Читать книгу Elize Parker-omnibus - Elize Parker - Страница 17

13

Оглавление

Nelia kyk belangstellend na die Bosveldlandskap rondom haar. Die Magaliesberg se kranskoppe verskil drasties van die sagte groen Overberg-heuwels van haar kleintyd. Die Bosveldreuke is ook vreemd: die soetskerp reuk van boorde lemoenbloeisels is nuut vir haar. Selfs die Magaliesberg se rotsagtige klowe, waar Peter Becker se luukse konferensiehotel tussen heuwels nestel, is anders as die Overberg se diepgroen klowe.

Peter het sy woord gestand gedoen. Drie dae na haar herrie met Emmie is sy deur sy groep na Johannesburg opgevlieg vir ’n werksonderhoud. Kort daarna is sy aangestel as konferensiebestuurder van hul Bosveld-konferensiehotel, die Cosmos Safari Lodge.

Hier kan ek my drome gestalte gee, dink sy toe hulle by die hotel aankom en die bestuurder, Denise Wicht, haar met ’n glimlag tegemoetstap. Die vrolike donkerkop neem haar na haar kantoor. Bestuurders en ander personeellede kom en gaan tydens hulle gesprek. Nelia kan sien dat haar lewendige swartkopbaas daarin belangstel om haar werknemers se potensiaal te ontgin.

Veel later stap sy na haar klein woonstel. Die Lodge se geboue is tussen tropiese tuine uitgesprei. Die tuine is ’n kleurespel van plante: hibiskusbome staan rooi in die blom en bougainvilleas vleg fuchsia-pers deur die doringbome. Agter die hotel kronkel looppaadjies bergop.

Nelia sak moeg op die bed in haar eenvertrekwoonstel neer en raak dadelik aan die slaap. Veel later staan sy op en pak haar tasse uit. Sy dink sy gaan ’n geruime tyd hier werk. Onder iemand soos Denise Wicht sal sy vinnig vorder. Daarna kan sy alles in die stryd werp om vinnig in die groep opgang te maak. Sy is bereid om haar rug te breek om Emmie Berger te laat betaal vir die dag toe sy haar uit die Hotel Woltemade se diens ontslaan het.

Sy maak haar gereed vir haar ete-afspraak met Denise en stap na die eetkamer onder ’n vol Bosveldmaan. Sy staan stil om ’n oomblik na die maanverligte toneel te kyk. Oor so ’n hotel wil sy eendag septer swaai.

Nelia en Denise sit rustig in die Mabula-restaurant en proe aan die sjef se nuwe dis: smaaklike volstruisskywe.

“Gaan jy die Kaap mis?” vra Denise toe hulle na ete koffie drink.

“Glad nie. Ek hou van nuwe uitdagings.”

“Ek’s bang jy raak verveeld hier by ons. Nie dat jou portefeulje ooit rustig raak nie. Jy klink net vir my na ’n stukkie weerlig. Peter Becker was baie beïndruk met jou. Min mense beïndruk hom.”

Nelia lig haar wenkbroue. “Mnr. Becker het my op die verkeerde voet betrap. Ek moes die beste van ’n slegte saak maak.”

“Peter hou van mense vol inisiatief. Ek ook. Wys my waartoe jy in staat is en ek maak jou ’n assistentbestuurder. Ek is seker jou tyd by die Woltemade het jou daarvoor voorberei.”

Nelia is stil. Sy wil nie aan die Hotel Woltemade dink nie. Charmaine het onder druk haar saak teen Zane Randall laat vaar. Nelia was seker dit was deur Emmie se toedoen. Maar sy is nie spyt dat haar moontlike oorreaksie op die voorval haar lewenskoers drasties verander het nie.

Al wat saak maak, is werk en nogmaals werk. Die volgende paar maande breinspoel sy haarself met dié motto. Vir eers skuif sy haar persoonlike lewe opsy. Sy skryf af en toe aan Carine en stuur poskaarte vir Adri na Zoetendal. Soms voer hulle bolangse telefoongesprekke. Vreemd dat Zoetendal vir Adri ’n toevlug is. Sy wil self nooit weer die huis sien nie.

Denise steun al hoe meer op haar. Nelia lei af dat vroue die krag agter die Cosmos-groep se suksesverhaal is. ’n Groot getal het as juniors by die maatskappy aangesluit en is in bestuursposisies deur Peter Becker geplaas. Daar is vele geleenthede om haarself te bewys. Sy gaan beslis daarvan gebruik maak.

Na ’n besige jaar op die korporatiewe konferensiekalender breek Kersfees aan. Nelia koördineer die vakansieprogram en sien toe dat gaste en hul kinders op die hande gedra word. Sy reël aërobiese klasse, perdrysessies en pieknieks onder die doringbome.

Na dié dol vakansieseisoen eet sy op Denise se uitnodiging ontbyt saam met haar op die hotelpatio. “Geluk,” sê Denise na die maaltyd en stoot ’n goue plaatjie na Nelia waarop daar Assistentbestuurder staan.

Nelia neem die plaatjie in haar hand en speel daarmee op haar handpalm. “Dis ’n verrassing!”

“Dit is welverdiend. Jy het jouself bewys. Nou móét jy ’n ruk uitspan. Sit asseblief verlof in.” Denise staan op, klap haar gemoedelik op die skouer en stap weg.

Nelia speld haar naamplaatjie aan. Sy het haar eerste trappie op die leer van sukses in die Cosmos-hotelgroep bereik. Sy is gesond en vol ambisie. Sy weet wat sy mettertyd wil bereik: ’n bestuurstoel in Suid-Afrika se grootste hotelkettinggroep. Daarmee saam die vermoë om die Hotel Woltemade in die Cosmos-groep op te neem en onder Emmie Berger uit te koop. Emmie Berger moet dieselfde verlies ly as wat sy gely het. Dit is al wat haar bitterheid sal genees.

Elize Parker-omnibus

Подняться наверх