Читать книгу Elize Parker-omnibus - Elize Parker - Страница 20

16

Оглавление

Bykans ’n jaar na Max se werksaanbod klim Adri om middernag moeg in die verlate swembad van die Toristo Hotel Bergsig. Die enigste bewegings op die water is die rimpelings om haar egalige kruipslaghale. Hierdie laataandswemsessies is die grootste pluspunt van die afgelope maande se harde werk om die warmwaterbronhotel ’n nuwe voorkoms te gee. Hierna gaan sy soos gewoonlik inkruip en goed uitrus. Sy het vanaand ’n lewensbelangrike afspraak met Max.

Die eienaar van ’n kwilt- en materiaalwinkel in een van Kaapstad se spogwinkelsentrums het na ’n naweek in Hotel Toristo Waenhuiskrans haar fabriek in L’Agulhas besoek en verskeie bestellings geplaas. Hulle het sommer van die eerste dag af goed klaargekom en Adri het gereeld persoonlik vir haar bestellings deurgeneem. Nou is sy ’n aandeel in die winkel aangebied.

’n Kwilt-cum-materiaalwinkel – nie die vertrekpunt wat sy vir haar besigheid in gedagte gehad het nie. Tog, ’n goeie begin vir haar eerste interieurwinkel. Moontlik ook die begin van ’n nuwe verhouding met Max. Tot dusver was hulle net goeie vriende. Soms het hy onaangekondig by die fabriek opgedaag. Gewoonlik het hulle oor die fabriek se groei en projekte gesels. Soms het hulle Suiderstrand besoek. Mettertyd het sy hom al hoe meer na Zoetendal genooi. Vanaand ontmoet hulle juis weer by Zoetendal. Hy is genooi om haar mees onlangse voltooide werk te kom besigtig – met goeie rede!

“Verkoop die skildery aan my? Asseblief?” is Max se eers­te woorde toe hy die aand voor die skildery staan.

“Jy hoef nie die skildery te koop nie. Dis jou geskenk! Sommer om dankie te sê vir alles.”

Max kom staan voor haar en sit sy hande op haar skouers. Sy warm hande streel oor haar kaal arms. Vinger vir vinger skuif hy sy vingerpunte nader aan haar skouerkuiltjie. Met sy duime trek hy die lyne van haar skouerbene na. Al langs haar borsbeen soek hy haar polsslag in haar nek. Toe hy dit vind, plaas hy sy lippe vir ’n oomblik daarteen.

Buite verdonker die grys horison tot ’n staalgrys. Die wind sidder om die huis. Die vuurtoring se ligbane soek-­soek die donker nag deur na skepe. Adri neem die om­ge­wings­­veranderinge bewustelik en onbewustelik waar. Ontspan, maan sy haarself. Dit is makliker gesê as gedaan. Vir die eerste keer sedert Richard se aanrakings, liefkoos ’n man haar weer.

Max voel die spanning aan. Hy laat haar stadig gaan en stap na die skildery. “Ek is bly jy is nie meer so gedrewe nie.”

Min weet hy … dink Adri en sluk hard aan die knop in haar keel. Nou is die oomblik … vra hom! “As ek ’n ooreenkoms met jou aangaan, sal jy my help om ’n winkel in Claremont te koop?” vra sy selfbewus.

“Kan jy geld daaruit maak?” vra Max met ’n opgetrekte wenkbrou. Sy sal nooit ophou om hom te boei nie. Nes hy dink hy verstaan haar, dan kom sy met iets nuuts na vore.

“Nie onmiddellik nie … eers wanneer ek die winkel verander het na ’n interieurwinkel. Voorlopig sal dit egter as ’n goeie wegspringblok dien.”

“Wegspringblok waarvoor?” vra hy verbaas.

“My winkels … daar gaan ’n paar wees. Interieurwinkels met die Fraiings-stempel – vol produkte uit my fabriek, my eie gedrukte Fraiings-materiale en -muurpapier …”

“Hokaai! Een droom op ’n slag. Wanneer kan jy my die winkel gaan wys?”

“Ek sal die naweek vir samesprekings met die huidige eienaar, Janet Abrahams, in Kaapstad wees. Ken jy haar?”

“Ek ken jou. Dis goed genoeg vir my. Hoeveel kapitaal het jy nodig?”

Sy noem die koopsom en kyk versigtig na hom. Hy knik instemmend. “Klink billik. Ek dink ek kan finansiering daarvoor vir jou reël.”

“Hoe gaan ek jou bedank?”

“Maak geld en betaal my terug. Met rente.”

Adri kan aan nog ’n manier dink. Sag soos die duifgrys reën buite, val haar eerste soen skrams teen sy wang. Begeerte vermeng op hul lippe totdat sy met haar tongpunt sy mond oopdwing en sy mondhoeke se klam wande vind. Met ’n kreun trek hy haar nader en soen haar totdat al die vrese tussen hulle verlangens word.

“My fynbosmeisie,” fluister hy.

“My gelukgsgodjie …” fluister sy laggend terug. Sy trek sy kop weer af na haar gesig en soen hom met maande se ingehoue emosies. Die salige gevoel om vasgehou en gesoen te word, laat haar van haarself vergeet. Max se donker hare krul sterk en weerbarstig in haar hande. Sy gevoelvolle lippe op hare is klam en sy hande lok langvergete lyfwaarhede uit. “Kom,” sê Adri en neem hom na die slaapkamer.

Reën druis teen die vensters. Vuurtoringstrale verf die mure met ’n grysgeel kwas. ’n Perfekte palet vir passie.

Max knoop selfversekerd Adri se rok los en laat dit van haar skouers gly. “Jy het sulke mooi skouers.”

Adri se soepel vingers maak sy hemp los. Sy vroetel in sy krullerige borshare. Lank het sy vir dié oomblik gewag wanneer sy gereed is om ’n man weer met volle oorgawe te bemin.

“Bemin jy my nie uit dankbaarheid nie? Oor die winkel en so aan nie?” vra hy. Sy selfvertroue is vir ’n oomblik laag. Haar naakte lyf lyk so jonk en ferm teen syne.

“Oordeel self,” sê Adri en trek hom tergend op die bed neer. Die lakens se koel sagtheid kreukel om haar borste. Sy spons die milde weelde van sy liefkosings op, ervaar sy smeulende koestering met ’n vlammende drif. Hulle lywe strengel ineen. Sluimerende begeertes in Adri word ’n stuwende krag. Sy wil haar desperate hart se wonde genees.

Ses maande na hulle eerste liefdesnag sit Adri en beplan die openingsaand van haar nuwe interieurwinkel. Rondom haar woel en werskaf dit. Skrynwerkers sit steeds nuwe rakke in. Verwers rol lae verf aan. Daar is nog heelwat skaafwerk nodig om te sorg dat die winkel soos ’n gesofistikeerde interieurwinkel lyk. Sy sit self af en toe hand by. Vandag móét sy haar lessenaarwerk takel. Sy oorhandig die fabriek se vol kartondose aan ’n assistent en verdwyn na die kantoor agter in die winkel.

Sy begin deur die antwoordkaartjies vir die openingsaand te liasseer. Die room van die Kaap se sosiale elite het laat weet hulle kom. Sy skuif ’n paar rolle materiaal eenkant om die skril luiende telefoon te vind. “Tassles. Adri Keet, goeiemôre …” Fraiings het ter wille van sy ligging in ’n oorwegend Engelse koopbuurt, en Adri se droom om uitvoerprodukte te maak, Tassles geword.

“Wie sou dink jy is astrant genoeg om my na jou winkelopening uit te nooi?” Adri luister geskok na Emmie se baasspelerige stem.

Haar vennoot het die gastelys opgestel. Adri het vlugtig daarna gekyk – te vlugtig, blyk dit. As sy Emmie Berger se naam daarop gesien het, sou sy dit uitgekrap het. “Moenie jouself vlei nie. Ek en my vennoot bestuur Tassles saam. Jy was op haar lys.”

“Jy het my stoutste verwagtinge oortref. Ek het altyd geweet jy het talent, maar ek het verwag jou hormone sal in jou pad staan. Jy het seker gehoor Richard het gou afgehaak nadat jy weg is.”

Adri klem haar hande saam. Sy wéét hy is getroud. Hoekom ontstel dit haar om die nuus uit Emmie se mond te hoor? Oor die “gou”? “Hoe gaan dit met Carine?”

“Uitstekend. Ons is op pad Londen toe.”

Adri hou lighoofdig aan haar lessenaarrand vas en voel die trane in haar keel brand. Die telefoon klik in haar oor toe sy stadig die knoppie indruk. Sy sien nie langer kans om met Emmie te praat nie.

Het sy regtig gedink sy kan terugkom Kaapstad toe, Richard en Carine kontak en voortgaan waar hulle opgehou het? Richard is baas van ’n groot hotelgroep en getroud. Hy is meer as ooit vantevore buite haar bereik. En Emmie het Carine teen haar en Nelia gedraai. Sy haal diep asem en pak die rolle muurpapier een vir een weg. Die opium van werk. Vir haar is dit die enigste doepa teen emosionele pyn.

Elize Parker-omnibus

Подняться наверх