Читать книгу Elize Parker-omnibus - Elize Parker - Страница 16

12

Оглавление

Twee maande later lyk Zoetendal se hoofslaapkamer soos ’n foto uit ’n huisversieringstydskrif. Adri werk begeesterd voort – dié keer aan sitkamergordyne. Daar is meer as genoeg materiaal daarvoor. Hettie moes in ’n stadium groot planne vir hul strandhuis gehad het. Sy weet nou hoekom hulle mettertyd nooit meer op L’Agulhas vakansie kom hou het nie. The secret sits in the middle. Wat het tussen hierdie vier mure gebeur waarvan sy nie weet nie, en wat het die wapen in die buitekamer daarmee te make? Sy strek diep in gedagte om die voltooide gordyne te hang. Toe iemand haar op die skouer tik, draai sy vinnig om.

“In jou kondisie moet jy nie so strek nie. Jy kan maklik die naelstring om die baba se nek draai,” sê ’n bekende stem agter haar.

Adri kyk verbaas na Helie Carstens. “Middag, tannie Helie,” sê sy ongemaklik.

Helie se oë gly nuuskierig oor die veranderings. Adri het ook meubels uit die pakkamer gehaal, reggemaak en vertrekke uitgeverf. Die muwwe ou spookhuis aan die­ dorp­srand lyk splinternuut. “Het jy die gordyne gemaak?”

Adri knik en sit op die leersportjie. Sy voel effens lighoofdig.

“Ek het jou vlugtig by die viswinkel sien ingaan – toe sien ek jy is in die ander tyd,” sê sy met haar oë op skrefies. “Ek het gedink ek kom jou help, aangesien jou ma dood is. Ons kom immers van skooldae saam en het darem al ’n sak sout saam opgeëet.”

Nie waarvan ek weet nie, dink Adri. “Dankie, maar ek is by die dokter op Struisbaai.”

“Sy is nie te vrot nie.” Haar oë dwaal opsigtelik na Adri se ringvinger. “Hoe ver is jy?”

“Amper vyf maande,” sê Adri.

“Het jy al aan aanneming gedink?” vra Helie.

“Natuurlik nie. Ek en die baba se pa gaan trou.”

“Daai bruingebrande ou met die spoggerige kar? Ek ken sy soort. Seker getroud en woon in ’n peperduur huis in Kaapstad terwyl jy hier krepeer.”

Adri probeer haar trane keer. Helie se simpatie het haar emosionele krane oopgedraai.

Helie lei haar na die bank. “Vertel my alles.”

Adri praat onophoudelik: eers stadig, later vinniger van haar verhouding met Richard.

“Julle Keet-meisies en Emmie …” sê Helie en gee haar ’n sneesdoekie.

“Sy sorg goed vir Carine. Sy sal nooit enige tekort in haar lewe hê nie.”

“Ek sou dink dis haar plig,” sê Helie en staan op. “Kyk, dis jou besluit. Ek sal jou graag help teen geen koste nie. Noem dit ’n gunsie vir ’n ou vriendin. Ek kan ook help indien jy die kind wil laat aanneem.” Sy wys na die gordyne. “Ek ken genoeg ryk plaasvroue wat graag sulke gordyne sal wil hê. Is jy bereid om vir ’n ruk vas voor die naaimasjien te sit?”

Adri glimlag bewerig. “As ek móét.”

’n Paar dae later stap Helie Zoetendal binne saam met ­Leana Bredenhann, eggenote van ’n welaf skaapboer in die distrik. Leana is vol komplimente toe sy die gordyne in die sitkamer sien. Sy besluit daar en dan dat Adri haar huis moet kom opmeet en gordyne daarvoor moet maak. Adri dink aan haar uitstaande rekeninge. As sy hier wil aanbly, sal sy die bedrae gou moet vereffen. Leana Bredenhann kom dus asof sy gestuur is.

Toe sy dié aand na die opmeting van Leana se huis op Zoetendal se dubbelbed neersak, is sy moeg en lighoofdig. Die vel om haar maag trek styf en haar borste stoot ongemaklik teen haar onderklere. Hoe gaan ek ooit in my toestand die meters en meters materiaal in gordyne om­skep? wonder sy.

Soos die dae vinnig verbytrek, besef sy die antwoord is: met intense konsentrasie op die taak ter hand. Tydelik is lang seewandelinge en gedagtes aan gister iets van die verlede. Sy stap darem gereeld tot op die rotse en sit na die see en kyk.

“Jy lyk pootuit,” sê tant Helie met haar volgende besoek. “Geniet jy die werkery?”

“Dit is lekker om te skep,” sê Adri. Sy vertel die tante niks van haar drome nie. Die gordynmakery het haar weer ’n lewensdoel gegee, die idee om haar eie linne- en tekstielontwerpersetiket, Fraiings, op die been te bring. Die konsep het sy reeds uitgedink. Sy sal met stelle linne en gordyne van broderie anglaise begin. Daarna sal sy uitbrei na haar persoonlik ontwerpte materiaal met Erica-patrone soos die blomme waarvan haar sketsboeke vol is. Alles moet saam­werk om ’n spesifieke styl in die hand te werk. Materiale, muurpapier en bykomstighede moet gekombineer kan word om ’n atmosfeer soos dié van ’n gesofistikeerde Engelse­ herehuis weer te gee. ’n Klassieke plattelandse voor­koms, maar eg Suid-Afrikaans.

“Dink jy steeds jy moet die baba hou?” onderbreek Helie haar gedagtes.

Adri sug swaar. Vandat sy die duur dokter vir die vroedvrou verruil het, kom sy tydens elke ondersoekbesoek met die een argument na die ander hoekom sy die baba moet laat aanneem. Sy vind vrugbare grond in Adri se gemoed. Sy het haar vertroue in haar vermoë verloor om vir haarself en die baba te sorg. Al verkoop sy skilderye en maak gordyne, kan sy nie ’n kind onderhou en hom al die geleenthede gee wat hom toekom nie. Haar enigste uitweg om die kind te hou is om Richard van haar swangerskap te vertel, maar iets weerhou haar daarvan. Sy kan dit nog nie ’n naam gee nie. Miskien is sy bloot bang vir verwerping. Sy het onlangs Richard se verlowingsfoto in die koerant gesien. Hy was so ooglopend gelukkig. Miskien is dít hoekom hy haar nie eens vir die wis of die onwis op L’Agulhas kom soek het nie. Miskien was Nelia en Emmie tog reg. Richard sal nooit lewenslank aan een vrou getrou kan bly nie.

Vroeg een oggend word Adri wakker toe die baba meer as gewoonlik onder haar ribbes woel. Sy is kortasem en toe sy opstaan en voor die venster gaan staan, druppel ’n taaierige vloeistof teen haar bene af. Vir ’n paar oomblikke verlang sy om in tweestrydvrye slaap terug te sak. Dae lank soek sy al bewustelik na antwoorde op die vrae in haar gemoed. Met elke blik in die spieël het sy hierdie oomblik gevrees. Nou, onverwags, vier weke voor die tyd, word sy gedwing om keuses te maak.

Ek gun hom veel beter as wat ek hom kan gee, weet sy toe sy uiteindelik na ’n paar uur se selfondersoek en pyn van die venster wegdraai. Helie het duidelike instruksies gegee oor wanneer sy haar moet bel. Sy bad in ’n lou bad, trek haar skoon aan en stap telefoonhokkie toe om haar te skakel. G’n buurmens is in sig nie. “Ek dink die baba maak ’n vroeë verskyning,” sê sy uitasem.

“Byt vas. Ek is nou daar,” sê die ou tante. Sy arriveer binne ’n paar minute. “Hoe ver is jou pyne uitmekaar?”

“So sewe minute.”

Helie maak haar vroedvroutas oop. Sy neem Adri se pols en druk aan haar maag. “Bly kalm. Asem in en uit.”

Adri probeer beheer oor haarself kry. Die pyn oorheers haar denke. Vir die eerste keer kom die gedagte by haar op dat sy tydens die geboorte kan sterf.

“Het jy finaal oor die aanneming besluit? Jy moet ophou selfsugtig wees. Doen wat die beste vir jou kind sal wees.” Sy het al vele vroue tydens geboorte deur hierdie stadium gedra wanneer hulle onverbiddelik stry teen die wette van hul bloed.

Adri is paniekerig. Sy verkies om te sterf eerder as om dié pyn te verduur. As sy net van die pyn verlos kan word! Sy snik die woorde uit waarop Helie wag: “Wat moet ek teken?”

Sy wonder vlugtig oor die trekkie om Helie se mond toe sy die vorms nader bring. Later kon sy nie meer omgee watter emosies oor Helie se gelaat trek nie. Dit is hul gedeelde lot, dink sy toe die pen bewerig oor die streep beweeg. Helie vou die getekende vorms met ’n ervare berekendheid op.

Adri se kreune word onbeheerste paniekaanvalle. Helie lê haar neer en sprei haar bene oop. Sy moedig haar in ’n kalm stem aan om te druk en asem te haal. Adri voel of sy geen beheer oor haar liggaam het nie. Sy slaan haar naels in haar palms in om die pyn te keer. Sy beweeg reeds in ’n skaduwêreld waar daar ’n gebrek aan goeie oordeelsvermoë is. Haar liggaam is uitgelewer aan die wette van die natuur. Elke sening in haar onderlyf voel of dit oopskeur om die baba se pad oop te maak. Haar maag en haar onderlyf is ’n golwende massa pyn.

Vae skaduwees legkaart inmekaar totdat Helie skree dat die baba se kop verskyn. Met vinnige bewegings sorg sy dat die baba met elke kontraksie verder uitglip en in haar arms tot ruste kom totdat sy regop kom en met die baba na ’n hoek van die vertrek verdwyn. “Dit is beter as jy glad nie aan haar raak nie,” sê sy.

“Vra hulle om haar Jade te noem, soos die kleur van L’Agulhas se see.” Adri sien haar baba se blonderige koppie vir ’n oomblik. Met afgryse besef sy wat sy gedoen het. Sy het egter nie die krag om haar baba terug te eis nie. Met hees kermgeluidjies in haar ore verloor sy haar bewussyn.

Dae later maak Adri vir die eerste keer haar oë heeltemal oop en druk onwillekeurig aan haar krampende maag. Haar hele lyf is een groot, kloppende pynpols. Sy kan nie haar bene roer sonder om ’n skerp steekpyn te ervaar nie. Veraf hoor sy stemme. Trolliewiele lawaai op harde vloere. Eetgerei klink teen borde. Sy lei af sy is in ’n hospitaal.

’n Verpleegster stap nader en tel haar hand op om haar polsslag te neem. Adri wil haar uitvra oor haar baba en oor haar opname in die hospitaal. Die krag ontbreek haar. Sy is fisiek en geestelik te verpletter om te praat.

“Hoe voel jy?” vra die verpleegster.

“Waar is my baba?” fluister Adri uiteindelik.

Die verpleegster trek aan die drupsakkie langs haar bed. “Miskien moet jy met Dokter daaroor praat,” sê sy.

Adri sluit haar oë moedeloos en sluimer vir ’n rukkie in. Haar hand word weer opgetel. Sy maak haar oë oop. Hierdie keer is dit ’n senuweeagtige dokter. “Ek hoor jy wil meer oor jou baba weet. Sy is reeds by haar aanneem­ouers.”

Angs sak oor Adri toe. Haar aanneemouers … Daar is dus geen terugkeer meer nie. Sy draai haar gesig na die muur. “Hoe het ek hier gekom?”

“Die vroedvrou het jou net-net betyds hier gekry sodat ons die bloeding kon stop. Daarna het jy kraamkoors gekry.”

“Ek moes haar nooit naby my toegelaat het nie. Ek moes na die dokter op Struisbaai gegaan het,” steun Adri swak.

“Bekommer jou later daaroor. Jou eerste plig teenoor jouself is om gesond te word. Jy sal nog ’n hele paar dae hier moet bly.” Hy tik liggies op haar hand. “Ons sal moet keer vir post partum-depressie,” sê hy, meer vir die verpleegster as vir Adri, en draai na die volgende pasiënt.

Skuldgevoel en selfverwyt oorval haar. Sy het haarself oopgestel deur na Helie in plaas van die Struisbaai-dokter te gaan. Sy het toegelaat dat Helie haar oorreed om haar baba af te gee. Sy het op L’Agulhas gebly waar sy nie vir haarself en ’n kind kon sorg nie.

Op die krop van haar maag steek ’n pyn. Haar gesig vertrek en sy huil.

Dae aaneen lê sy woordeloos en bykans bewegingloos. Verpleegsters borsel haar hare en was haar. Ongeag die versorging en belangstelling beweeg sy skaars en praat sy nie.

Toe sy die dag uit die hospitaal ontslaan word, is Adri se eerste gedagte om by Helie se huis aan te ry. Sy kom voor dooiemansdeur. Nie op L’Agulhas of Struisbaai is daar ’n spoor van die baba te vinde nie. Helie het ook spoorloos verdwyn. Sy is klaarblyklik Kaapstad toe om met die versorging van die baba te help. Na ’n paar dae keer Adri se verswakkende gesondheid haar om haar soektog voort te sit. Sy is soms veels te swak om uit haar bed op te staan en te depressief om werklik doelgerig te dink en te organiseer.

Waar was sy toe haar baba haar nodig gehad het? Bewusteloos in ’n hospitaal – as sy net haar bewussyn lank genoeg kon behou om die aanneming ongedaan te maak, kon die tragedie dalk voorkom gewees het. Haar ideaal om haar eie besigheid te begin, voel sinneloos. Fraiings – so wou sy haar ontwerpersetiket noem. Hoe ironies! Haar lewe hang nou in fraiings: sy sit met ’n losse bondel draad­jies, toue en klossies en weet nie hoe sy die hopie weer tot ’n mooi geheel saamgebind gaan kry nie.

Elize Parker-omnibus

Подняться наверх