Читать книгу Elize Parker-omnibus - Elize Parker - Страница 10

6

Оглавление

Toe Adri die hospitaalkamer op Bredasdorp binnestap, kan sy skaars glo haar ma lê hulpeloos in die bed. Hettie was altyd so in beheer van enige vertrek waarin sy teenwoordig is. Sy staan vir ’n paar oomblikke langs die hospitaalbed, maar die verpleegpersoneel dui aan sy moet eers buite gaan wag totdat hulle klaar is.

Terwyl sy wag, onthou sy insidente op Zoetendal toe hulle met vakansie was. Daar was tog goeie tye – toe hulle kleiner was, voor Carine se geboorte en Pa Stefan se selfmoord. Sy raak skielik tranerig en sentimenteel.

Toe sy uiteindelik snikkend langs die bed staan, fladder Hettie se oë ’n paar sekondes lank oop.

“Ma, praat met my,” pleit sy. Dit lyk nie asof Hettie haar hoor nie. “Asseblief, Ma,” sê sy, vasberade om vir oulaas iets van haar te hoor. Hettie maak haar oë toe. En Adri weet sy sal haar nie weer hoor praat nie, al haal sy steeds vlak en hortend asem. Sy gaan sit bewegingloos langs die bed in die gryserwordende lig en kyk na Hettie. Nie eens van aangesig tot aangesig met die dood wys Hettie veel gevoel nie. Haar gesig sak bloot plooierig in haar gebruiklike afkeurende uitdrukking.

Hettie Keet sterf so onvergenoegd as wat sy geleef het.

Nelia, Emmie en Carine arriveer kort daarna. “Sy is reeds … weg,” sê Adri. Sy hou haar hand uit na die klein donkerkop. Carine gryp dit in hare vas en begin sag snik.

“Ek dink ons moet huis toe gaan,” sê Emmie. “Dit sal die beste vir almal wees.”

Tuis neem Emmie oor en help om simpatiserende vriende te ontvang, beantwoord die telefoon en sorg vir aandete. Sy gee vir Nelia en Adri elk ’n kalmeerpil en kry Carine in die bed. Veel later maak sy seker dat hulle slaap voordat sy die trap na die solder neem. Haar flits glip oor die deurmekaar vertrek vol weggooigoed: ou babawaentjies, beddens, gebreekte spieëls, tuingereedskap en ’n ou spieëlkas. Eenkant staan ’n klomp kartondose in netjiese rye. Een van die boonstes is halfoop en delikate baba­kleertjies steek daaruit. Emmie krap daarin. Die voorwerp wat sy soek, sal nie op ’n ooglopende bewaarplek wees nie. Sy krap ook deur die kartondose. Na ’n paar minute stap sy oor na die ou spieëltafel. Met nuwe energie ruk sy die laaie oop en krap deur die ou briewe, rekeninge, katalogusse en pamflette wat daarin lê.

Skielik klink daar stemme onder uit die huis op. Sy sit die flits af en staan stil in die donkerte. Adri maak die voordeur oop. Emmie het nie gedink iemand sal nog so laat kom simpatiseer nie. Die gewoontes van plattelanders is lankal uit haar kop gewis. Die besoeker vertrek gelukkig gou en Adri gaan kruip weer in. Emmie haas haar van die solder na haar kamer. Haar vrugtelose soek­tog laat ’n bitter smaak in haar mond.

Hettie is toe, soos Stefan, na haar graf met ’n geheim.

Carine se hand rus stewig in Adri s’n toe hulle die sitkamer die dag na Hettie se begrafnis binnestap. Die enkele stoele is reeds gevul deur Hettie se jare lange huishulp, haar beste vriendin, die predikant en Emmie. Agter die breë geelhouttafel staan Gert Lubbe, Hettie se prokureur. Adri en Nelia knik hulle koppe in sy rigting en gaan sit in die verste hoek. Adri plaas haar arm om Carine. Haar smal skouer­tjies bewe liggies. Sy weet regtig nie hoekom hulle die kind by die lees van Hettie se testament moes insleep nie.

“Ek het voor my die laaste testament van Hettie Keet. Ten eerste die begunstigdes wat nie familie is nie.” Hy praat met Tryntjie, Mavis en ds. Taljaard en noem die bedrae wat onderskeidelik aan hulle bemaak is. Die groepie maak hul eie reëlings met die prokureur en vertrek.

Nadat hulle vertrek het, blaai Gert na die volgende blad­sy van die testament en lees daaruit voor. “Al my meubels, juwele, klere, boeke, skilderye en eiendom in my besit, moet deur die eksekuteur van my boedel van die hand gesit word. Die opbrengs daarvan moet tesame met enige aandele, polisse en kontant in ’n trust gehou word. Hierdie geld sal in trust gehou word vir die opvoeding van Carine. Dit kan vir haar gebruik beskikbaar gestel word aan haar voog, Emmie Berger, na die goeddunke van die eksekuteur. Aan my dogters, Adri en Nelia, bemaak ek die strandhuis op L’Agulhas soos deur my man in sy testament bepaal. Die strandhuis mag net verkoop word nadat Carine mondig geword het en met al drie se instemming.”

Moenie dink julle sal ’n sent van my sien nie. Hierdie woorde het Hettie so dikwels herhaal dat Nelia geweet het wat Gert Lubbe gaan sê voordat hy dit nog gesê het. Nogtans is dit ’n skok. Om die strandhuis op L’Agulhas te erf, beteken niks vir haar nie. Sy sal nie weer haar voete op die terug-na-niks-dorpie sit nie.

Adri kyk verbysterd na Nelia, maar soos altyd is haar gesig uitdrukkingloos. Adri het nie verwag dat Hettie enig­sins iets aan haar sou bemaak nie, maar dat Carine onder Emmie se voogdyskap geplaas sou word – dit het sy glad nie verwag nie.

Nelia is bly Carine het ’n tuiste. Sy was doodbang sy sal verantwoordelik wees vir Carine. In hierdie stadium van haar lewe sal so iets haar eie toekomsplanne in die wiele ry. Sy voel vir die eerste keer asof sy baas van haar eie lot is en of sy die potensiaal het om haar drome te bewaarheid. Hettie se afsterwe raak haar nie werklik andersins nie. Sy is steeds te intens bitter oor jare en jare se onuitgesproke verwyte.

Gert Lubbe maak verskoning en stap uit. Emmie staan op om hom by die deur te gaan groet. Toe sy terugkom, plaas sy haar hand op Carine se kop. Sy maak haar keel skoon.

“Ek dink geensins daaraan om Carine van julle te vervreem nie. Ek weet dit sal haar hart breek. Wat ek in gedagte het, is dat julle voortgaan in die diens van die Hotel Woltemade en saam met my en Carine in my huis in Oranjezicht intrek. Daar is meer as genoeg plek vir ons almal.”

Iets ontbreek Emmie soos wat sy daar staan, dink Adri. Die warmte van ’n ma. “Carine behoort hier in die platteland op ons tuisdorp groot te word. Nie aan ’n spogskool in die stad nie.”

“Ek wil doen wat die beste vir julle al drie is. Bly by my en julle is bymekaar. Skei julle weë nou, weet julle dalk nie wanneer julle ooit weer kan saamwoon nie.”

Adri kniel voor Carine. “Wat wil jy hê, Carine? Waar wil jy grootword?”

Wat werklik in haar gedagtes omgaan, sou niemand weet nie. Sy sug asof sy op ’n magiese teken wag. Hettie se dood is ’n verwarrende waarheid. “Miskien is dit die beste vir ons almal by Emmie.”

Verligting vloei deur Emmie. Vir die eerste en die laaste keer sien die Keet-susters hoe trane oor haar wange afloop toe sy Carine in haar arms neem. Sy sal haar ewig dankbaar wees vir haar antwoord en sorg dat sy kry wat haar toekom.

Elize Parker-omnibus

Подняться наверх