Читать книгу Elize Parker-omnibus - Elize Parker - Страница 18

14

Оглавление

Toe die room van Suid-Afrika se sakemanne in Johannesburg bymekaar moet kom, is die Cosmos Egoli Hotel die vanselfsprekende keuse. Vir die konferensie word Nelia aan die hotel gesekondeer as hoof van die konferensiespan. Haar teenwoordigheid is deur Peter Becker persoonlik aangevra.

“Niemand het my gesê jy het net mooier geword onder die Bosveldson nie,” sê hy toe hy haar die oggend voor die konferensie vir ontbyt ontmoet. Hy sien hoe haar kennersoog vinnig oor die ontbytkamer flits. Hulle neem plaas en met ’n klein kopbeweging dui sy aan dat ’n kelner leë koffiekoppies moet hervul. Niks ontsnap haar arendsoë nie.

“Hoe gaan dit in die Bosveld? Is jou Kaapse blues iets van die verlede?”

Nelia kyk vinnig weg. Sy het Peter destyds met haar versoek om ’n betrekking die minimum rondom haar bedanking vertel. “Ek het geleer om ou koeie te los waar hulle hoort.”

“Dit is ’n aangeleerde kuns. Niemand word daarmee gebore nie.” Hy drink sy koffie. Sy onderskep sy waarderende blikke. Sy lyk koel en professioneel in haar vlootblou baadjie. Haar kort geplooide romp wys net genoeg been om ’n man twee keer te laat kyk. ’n Franse vlegsel is haar goue kroon.

“Ek kan nie dink jý het probleme daarmee nie. Jy lyk altyd in beheer van jou lewe,” sê sy vlugtig. “Van probleme gepraat,” stuur sy die gesprek weg van die persoonlike, “hoe lyk die programreëlings vir jou?” Hy glimlag vir haar maneuver en gesels oor die konferensiereëlings.

Amper het haar komkommerkoel masker versplinter, dink Nelia. Sy sal fyn moet trap met hierdie man. Hy kan dit dalk net regkry om haar meer te laat oopmaak as wat nodig is.

“My komplimente en gelukwense,” sê Alfredo Boronelli, bestuurder van die Cosmos Egoli Hotel, aan Nelia na afloop van die konferensie. “Sonder jou sou ons nie so ’n suksesvolle konferensie gehad het nie.” Hy draai na Peter Becker langs hom. “Ek laat jou in Peter se bekwame hande.”

“Glip weg saam met my vir ’n naweek op my Laeveldplaas,” sê Peter saggies toe Alfredo buite hoorafstand is.

Nelia draai vir ’n oomblik haar rug op hom. Hoe kan sy saam met hom weggaan? Dit druis teen haar professionele kode in. Hy moet haar gedagtes gelees het. “No strings attached … bloot vir pret.”

Nelia huiwer nie langer nie. Sy vertrou min mans, maar sy weet sy kan Peter op sy woord vat. Hulle tref reëlings om mekaar te ontmoet. Sy kyk hom nadenkend agterna toe hy wegstap. Hy bedreig haar geordende wêreld met sy wêreldwyse selfversekerdheid. Miskien moet sy maar liewers hulle afspraak kanselleer. Maar sy weerhou haarself daarvan.

Toe hy die volgende middag om en by twee-uur voor haar deur stop, klim sy met ’n glimlag in sy sportmotor. Die kragtige motor glip byna geruisloos deur die verkeer. Nelia maak haar venster oop sodat die wind deur haar los hare kan waai. Sy weet nie wat om van hierdie naweek te verwag nie.

Na ’n uur glip Peter op ’n grondpad tussen lemoenboorde in en trap die pedaal weg. Hy kyk onderlangs na haar. Die kalmte op haar gelaat is vir hom ’n uitdaging. “Watter gevoel laat jou adrenalien vinniger vloei?”

“Wraak,” sê Nelia intens.

“Herinner my om nooit in jou swak boekies te kom nie.” Hy kyk met nuwe belangstelling na haar. So, sy kan driftig raak! Sy voorgevoel was reg. Indien jy verby haar skanse kom, wag ’n warmbloedige vrou jou in.

By sy Laeveldhuis aangekom, skuif Peter dadelik die balkondeure wyd oop. Buite word die lou skemeraand koeler. Hy stap tot by die balkonreling en kyk besitlik oor sy domein heen. Hy draai na Adri. “Wat dink jy daarvan?”

“Dit lyk na ’n paradys,” sê sy. Hy skink vir hul elkeen ’n drankie en klink woordeloos glasies met haar.

“Nou is ek lus vir ’n heerlike stort,” sê sy nadat hy al die landmerke aan haar uitgewys het.

Hy gaan haal hulle tasse uit die motor. Toe hy haar tas op haar bed neersit, stap sy na die spieëlkas om haar hare op haar kop vas te maak. Peter kom staan agter haar en stapel haar hare op. Sy kyk na hom in die spieël. Sy voorvinger gly van haar hare af na haar nek. Hy plaas sy handpalms vol op haar skouers.

Haar arms verstyf op haar kop. ’n Vinnige pols klop in haar nek. Hoe steek sy haar senuweeagtigheid weg? Dwarsdeur haar skool- en universiteitsjare was sy onaangeraak deur tienerouens en later mans se lompe omhelsings. Sy het gedoen wat van haar verwag is. Meesal het sy gevoel of sy deur ’n venster na haarself in iemand anders se arms kyk. Hartstog is vir haar bloot ’n woord. Verliefdheid ’n siekte wat meisies soos Adri tref. Vanaand het haar liggaam egter ’n verleidelike wil van sy eie.

“Sal jy asseblief die stortkrane oopdraai?” vra sy.

Sy hande glip lui en langsaam van haar skouers af. Hy draai weg na die badkamer. Nelia skuif die laaste knippie bewerig in haar hare in. Toe hy by die deur uit is, wikkel sy haar vinnig uit haar klere en glip in die stort in. Toe sy uitklim, staan Peter kaal bolyf, handdoek om sy middellyf en met waterdruppels glinsterend tussen sy borshare vir haar met ’n oopgevoude handdoek en wag. Hy draai die handdoek om haar soos ’n kokon. Sy warm asem speel ritmies oor haar oor.

“Jy het die lieflikste lippe,” prewel hy en speel met ’n voorvinger daaroor. Sy linkerhand streel haar rug verleidelik terwyl sy voorvinger haar nat krulle om en om draai.

“Jy het gesê ons kom net vir pret …” sê sy.

“Dit voel nie vir my soos ’n begrafnis nie.”

“Ek dog ons het geen verpligting teenoor mekaar nie.”

“Ons het ’n ernstige plig om mekaar te geniet.” Tergerig proe sy mond aan hare. Haar vingers volg sy lyflyne. Niemand kon haar nog ooit met sy aanraking laat ontvlam nie. “Ek doen net my plig,” sê sy spottend toe haar hande dit oor sy koperbruin dye waag.

“Ek is mal oor die sproete hier op jou borsbeen. Dit is ’n uitnodiging om jou al laer en laer te soen totdat …” Hy kry nie kans om sy sin te voltooi nie.

Nelia trek die handdoek om sy heupe af. Haar vingers streel sy boudspiere met sirkelbewegings. ’n Nuwe lewenskrag vloei deur haar lyf. “Ek dog jy het gesê no strings attached …”

“Ek het nie geweet waarvan ek praat nie,” prewel hy in haar hare. Hy streel haar lyf met besitlike teerheid. Sy mond verlaat hare glad nie terwyl hy bo-op haar gly nie. Sy voel en tas na elke liggaamsdeel, elke draaitjie in sy lyf. Stadig, veels te stadig, glip Peter in haar in en beweeg met ’n rustige, ingeperkte ritme teen haar. Dan, met sy harde bene teen haar sagte dye, soen hy haar al hoe meer intens terwyl sy bewegings sterker en vinniger word. Sy breë palms koester haar borspunte totdat hulle kliphard teen sy palms lê.

Nelia voel ’n vreemde vrede oor haar kom. Sy moet haar kop laat lees! Sy dink nie so oor mans nie. Sy wriemel weg van hom, maar hy druk haar liefdevol vas. “Wat nou?”

“Dis net … ek wil nie betrokke raak nie …”

“Niemand sê jy hoef betrokke te raak nie … jy hoef bloot die oomblik te geniet.” Hy streel haar borste veel teerder. Soos wat hulle hartstog toeneem, voel sy hoe haar liefdesdrif oor haar rede begin seëvier.

Toe Peter sy rug boog en met ’n kreun aan haar vasklou terwyl hy met toe oë sy lyf se crescendo ervaar, streel Nelia sy skouers. Sy hande word rustiger op haar totdat hy met sy kop teen haar bors lê. “Jy is wonderlik … dis net jammer jy kan jouself nie aan die oomblik oorgee nie.”

“Wat bedoel jy? Ek het …”

“Nee, jy het nie. Maar die naweek is nog lank,” sê hy en begin stadig en geduldig die pêrel tussen haar dye liefkoos totdat sy in ekstase agteroor ruk en ’n stroom sterre voor haar oë beweeg. Sy klou verbete aan hom totdat hy haar sag agteroor laat lê.

“Was dit jou eerste orgasme?” vra Peter. Nelia knik moeg en gelukkig.

Hy draai met ’n lui glimlag na haar. “Ek het so vermoed. Ek is bly dit was my voorreg om jou in die liefde se fynere kunsies in te wy.” Voordat hulle verder kan praat, sak hy slaperig in salige tevredenheid weg. Nelia lê langs hom wakker en verkyk haar aan die maanligskaduwees se spel oor sy lyf. ’n Mosaïek gevoelens vorm ’n deurmekaar patroon in haar gemoed. Met rustelose hande trek sy hom toe.

Aan die aandhemel blink die Bosveldsterre … ’n duisend spieëltjies wat haar gemoedstemminge kaats en geheimsinnig haar toekomslot versteek. Een ding is seker: na vanaand is sy nie meer dieselfde vrou nie.

Sy staan op en rek haar liefdesmoeë liggaam voor die oop venster uit. Die kantgordyne roer in ’n fyn aandbriesie teen haar aan en die sagte materiaal vou om haar. Sy was hopeloos te weerloos teen Peter. Hy maak haar ver te veel volkome vrou om langer op haar hoede teen mans te wees. En dit is gevaarlik.

Na die naweek kuier hulle saam wanneer Peter ook al ’n tydjie kan afknyp. Hulle deel ’n kort Oostenrykse skivakansie en span uit op die Griekse eilande, waar hulle mekaar met ’n onstuitbare liefdeskoors bemin. Toe hy vermoed dat hy die stryd om haar hart begin wen, neem hy haar vir ’n naweek na ’n strandhuis in Plettenbergbaai. Die oggend na hul aankoms slaap hulle laat. Hulle stap eers die middag strandlangs.

Nelia sê nie veel nie. Sy weet hy kort sy werksagenda maande lank al in om haar prioriteit in sy lewe te gee. Hy het haar al verskeie kere gesê sy is soos geen ander vrou wat hy al in sy hart en sy bed toegelaat het nie.

Na ’n lang wandeling gaan sit Peter met sy rug teen ’n rots en laat Nelia op sy skoot lê. Hy buig af en soen haar op haar voorkop. “Trou met my. Sommer hier op Knysna in daardie mooi kerkie in die Bos.”

Nelia rol weg van hom. Sy staan op en stap see-in totdat die branders oor haar kop breek. Hy duik agter haar in en probeer haar inswem. Sy is te vinnig vir hom en hardloop strandlangs voordat hy haar inhaal. Hy probeer haar omhels. Sy hou hom ’n armlengte ver voordat hy sy kop op haar skouers laat rus.

“Ek is jammer ek het so vinnig van jou probeer wegkom. Maar my eerste instink was om te vlug,” sê Nelia.

“Dit is gewoonlik myne ook. Met jou is dit anders. Ons verhouding het die afgelope paar maande so verdiep, ek het gedink dis die regte tyd om jou te vra om te trou.”

“Ek is jammer ek het jou voorstel so ligsinnig afgemaak. Dis net dat … ek het nie gedink jy gaan ernstig raak nie.”

“Ek ook nie. Na twee egskeidings is ek nie juis troumateriaal nie.”

Haar heupe druk teen syne aan. Met een hand knoop hy haar heupdoek los sodat sy in haar bikini voor hom staan. Sy druk hom af teen die warm sand en vly haar sonbruin lyf mildelik teen hom aan. Haar tong druk spelerig in sy oor. Sy is bly sy het nie ja gesê op sy voorstel nie. Sy is nie gereed om toekomsbeloftes te maak nie. Daarvoor het sy te veel loopbaanplanne. Sy wil gou uit die Cosmos Safari Lodge kom en ’n bestuurspos iewers in Peter se groep bekom. Sy wil onmisbaar vir hom word. “As ek jou vra vir ’n ander pos in Cosmos, gaan jy dink ek probeer jou gebruik?”

Peter plaas sy vinger nadenkend op haar lippe. Hy het nie gedink die dag sal aanbreek wanneer iemand ’n huweliksaanbod van hom blatant ignoreer nie. Of dat ’n vrou haar loopbaan bo hom sal verkies nie. Dit is gewoonlik sy rol in ’n verhouding. Na haar aanvanklike versoek het sy hom nog nooit weer vir enige gunste of gawes gevra nie. Hy het skielik die hef in die hand. “Wat het jy in ge­dagte?”

“Enige bestuurspos in julle grootste internasionale hotel in Johannesburg.” Vir ’n begin. Maar dit hoef hy nie te weet nie.

“Hoe belangrik is dit vir jou?” vra hy.

“Ek soek ’n geleentheid om myself te bewys,” sê sy.

“Onthou, indien jy Johannesburg toe kom, gaan ons saam werk en mekaar meer dikwels sien. Jy gaan dalk soms nie van my hou nie. By die werk is ek meer baas as minnaar. Ek sal jou oor dieselfde kam as die ander moet skeer.”

“Ek kan dit hanteer. Al wat ek wil hê, is die geleentheid. Ek sal nie my hand oorspeel nie.”

“Jy kan maar …” sê hy.

Nelia blaas verlig haar asem uit. Hy sou haar nie die kans gegee het as hy gedink het sy kan dit nie hanteer nie. Of as hy kwaad was oor haar hantering van sy huweliksvoorstel nie. Sy kry sommer dadelik nog meer respek vir Peter. Respek en vervullende minnespel … wie weet, dalk is dit ’n goeie basis om ’n huwelik op te bou.

Elize Parker-omnibus

Подняться наверх