Читать книгу Elize Parker-omnibus - Elize Parker - Страница 8

4

Оглавление

Toe Adri en Nelia die eerste dag vir diens aanmeld, druk Emmie hulle in ’n kantoor agter die ontvangstoonbank in. Hulle taak is om aan hotelgaste se versoeke en wense te voldoen, soos om te reël dat gunstelingdrankies en etes beskikbaar is en dat vars blomme en vrugteruikers in die kamers geplaas word. Selfs detail soos teaterkaartjies, jellielekkers op ’n bedtafeltjie vir ’n gereelde besoeker en haarafsprake word hulle verantwoordelikheid.

Nelia hanteer die versoeke met sjarmante doeltreffendheid, maar na ’n paar weke vind Adri dat die gedurige wisselwerking met mense en al hulle grille en nukke haar rasend maak. Sy raak gou in die gewoonte om afknypuurtjies met haar sketsboek in die orgideëhuis te gaan skuil om haar frustrasie weg te werk.

Richard hou haar dop en sien gou die patroon van haar dae raak. Hy sluit een middag by haar in die orgi­deëhuis aan met ’n koppie koffie in die hand. “Ek het self ’n wegkruipplek vir ’n paar oomblikke nodig. Gee jy om?”

Hy leun met sy rug teen die glasmuur. Dit is die eers­te keer sedert hulle eerste ontmoeting dat hulle alleen is. “Na­tuurlik nie. Maak jou tuis.” Hy neem op ’n tuinbank oorkant haar plaas. Adri skets stil voort, al is sy oorbewus van die grasieuse manier wat hy sy bene kruis.

“Maak die gaste jou mal?”

“Is dit so opvallend?”

“Nee … ek kan my net nie voorstel dat iemand met ’n kunstenaarstemperament dit geniet om agter mense aan te hardloop nie.” Hy hou sy hand uit vir haar sketsboek en gee dit terug met ’n waarderende glimlag. “Ek het vir jou ’n stukkie goeie nuus … ons gaan binnekort die hotel se interieur ’n nuwe baadjie gee. Iemand sal van ons kant af met die binnenshuise versierder moet skakel … jy weet, besluite oordra en so aan. Dis iets nader aan kuns as toonbankwerk. Is jy lus daarvoor?”

“Ek sal mal wees daaroor. Ons het tekstielontwerp en binnenshuise versiering in ons kursus gehad.”

“Ek sal by Emmie hoor of dit reg is.”

Emmie se naam bring haar terug tot die werklikheid. “Los dit liewer. Sy gaan nie van die gedagte hou nie.” Adri mik na die deur. Hy skiet sy arm uit, keer haar galant en draai haar na hom in ’n vlugtige omhelsing. Sy maak haar los daaruit. ’n Onbestemde verlange word in haar wakker. Haar laaste werklik driftige omhelsing was voordat Hugo Weermag toe vertrek het. Dit voel soos ’n ewigheid gelede.

“Waarvoor is jy bang? Dat jy jou werk sal verloor?”

“Ek gee nie juis om nie. Ek wens ek was liewers by ons strandhuis op L’Agulhas agter ’n esel besig om seetonele te skilder,” sê sy en stap vinnig na haar kamer.

“Jy lyk gedaan,” sê Nelia toe sy hulle kamer binne­stap.

Adri druk twee vingers teen haar slape. “Het jy ys?” vra sy toe sy op die bed gaan lê. Nelia pak ’n waslap vol ys en hou dit teen Adri se kop. Hulle is gewoond om mekaar se spanningshoofpyne te behandel.

“Wie het jou omgekrap?” Nelia skuif die yspak na die agterkant van Adri se kop.

“Richard.”

“Ek kon dit seker geraai het. Moenie in sy valstrik trap nie, Adri. Richard is vir Emmie soos ’n seun. As jy met hom lol, gaan jy sleg tweede kom.” Nelia trek die yspak weg en staan voor Adri met gevoude arms. “Ons het ’n kans gekry om ons omstandighede te verander. Ek wil nie die kans verbeur nie. Ek sal jou nooit vergewe as jy dit ruïneer nie.”

Adri lig haar ken en vee met haar vingers oor haar wenkbroue. “As jy net meer dikwels jou kop en jou hart kan verloor en mens word, sal jy ook iets vir ’n man kan voel.”

Nelia byt haar onderlip. “Adri, asseblief … los Richard uit. Hy is veels te wêreldwys en ervare vir jou. Hy het twee kante aan hom. Jy het nog net sy sjarmante kant gesien. As jy hom eers leer ken, sal jy agterkom hoe buierig en afsydig hy kan wees.”

“Wil jy hom vir jouself hê? Is dit dalk waaroor hier­die gesprek gaan?”

“Moenie bog praat nie. Ek is net moeg,” sê Nelia kortaf. Sy stap uit die vertrek en Adri hoor die badkrane word oopgedraai. Adri draai om en maak haar oë toe. Sy haat Nelia se sesde sintuig, want dit voel soms asof haar suster al haar geheime ken. Boonop is sy so brutaal eerlik daaroor. Sy wens sy kan Nelia skud sodat sy haar ysprinseshouding verloor en ’n bietjie gevoel wys.

Die volgende dag lyk dit asof haar wens waar geword het.

“Hoe kon jy dit aan jouself doen?” skree Nelia op haar toe sy na afloop van hul dagskof die kamer binnekom. Sy het gehoor Adri het ’n afspraak met Richard.

“Kalmeer, Nelia. Dit is ’n sakeafspraak. Richard het dit reggekry om my uit die vaal kantoor te kry. Ek gaan in die toekoms die skakelpersoon wees tussen die binnenshuise ontwerper wat die nuwe voorkoms vir die hotel doen en die hotelbestuur. Vanaand gaan Richard my aan Nelis Mouton, die ontwerper, voorstel. Van volgende week af hardloop ek agter hom aan en nie agter die diere en onverstaanbare buitelanders nie.”

Sy klap die deur toe en stap na die orgideëhuis, waar Richard op haar wag. Hulle vertrek dadelik na Llandudno waar Nelis se huis teen die koppie lê, en besluit om eers op die strand na die ondergaande son te gaan kyk.

Reusegolwe sif fyn sproei oor hulle neer terwyl hulle strandlangs stap. Richard vee die druppels van Adri se gesig en skouers af en laat sy vingers op haar nek rus, sy vingerpunte sagter as ’n kwashaal. Adri word meegesleur deur gevoelens wat sy nie mooi verstaan nie.

Ver op die horison sak ’n bottergeel son lui in die see. Sy draai na Richard en glip haar arms om sy nek. Haar hande dwing sy kop na hare. Sy anker haar teen sy bors en verf prentjies teen sy lippe met haar tong.

Sy handpalm vryf al langs haar rug af totdat dit in die holte van haar rug tot ruste kom. Vol selfvertroue glip sy hande om haar kurwes.

Sy plaas haar hand agter sy nek en trek sy kop af totdat hulle oë ’n vingerspasie van mekaar rus. Haar tong kruip weer uit en lê lig soos ’n skaduwee op sy lui onderlip. In­dien sy enigsins langer teen hom staan en voel hoe haar onderlyf onwillekeurig na hom dwing, gaan sy iets onsinnigs doen. Met ongeduldige vingers maak sy Richard se hempsknope los. Sy leer haarself met toe oë hoe hy onder haar vingers voel: die spiere oor sy middellyf is hard, fyn hare krul om sy naeltjie en die dun vel oor sy borsbeen is effens klam. Sy bring sy mond weer na hare en laat haar lippe die rypheid in syne proe.

Sy weet daar is geen omkeer meer nie. Die rou, aardse begeerte tussen hulle is onafwendbaar daar.

Skielik, sonder waarskuwing, hou sy op om hom te liefkoos en hou sy hom ’n ent van haar weg. “Wat is fout?” vra hy verbaas.

“Ek het my voorgeneem om nie vanaand op jou verlief te raak nie. Daar het net mooi niks van gekom nie.”

“Jy het nie ’n kans gehad nie. Ek het my voorgeneem om jou voete vanaand onder jou uit te slaan.”

“Almal waarsku my teen jou.”

Hy laat haar uit sy omhelsing gaan.

Hy staan so stil soos ’n sfinks. “Dit hoor jy seker by die liewe Nelia. Wat het jy nog gehoor? Dat ek oor lyke sal loop om ’n miljoenêr te word? Dat ek ’n genadelose hartebreker is?”

Adri voel onseker en kwaad vir haarself omdat sy die oomblik so bederf het. “Ek dink jy bluf baie mense.”

“Moenie jouself ’n rat voor die oë draai nie. Ek is dalk nog meer arrogant as wat jou raadgewers reken.” Sy stem is hard en ernstig. Hy stap kop onderstebo terug na sy motor.

Adri lig haar kop op en kyk moedeloos na die stil horison. Sy vou haar arms oorkruis oor haar bolyf en stap ook terug. Hulle ry vir ’n rukkie in stilte na Nelis.

“Hoe het jy Emmie oorreed dat ek nuwe pligte moet kry?” vra sy om die stilte te verbreek.

“Sy het die hele projek aan my opgedra. Ek het ’n vry hand om te doen wat ek wil. Nadat sy ’n opdrag gedelegeer het, stel sy net in resultate belang.”

Emmie weet dus nie ek sit saam met Richard Geertsema in ’n motor op pad na Nelis Mouton om die binnenshuise vernuwing van die Woltemade Hotel te bespreek nie! “Hoekom plaas jy soveel op die spel vir my?”

“Die eerste keer toe ek jou met ’n sketsboek gesien het, het ek geweet jy sal nooit in die hotelomgewing tuis wees nie. Soos jy self gesê het: jy hoort kwas in die hand agter ’n esel op ’n stranddorpie. Maar ek wil jou graag beter leer ken. So, die selfsugtige ding om te doen, is om seker te maak dat jy ten minste ’n rukkie aanbly.”

“Hoe kan ek vir jou dankie sê?”

“Moenie die snert glo wat andere oor my opdis nie,” sê hy en draai by Nelis se hek in.

“Oor ’n paar maande gaan jy die Woltemade nie herken nie,” sê Nelis Mouton aan Adri terwyl hy aantekeninge op die nuwe ontwerpplanne aanbring. “Ons idees is ’n ver­jongingskuur vir die grasieuse Ou Dame.”

Adri koester sy woorde in haar hart. Ons. Sedert die aand bykans twee maande gelede dat Richard hulle aan me­kaar voorgestel het, is daar ’n natuurlike rapport tussen haar en Nelis. Hy behandel haar soos ’n ontwerpspanlid en luister na haar praktiese voorstelle. Soos byvoorbeeld met die ontwerp van ’n korporatiewe embleem vir matte en gordyne. Nelis kon nêrens tekstielontwerpe vind waarvan hy gehou het nie. Adri het ’n ontwerp in haar sketsboek gemaak van die skaars disablom. Sy het die skets tot ’n grafiese patroon verwerk en by die hotel se korporatiewe kleure aangepas. Nelis het by die eerste aanblik daarvan gehou. Adri kon dit bykans nie glo nie: haar ontwerp is gebruik in die weef van tekstiele vir bekleedsel, gordyne, matte en selfs tafeldoeke. Hierna was sy ’n gerekende ­lid van Nelis se span. Soveel so, Emmie móés kennis ­neem van haar rol in die ontwerp van die nuwe Wolte­made.

Tafelberg trek ’n kanttjalie wegvliegwolke oor sy kop toe Richard en Adri twee maande nadat haar nuwe pligte begin het na sy jonkmanshuis in Houtbaai ry. Vir die eerste keer in weke voel sy asof sy kan ontspan. Sy het haar bes gedoen om Richard te vermy, maar uiteindelik kon sy nie nog verskonings uitdink om nie met hom uit te gaan nie. Hulle het mekaar gereeld in die geheim in die orgi­deëhuis ontmoet. ’n Onvermydelike aantrekkingskrag het in die klam warmte tussen hulle ontvlam.

Na ’n halfuur parkeer hy voor ’n weggesteekte huis tussen hoë dennebome en sluit die swaar houtvoordeur oop. Die meubels is tipies van ’n mansnes: al die gemaklike stoele is rondom ’n kaggel gerangskik en ’n hoëtroustel balan­seer gevaarlik op die kaggelrak.

Adri kry nie veel tyd om detail waar te neem nie. Nadat Richard die deur agter hulle toegetrek het, plaas hy sy arms om haar. Hy laat sy wang teen hare rus asof hulle die afgelope twee maande genoeg gesels het en nou net op lyftaal moet staatmaak.

Sy sit haar arms om sy middel en trek sy heupe na hare toe. Sy stoot haar hande onder sy hemp in en vind tussen sy skouerblaaie ’n rusplek daarvoor. Haar lippe vind sy kenkuiltjie. Sy proe die lemmetjiesmaak van sy skeerroom toe sy hom daar soen. “Bemin my,” fluister sy. “Op alle denkbare maniere.”

Met sy arms om haar skouers neem hy haar na ’n kamer waarin daar ’n groot dubbelbed staan. Hy gooi die deken eenkant toe terwyl sy haar T-hemp oor haar kop trek en haar denimrits losmaak. Toe hulle kaal langs mekaar op die bed lê en hul minnespel begin, soen hy haar borspunte en glip sy palms om haar heuprondings. Sy gevoelvolle liefdesgebare gee vorm aan al haar drome oor die liefdespel. Hy trek veel later die reisdeken nader en met ’n sekelmaan oor die pieke van Houtbaai, luister hulle liefdestam hoe die suidoos buite aanstorm.

Elize Parker-omnibus

Подняться наверх