Читать книгу Elize Parker-omnibus - Elize Parker - Страница 19

15

Оглавление

Adri draai weg van die vuurtoring en volg die stofgetrapte grondpaadjie na Suiderstrand. Soos wit linte vlieg strepe seemeeue agter haar aan. Vandag wil sy op hierdie klippestrand duskant L’Agulhas inspirasie put om met haar lewe voort te gaan en waarhede vierkantig in die gesig kyk.

Vir die res van haar lewe sal sy Jade soos ’n lang skaduwee agter haar aansleep. Hoe noem haar aanneemouers haar? Sou Helie ooit haar versoek aan hulle oorgedra het? Sy sal altyd aan haar dink met dié naam wat spontaan by haar opgekom het na haar geboorte. Jade, haar verlore groen edelsteentjie. Gaan sy ooit ontslae raak van die hunkering om haar vas te hou? Toe sy haar afgeteken het, was sy te verward om waarde aan bloedbande te heg. Nou weet sy daar is ’n geheime wysheid in ’n ouer se bloed waarteen niemand kan stry nie.

Hierdie staptog na hulle jeugstrand is soos ’n rituele begrafnis. Sy wil afskeid neem van die self wat saam met Jade verdwyn het. Haar depressie het haar alles in kleurtone van grys laat sien. Nou sien sy weer kleur raak: geelgroen bosse teen die hoogtes, die salmpienk strand­sand, ’n katooggrou see. Vir die eerste keer in ’n lang tyd wens sy daar was ’n potlood in haar hand. Dit is immers een van die redes hoekom sy ná haar vrugtelose soektog na L’Agulhas teruggekeer het – omdat Zoetendal die enigste tuiste is waar sy ’n kans het om haarself deur haar kuns te vind.

Indien daar ’n inniger band tussen haar en Nelia was, kon sy troos by haar gaan soek. Sy wens sy het nou langs haar gestap. Sy sou haar vra: Onthou jy nog Suiderstrand was ons Krismisstrand? Maar Nelia stel sekerlik nie in ’n knus strandjie tussen niks en nêrens belang nie. Na sovele eksotiese vakansiehotelle is Suiderstrand in haar oë ’n gehuggie. Sy het soveel te kenne gegee in hulle telefoongesprekke.

Carine is ’n ander saak. Maar hoe sal sy weet? Sy het haar byna twee jaar laas gesien. Hoe lyk sy op tienjarige ouderdom? As sy net ’n onlangse foto van haar kon ­kry … Emmie is ongenaakbaar daaroor. Toe sy tydens haar soektog na Helie in Kaapstad was, het Emmie haar uit Villa d’Este verjaag voordat sy Carine kon sien.

Sy kyk strandaf. Sy hoop die naderende strandstapper draai by die rotse af. Daar is iets so onvermydelik aan twee vreemdelinge alleen op ’n verlate strand – veral as hulle stadig na mekaar drentel. Tree vir tree bou daar ’n vreemde krag tussen hulle op. Dis asof hulle lewe op dié oomblik ingestem is.

Die wind wieg oor die jaspisgroen see. Seemeeue skarrel voor haar voete uit. Adri kyk opsetlik na die silwerfyn sandpatrone van die vroegoggend-skulpdiere. Indien sy oogkontak vermy, stap hy dalk verby. Sy sien met ’n vlugtige blik die vele lagplooie langs sy oë en die donker stoppelbaard op sy ken. Sy hande is beslis nie dié van ’n hengelaar nie.

Hulle oë ontmoet vir ’n oomblik. Nie een van hulle twee glimlag nie. Op dié terug-na-niks-strand slenter ’n mens nie omdat jy mense wil ontmoet nie.

“Het jy ook jou stukkie hemel kom soek?” vra hy toe hy voor haar gaan staan.

Adri wil verbouereerd verbystap, maar iets onnoembaars hou haar vas. Sy tel ’n wit spoelklip op om sy oë te vermy. Glad gebeitel deur tyd en rotse lê die wit steenpêrel uit die see op haar palm. “Toe ek klein was, het ek geglo die engeltjies spring hier van die wolke af.”

“En nou?” vra hy.

“Nou glo ek nie meer in engeltjies nie.” Watter snert raak sy teenoor die vreemdeling kwyt? Moegheid moes haar onnodiglik laat oopmaak het. Sy haal haar rugsak af en sit dit op die rots neer. ’n Minuut langer in sy geselskap en sy huil haar hart uit. Haar hartseer lê so vlak – die onverstaanbare begrip in sy oë so diep.

“Stap jy dikwels op dié strand?” vra hy en leun gemaklik agteroor met sy rug teen die rots, sy oë die grys van ou klipmure.

“Ek het eers.” Sy spring op ’n hoë rots en draai haar rug op hom.

“En vandag?”

“Vandag het my huis te klein geword.” Sy voel roekeloos. Na hierdie terloopse kennismaking sal hulle mekaar nie weer sien nie. Wat maak dit saak wat sy sê?

“Word plekke maklik te klein vir jou?”

“Nie alle plekke nie … hospitale wel,” sê sy nadenkend en draai haar blik na sy ernstige gesig. Hy lig sy wenkbroue en glimlag effens.

Adri maak haar rugsak oop, haal ’n fles koffie uit en bied hom ’n beker vol aan.

“Hoekom praat ’n mooi, jong vrou soos jy so? Die wê­reld behoort aan jou voete te wees.” Hy teug aan sy koffie terwyl sy ’n antwoord soek.

“Skoonheid is nie ’n waarborg teen die lewe se aanslae nie.” Sy wag woordeloos vir haar koppie, pak dit terug in die sak toe hy klaar is en gooi die sak oor haar skouer. Sy stap in die rigting van die L’Agulhas-pad. Hy val langs haar in en laat sy oë oor haar profiel gly. Los blonde hare hang lusteloos op haar skouers. Haar lyf is weggesteek in ’n groot sweetpak. “Ouderdom is beslis nie ’n waarborg nie.”

Haar vinnige blik val op sy duur goue horlosie en sy ontwerpersdrafskoene. “Lyk nie of die jare jou te sleg behandel het nie.”

Hy volg haar blik. “Geld is nog minder ’n waarborg vir geluk. Jy glo my nie nou nie … ek kan dit sien. Mettertyd sal jy my wel glo. Dalk wanneer jy jou eerste miljoen gemaak het.”

“Ek het iemand geken wie se groot droom dit was om voor veertig ’n miljoen te maak. Hierdie droom het ’n paar lewens verwoes.” In haar somber oë dein ’n herinnering. Sy het lankal haar rug op gedagtes aan Richard gekeer. Net soms, wanneer sy in die diep donkerte van ’n maanliglose aand op Zoetendal se stoep sit, gun sy haar herinneringe aan hom.

“Waaroor droom jy?” vra hy.

“Soms oor my eie binneversieringsbesigheid.”

“Die kuns is om drome in planne te omskep.”

“Planne help jou niks as die geluksgodjies ’n gly in jou het nie.” Hoekom raak sy soveel onsin kwyt? “Wel, sien jou dalk eendag weer,” sê sy toe die L’Agulhas-pad voor haar lê.

“Wil jy nie saam met my terugry nie?” Hy beduie na waar sy motor staan.

Adri skud haar kop heftig. “Nee. Ek het die stappie nodig om my kop skoon te kry.”

“As ek ’n geluksgodjie teëkom, stuur ek haar na jou,” sê hy met ’n glimlag en groet hand omhoog.

Adri maan haarself om nie om te kyk nie. Sy is te bang sy neem sy aanbod aan. Hy voel soos iemand op wie se skouer jy soos ’n verdwaalde dogtertjie kan tjank.

Veel later, toe sy met haar hande gevou voor haar esel sit, dink sy steeds aan die vreemdeling op die strand. Dalk moes sy haar opgekropte geheime met hom gedeel het. Dit is vandag amper ’n jaar sedert Jade se geboorte. Sy moet rigting kry, want sy het skaars geld vir kos oor. Hospitaal- en doktersrekeninge het haar spaargeld opgevreet. Die ontmoeting met die vreemdeling was ’n wegwyser. Die kuns is om drome in planne te omskep, het hy gesê. Wel, sy het nie eens krag om planne te maak nie. Sy tel ’n verfkwas op en maak ’n buisie olieverf oop. Sy wou Suiderstrand nog altyd op doek verewig.

Wat sal ’n paar dae langer op L’Agulhas saak maak?

’n Week later lui haar klokkie onverwags. Vreemd, sy kry nie juis besoekers nie. Sy sit haar verfkwas en palet neer. Suiderstrand-blues is amper voltooi. Sy vee haar vuil vingers aan haar verfjas af en gaan maak die deur oop.

“Is jy Adri Keet?” vra die donkerkopvrou op haar drumpel en loer oor Adri se skouer. Voordat Adri kan antwoord, wys sy na die sitkamergordyne. “Ek sien ek is op die regte plek. Aangename kennis. Ek is Jackie Nel van die Waenhuiskrans Hotel. Kan ons asseblief besigheid gesels?”

Adri staan oorbluf agteruit en nooi haar met ’n handgebaar binne. Jackie loop die sitkamer binne asof die huis aan haar behoort. “Jy het wondere verrig in die ­distrik se rykste huise! Jou kliënte is vol lof. Is jy nie lus om dieselfde vir ons hotel te doen nie? Ons het die ou plek opgekoop en dit het drasties ’n verjongingskuur no­dig.”

Adri glimlag ongelowig. Hier is die geluksgodjie waaroor die vreemdeling op die strand gespot het.

“Gee jy om as ek inloer?” vra Jackie. Sy maak die slaap­­kamerdeur oop en fluit stadig deur haar lippe. “Die wittebroodsuites moet net so romanties en sensueel lyk.”

“Hoeveel kamers het julle?”

Jackie verwonder haar aan die verandering in Adri. Haar gesig het skielik lewe gekry. Sy gesels oor die nuwe voorkoms wat hulle die Hotel Woltemade destyds gegee het.

“Skilder jy ook?” vra Jackie na ’n rukkie.

Adri neem haar na die studio. Son stroom die vertrek binne en verleen glans en heerlikheid aan die seetoneel op haar esel.

“Het jy ’n koper hiervoor?” vra Jackie geesdriftig.

“O nee. Dit sal weke wees voor dit klaar is.”

“Ek weet wie dit sal koop. Die eienaar van ons hotelgroep. Hy’s mal oor dié strand.” Jackie onderdruk ’n glimlag. Sy gaan nie Max Alexander se speletjie weggee nie. Vreemd, sy het nie gedink hy stel belang om veel jonger meisies om sy pinkie te draai nie. ’n Ware hartebreker verloor seker nooit sy slag nie.

Baie maande later stap Jackie die hoofsuite van die Hotel Waenhuiskrans binne waar Adri aandag gee aan ’n paar laaste dekordetails. “Wag tot die direksie dit sien! Hulle gaan mal wees hieroor! Nou is ek eers bly Max het gekom,” sê Jackie.

“Wie?” vra Adri moeg. Om die werk klaar te kry, moes sy ’n gebou op L’Agulhas as fabriek inrig. Sy het plaaslike vroue as naaldwerksters opgelei. Nou besit sy haar eie fabriek. Sy tel die etikette van die duvets op en stoot dit onopsigtelik uit die pad. Fraiings, lui die etikette. Sy het haar droom bewaarheid.

“Jy weet, Max Alexander, die hoteleienaar …”

“O ja,” sê Adri en stap na die volgende kamer.

Veel later, terwyl die direksie op die foyerbalkon met die bestuur glasies klink, kyk sy onbelangstellend na hulle van waar sy gordyne hang. Haar oë glip na die donkerkopman in die groep. Sy staan onwillekeurig weg van die venster.

Die vreemdeling van Suiderstrand staan in die middel van die groep. Sy het nie gedink sy sal hom ooit weer raak­loop nie. Hoekom het sy tog sulke snert teenoor hom kwytgeraak?

Hulle stap na binne vir die besigtigingstoer. Daar is geen wegkomkans nie. Sy hoor stemme ganglangs nader beweeg. Toe Jackie en die groep die vertrek binnestap, is dit hy wat eerste nader kom.

“Max Alexander,” sê hy en steek sy hand na haar toe uit. Vandag lyk hy glad nie windverwaaid nie. Sy bruin hare val glad en blink oor sy hoë voorkop. Hy is glad geskeer, die informele pak los aan sy skraal maar soepel lyf. Hy gee geen teken dat hy haar herken nie. “Jy het met hierdie ou plek getoor. Baie geluk.”

Sy glimlag verward. Die vreemdeling van Suiderstrand is toe Max Alexander, eienaar van die Waenhuiskrans Hotel en voorsitter van die Toristo Hotelgroep. Hy het Jackie na haar gestuur! Sy is seker daarvan. Sy kyk na Jackie se veelbetekenende blik wat van haar na Max flits en weet haar raaiskoot is in die kol. Geen wonder Jackie het so nou en dan iets oor hom laat val nie. ’n Goeie beplanner en simpatiek teenoor sy personeel. Ongetroud en nonchalant in verhoudings, maar tog ’n warm en meelewende vriend, het Jackie gesê.

Wat het hy vir Jackie vertel? Wat dink Jackie is daar tussen hulle? Sy draai weg van Max en die res van die groep. Sy gaan met bewende hande voort om die gordyne terug te bind.

Max glimlag teer. Hy dink terug aan hoe sy gelyk het die oggend toe hulle ontmoet het. Sy lyk na ’n nuwe mens met haar kort hare in ’n bobstyl, noupassende jeans en ’n saggeblomde hemp. Maar haar oë is steeds vol ontnugtering.

Veel later, na ’n direksievergadering, word Adri na Jackie se kantoor ontbied om Max Alexander te spreek. Toe sy die deur agter haar toetrek, staan hy verwelkomend agter die lessenaar op.

Adri trek onmiddellik weg. “Ek kan nie lank bly nie. Ek het ’n duisend dinge om te doen. Hoekom het jy my nie gesê of laat weet jy is die eienaar van die hotel nie? Ek voel so dom … so kinderagtig dat ek nie die kloutjie by die oor gebring het nie. Die vervlakste Jackie het nooit iets laat blyk nie! Ek het vas geglo ek het die aanstelling op sterkte van my werk vir welaf plaasvroue in die distrik gekry. Ek kon my nooit voorstel dat jy … wel, my geluksgodjie sou wees nie.”

“Daar was niks om te laat blyk nie. Jy het ’n geleentheid nodig gehad om jouself te bewys. Ek het Jackie gevra om jou op te spoor en sy is ’n regte bloedhond. Sy het ondersoek ingestel na jou werk en jy het die aanstelling op meriete gekry.”

“Ek weet nie hoe ek jou kan bedank nie. Jy het my weer vertroue in myself en my vermoëns gegee.”

“Ek weet hoe … kom gee asseblief my hotel by die warmbronne dieselfde behandeling. Toe, wat sê jy?”

“Dink jy nie jy moet iemand anders vra nie? Waenhuiskrans is een ding. Dis ver en afgeleë. Maar die warmbronne …”

Sy oë vernou terwyl hy haar dophou. “Jy het die span, die talent en boonop is jou fabriek om die draai. Ek het niks meer nodig nie.”

“Dankie vir die aanbod. Ek sal daaroor nadink.”

Hy glimlag, sy een mondhoek skuins opgetrek. “Stap jy nog op Suiderstrand?”

“Lanklaas daarvoor kans gekry. Ek moet loop …” prewel sy. “Ek sal jou aanbod oorweeg en jou laat weet wat my antwoord is.”

Sy stap vinnig by die deur uit en probeer vir die res van die dag nie aan Max Alexander dink nie.

Geen man sal weer in die pad van haar drome staan nie.

Elize Parker-omnibus

Подняться наверх