die bek.”
“Katte kan nie glimlag nie.”
Sy is só duidelik besig om te lieg, maar Vlooi besluit om vir eers te retireer. “Sekere katte kan.” Vlooi wys waarskuwend met sy voorvinger na Elisabeth. “Ek watch jou.”
Hy stap by die kamer uit.
Elisabeth glimlag agter sy rug ingenome vir haarself.
Hierdie keer het sy gewen.