Читать книгу Elize Parker-omnibus - Elize Parker - Страница 9

5

Оглавление

Ek gaan hierdie hotel vul met beroemdes, superrykes en invloedrykes, dink Emmie Berger vir die soveelste keer toe sy deur die nuwe voorportaal beweeg.

Die nuwe Hotel Woltemade is geskeduleer om op Nuwejaar te open. Miskien moet sy Hettie en Carine uitnooi na die gala-openingsaand. Dit is ’n onskuldige verskoning om Hettie uit haar huis te kry. Sy ontbied Nelia. “Ek wil hê jy moet reël dat jou ma en Carine Kaapstad toe kom vir ons openingsaand.” Nelia se teenkanting wys in haar gespanne liggaamshouding toe sy uitstap.

Sy stap dadelik na haar kamer en gooi haarself op die bed langs Adri neer. “Stukkie slegte nuus! Emmie wil hê Ma Hettie moet hier wees vir die hotel se gala-aand.”

Adri se potlood val uit haar hand en rol oor haar sketsboek. “Maar Ma het niks hier verloor nie. Sy was jare gelede hier. Sy het gesê sy wil die plek nie weer sien nie!” Adri dink ’n oomblik. “Dit gaan seker oor Carine.”

“O ja, ek het van die witbroodjie vergeet …” Nelia strik haar hotelserpie om haar nek en trek haar kort onder­baadjie netjies reg. Laat ek maar die prinsessie gaan bel, dink sy.

“Emmie sal haar wat verbeel …” sê Hettie vir haarself en kyk hooghartig na die gaste in die voorportaal van die Hotel Woltemade toe Emmie na haar aangestap kom om haar te groet.

Emmie skud haar hand en maak vir ’n oomblik haar oë toe asof sy krag nodig het. “Welkom by ons, Hettie.”

“Ek sou my kop moes laat lees het indien ek nee sou sê vir die sosiale geleentheid van die jaar.” Sy tree terug en kyk Emmie op en af. “Die jare het jou goed behandel.”

Emmie buk af op een knie om die skaam Carine in haar arms te neem. “En jy, my skattebol, word al hoe mooier.” Sy hou Carine ’n armlengte weg van haar en streel oor haar swart krulle en kuiltjiewange. “Jy is veel mooier as al die foto’s wat ek ontvang het.” Sy buk vooroor om iets in haar oor te fluister. Carine giggel skaam en soen Emmie op haar wang.

Emmie en Hettie kyk vir ’n oomblik na mekaar asof hulle nie weet wat om na al die vanselfsprekende beleefdhede te sê nie. Carine swaai aan Hettie se hand en hou haar oë op die grond. Sy kyk net een of twee keer bewonderend na Emmie asof sy ’n eksotiese paradysvoël is wat vir ’n oomblik kleur aan ’n vaal wêreld gebring het.

’n Beleefde bestuurder kom van agter en fluister in Emmie se oor. “’n Effense probleempie met die spyseniering. Kan jy gou kom help?”

Sy kyk bekommerd om. “Sien julle vanaand. Maak julle solank tuis.” Sy buk af om ’n ligte soen op Carine se krulle te los. Nadat sy in haar kamer ingerig is en Adri gegroet het, maak Hettie haar tuis in die hotelsitkamer. Terwyl sy die gaste dophou, verkyk sy haar aan Emmie. Sy groet en verwelkom gaste, maak seker almal is gerieflik en tuis. Die Hotel Woltemade het na Solly se dood ’n verlengstuk van haar persoonlikheid en haar hele wese geword. Sy leef, eet en drink die hotel.

Hettie wonder vir die soveelste maal wat sou gebeur het as sy destyds met Solly Berger getrou het. Sy sug as sy dink aan wat hare kon gewees het.

“Die aand het baie goed afgeloop,” sê sy toe Emmie laat die aand verby haar stap. Hettie sien sy is trots op wat sy reggekry het. Emmie Berger is nie bloot hotelbestuurder vir die superrykes en invloedrykes nie: sy is ook vir sommige ’n goeie vriendin en selfs ’n vertroueling.

Solly sou trots op haar gewees het. Miskien was sy dood ’n bedekte seën vir Emmie gewees. Hy ­sou nooit op sy eie die hotel na dié nuwe hoogtes ge­voer het nie. Daarvoor was hy te veel van ’n swakke­­ling.

Die volgende dag kom Hettie omstreeks middernag moeg van Kaapstad in Bredasdorp aan en parkeer die motor in die oprit. Die middagreis ná die besige tydjie in die Kaap het haar uitgeput. Sy is bly Emmie het aangehou dat Carine ’n week of so by haar in die Kaap moet kuier. Dit gee haar ’n blaaskans. Hulle moes eintlik al lankal tot ­die vergelyk gekom het. Met Carine wat nou al skoolgaan, ­is dit hoog tyd dat daar ’n sterker band tussen hulle ­kom.

Sy stap na die agterstoep en trek die sifdeur oop. Hier op die stoep is dit pikdonker, maar dit maak nie saak nie. Hettie ken haar huis soos ’n blinde. Sy vind die slot maklik. Die deur glip oop en sy stap die huis binne. Iewers in die huis kraak vloerplanke. Die kat, dink sy, maar onthou sy het hom by die kathotel gelos. Sy ken haar huis se kraakgeluide. Hierdie is ’n nuwe klank. Sy stoot die kombuisdeur oop en loer af in die donker gang. Voordat sy die lig aanknip, hoor sy die gekraak op die solder. Sy staan bewegingloos en wonder of dit ’n muis kan wees. Verbeelding, dink sy.

Toe hoor sy die dowwe plofgeluid. Dit klink asof iemand laer af in die gang val. Toe sy die lig aanknip, sien sy ’n man wat die plafonluik terugskuif. Sy voel eerder as sien hoe die donker vorm haar teen die vloer duik.

“Los my uit!” skree en gil sy, maar sy is reeds met haar gesig teen die vloer vasgedruk. ’n Skerp pyn skiet brandend oor haar lyf en neem beheer oor haar liggaam. Vanaand sterf ek, dink sy toe sy na die kombuis kruip. Maar sy kom nie verder as die wasbak nie. Toe haar aanvaller die deur agter hom toetrek, klap haar kop op die vloer. Sy voetstappe verdwyn die donker in.

Elize Parker-omnibus

Подняться наверх