Читать книгу Elize Parker-omnibus - Elize Parker - Страница 13

9

Оглавление

“Dit is ’n malhuis,” sê Nelia ’n paar maande na Adri se vertrek op ’n dag vir die ontvangsdame toe sy deur die voorportaal van die Hotel Woltemade beweeg. Die Kaap se besigste toeristeseisoen het eergister afgeskop. Clifton bars uit sy nate en op die Wynroete vloei die voggies. Sy het so pas by Emmie gehoor sy is tot senior konferensiebestuurder bevorder, die kroon op maande se harde werk.

Toe sy by haar kantoor instap, wag ’n aantreklike donkerkopman op haar.

Nelia se eerste gedagte is dat hy glad nie soos die publisiteitsfoto lyk wat sy vir die konferensieprogram ontvang het nie. Sy olyfgroen oë is wel net so onverstoorbaar en kalm, maar sy nek lyk sterker en sy skouers breër. Sy lyf lyk gespierd en ferm onder sy stylvolle pak. Haar blik glip van sy spierwit hemp tot sy blinkgepoleerde skoene. Peter Becker is duidelik ’n man wat daarvan hou om goed te lyk en goed te voel. Daarby is hy oorrompelend manlik. Selfs sy blik laat haar gewigloos voel.

“Peter Becker,” sê hy toe hy sy hand uitsteek. “Ek neem aan jy is Nelia Keet.”

Nelia neem sy uitgestrekte hand in hare. Tot haar verbasing lig Peter Becker haar hand na sy lippe en plaas ’n Franse kus daarop. “Vir iemand met soveel styl is ’n gewone handdruk nie goed genoeg nie.”

“Baie welkom by ons,” sê Nelia en dink by haarself: bly kalm, bly kalm. Jy tref nie elke dag vir Peter Becker, hotel­­magnaat, in jou kantoor aan nie. Sy dink aan sy kort lewensbeskrywing wat sy vir die programnotas moes ver­sorg. As die seun van ’n bekende sakeman was Peter ook vroeg in sy lewe honger vir sukses. Hy het vasberade en versigtig die familiesakeryk verder uitgebou. Sy sterk karakter en aanvoeling vir eiendom en die hotelbedryf het hom hier in sy middel dertigerjare reeds ongekende sukses besorg. Sy weet sy personeel het eindelose agting vir hom as ’n praktiese denker met ’n kalm en betroubare per­soonlikheid.

“Het jy tyd vir ’n koppie koffie?” vra sy sjarmant en wys na die sonnige buitestoep waar hotelgaste vir ontbyt plaas­neem. Hy aanvaar haar uitnodiging en hulle stap na die stoep.

Peter Becker evalueer met een blik die uitstekende ligging van die Woltemade. Die hotel lê soos ’n juweel binne die groen massa bome. Min van sy eie hotelle het hierdie soort ligging binne ’n stad met ’n internasionale toeristereputasie. Die Woltemade kan net ’n aanwins vir sy hotelgroep wees.

Hy stap saam met haar na die sonstoep. Nelia bestel koffie en gesels oor die hotel. “Ek kan jou reeds ’n voorlopige konferensieprogram gee as jy wil.”

“Die konferensie is ’n bysaak. Ek is hier om te kyk of ek julle hotel wil koop.”

Peter Becker ken die krag agter hierdie woorde. Gewoonlik ontlok dit ’n ontploffing. Hierdie kalm blondekop glimlag koel. “Die Hotel Woltemade is ’n instelling, ’n Kaapse tradisie. Geen geld ter wêreld koop ’n legende nie.” Sy nooi hom op ’n besigheidstoer en neem hom na die biblioteek, spesiale funksiekamers en die swembad. Sy is oorbewus van sy ondersoekende oë.

Ambisieus en energiek, dink Becker. Jy kom deesdae min ’n skoonheid teë met natuurlike blonde hare en ’n vlekkelose vel.

Dieselfde natuurlikheid ontbreek egter in haar persoonlikheid. Sy het ’n weggesteekte emosionele wêreld – daarvan is hy seker. Iets het haar jong hart al sterk gemaak. Sy is professioneel van haar kop tot haar tone. Hy wonder of sy sterk bande met die hotel het. Iets laat hom dink sy het insig in hoe Emmie Berger dink.

Hulle staan weer in die hotelfoyer. “Ek sal jou graag aan Emmie Berger wil voorstel. Het jy tyd?” vra Nelia.

“Ongelukkig nie,” sê hy en wys met ’n handgebaar dat hy haar buite wil sien. Toe hulle voor die Woltemade staan, sê hy: “As jy ooit werk soek, kontak my. Ek is werklik beïndruk met jou reëlings. En ek dink jy is nie verkeerd nie … ’n mens koop nie die Hotel Woltema­de nie. Is jy dalk lus om vanaand saam met my te gaan ­eet?”

“Ongelukkig kan ek nie.”

Peter sit sy donkerbril op. “Wel, sien jou weer,” sê hy en stap weg. Bitter min vroue weier hom ’n afspraak. Nelia Keet is ’n uitsondering op die reël. Na ’n oggend in haar geselskap kon hy haar nie peil nie. Al het hy soms persoonlik geraak, het sy hom netjies gesystap. Sy is ’n aanwins vir enige organisasie en ’n bate vir die regte man.

Die aand na Peter Becker se besoek het Nelia die glansryke jaarlikse bal van ’n groot korporatiewe instelling om agter die rug te kry, en het sy nie weer kans om aan hulle ontmoeting te dink nie. Daarvoor hardloop sy te veel heen en weer. Dit is laat toe sy uiteindelik die danssaal sluit en na die konferensiesentrum stap. Sy wil seker maak alles is in orde vir die volgende dag se program. Toe sy verby die orgideëhuis stap, hoor sy stemme.

“Asseblief, asseblief … laat my gaan. Ek het jou al sovele kere op kantoor gevra om nie aan my te raak nie.”

’n Manstem antwoord selfversekerd. “Jy hou daarvan. Ek kan dit in jou oë sien en aan jou voel.”

Nelia tree dieper in die skaduwees in. Dié stem ken sy: dit behoort aan die besturende direkteur van IBW. Nelia leun vorentoe. Die fris man druk ’n blondekopvrou se arms vas teen die glas. Sy verset haar teen hom. Hy swets en met ’n gesteun sê hy: “Geniet dit of jy verloor jou werk.”

Nelia tree uit die skaduwees en skakel die orgideëhuis se ligte aan. “Jy het haar gehoor … los haar uit!” Asof deur weerlig getref, los Zane Randall sy firma se skakelbeampte, Charmaine du Randt. “Wie dink jy is jy nogal om vir my bevele te gee? Emmie gaan hiervan hoor. Gun julle jul gaste nie privaatheid nie?”

Nelia help die blondekop op en sit haar arm om haar. “Natuurlik … mits hulle binne perke van die landswet optree. Wat jy wou doen, is onwettig.”

Richard Geertsema sluit by hulle aan. “Wat het hier gebeur?” Die blondekopvrou se liggaam ruk van snikke. “Hy het my teen my sin hiernatoe gedwing … en my gedreig dat hy my gaan ontslaan as ek nie saamspeel ­nie …”

Richard se oë flikker na Nelia. “Dit is die waarheid,” sê sy gespanne.

Richard merk Nelia is bleek van ingehoue emosie. Hy draai na Charmaine. “As jy ’n amptelike klag wil lê, is dit jou keuse. Dink egter daaraan dat jy die koerante se voorblaaie sal haal. Wil jy dit regtig hê? Die bewyslas in hierdie soort gevalle is swaar. Kom ons vind ’n ander manier om die saak op te los. Vir eers dink ek moet jy haar na haar kamer neem en in die bed kry, Nelia. Ek sal die saak self verder hanteer.”

“Jy kan hom nie laat wegkom daarmee nie,” sê Nelia teen alle hotelprotokol in.

Richard draai verbaas na haar. Hy is nie gewoond dat Nelia hom teëgaan nie. “Ek is seker ons sal iets kan uitwerk,” sê hy ferm. “Neem haar om te rus.”

Sy neem Charmaine se arm. “Kom neem ’n bad. As jy wil, kan die hoteldokter jou iets gee om te slaap.”

Richard sê kopskuddend: “As iemand hiervan te hore kom, weet die hele hotel dit binne ’n paar uur. Sorg jy vir haar.”

Nelia gesels vertroostend met Charmaine en neem haar na haar kamer. Daar aangekom, tap sy vir haar ’n bad en gee haar badskuim om in te bad. Sy hang ’n nagrok en japon teen die deur en maak dit toe. Charmaine neem ’n kort rukkie in die bad. Sy klim dankbaar in die bed nadat Nelia vir haar ’n slaappil gegee het. Sy sluit haar oë en klou aan Nelia se hand. “Dankie vir jou hulp.”

“Slaap rustig … môre is nog ’n dag,” sê Nelia en sit by haar totdat sy aan die slaap raak.

Sy kry vroeg die volgende oggend opdrag om by Emmie aan te meld. “Wat het gisteraand in die orgideëhuis gebeur?” vra Emmie nadat Nelia die deur van haar studeerkamer by Villa d’Este agter haar toegetrek het.

“Zane Randall, besturende direkteur van IBW, het sy skakelbeampte, Charmaine, gisteraand daar …” Nelia soek rond vir ’n woord. “… seksueel gemolesteer.”

Nelia besef sy het gisteraand te ver gegaan. Emmie aanvaar geen breuk in hoteletiket nie. Tog, sy is daarvan bewus dat Emmie haar nie sonder handskoene sal aanpak nie. Daar is ’n grens tussen hulle waaroor nie een van hulle tree nie.

“Gaan sy ’n klag lê? Ek hoop nie so nie. Die publisiteit kan die hotel eindelose skade aandoen,” sê Emmie.

“Vergeet die koerante! ’n Vrou is amper in jou hotel verkrag. Al waaraan jy kan dink, is die skade aan die hotel se naam. Jy is ’n klip, Emmie Berger. Hierdie hopie geel bakstene is jou lewe. Dit maak nie eers saak dat daar ’n potensiële molesteerder onder jou dak tuis is nie.”

“As jy ’n woord hiervan aan die polisie sê, dank ek jou af. Ek sal nie toelaat dat jy die hotel se reputasie op die spel plaas nie.”

“Jy gaan my nie met dreigemente keer nie. Charmaine is op pad na die polisie. Sy het my volle steun.”

“Getuig teen hom en ek skop jou uit my huis en uit my hotel. Ek sal sorg dat jy nie weer werk in enige hotelgroep kry nie!”

“Wees eerlik met jouself, Emmie. Diep binne weet jy dit gaan nie oor die hotel of oor Zane nie.”

Emmie spring op uit haar stoel. “Jy is heeltemal histeries. Jy ruk alles buite verband. Ek gaan nie toelaat dat die koerante die Woltemade uitmaak as die soort plek waar sulke dinge gereeld gebeur nie. Met so ’n stigma aan ons naam, kan ons vergeet om elite-gaste te trek. Zane het ons gevra om stil te bly, en stil gaan ons bly. Om ons eie bas te red.”

Emmie draai ongeduldig weg van Nelia en sê in ’n geforseerde stem: “Hoeveel geld wil jy hê? Zane is bereid om ’n redelike bedrag vir jou stilte te betaal.”

“Sê vir Zane Randall hy kan sy bloedgeld hou. Ek sien hom in die hof.”

“In daardie geval, pak jou tasse … Trap uit my huis en uit my hotel. Uit my lewe ook. Ek wil jou nie weer sien nie!”

“Dit is die tweede keer dat jy my uit die hotel en jou lewe wegjaag, Emmie. Glo my, ek gaan seker maak dat jy dit nie weer regkry nie.” Sy draai om en stap na die deur. “Wat van Carine? Wil jy hê ek moet haar saamneem? Of is Carine anders? Is sy die een Keet-suster wat jy kan verdra?” Sy sluk hard om haar asem terug te kry. “Ek moes geweet het nadat jy van Adri ontslae geraak het, gaan ek volgende op jou tref-en-trap-lys wees. Ek dink ek sien deur jou planne … Eers saai jy onmin tussen my en Adri … en nou tussen ons en Carine. Maar dit gaan nie werk nie, Emmie. Bloed is dikker as water.” Sy maak die deur oop.

“Moenie jouself bluf nie, Nelia. Julle was nog nooit ’n hegte gesin met gesonde familiebande nie. Daarvoor was jou ma se invloed te sterk gewees. Julle gesinsbande was aan die verbrokkel lank voordat ek op die toneel verskyn het.”

Nelia draai om en sonder om links of regs te kyk, klap sy die deur toe. Sal die verlede haar nooit met rus laat nie? Hier is sy weer aan die vlug omdat haar emosionele lewe deur ’n klein voorval ontrafel is.

Peter Becker. Sy is seker hy sal ’n betrekking vir haar hê. Hy het so geïnsinueer. Wanneer sy hier uit is, gaan sy hom kontak. Hoe gouer, hoe beter. Net Carine bind haar aan Kaapstad. Maar hoe lank nog? Die bloedband tussen haar en haar susters is nie so sterk nie. Haar en Adri se tienderjare en Carine se kleuterjare was die tyd van hulle grootste vervreemding. En dit is Ma Hettie se werk.

Tog, gister en vandag verlang sy eindeloos na Adri … Sy vermoed Adri verlang ook na haar en Carine. Sy het haar ’n paar keer van L’Agulhas af geskakel om te hoor hoe dit met Carine gaan. Aan haar stem kon sy hoor Adri is verwese. Toe sy in haar kamer kom, is die eerste besitting wat sy inpak ’n foto van die drie van hulle toe hulle jonger was: ’n sewentienjarige Adri, die driejarige Carine in die middel en haarself as tweedejaarstudent op ’n tuinbank iewers in hul Bredasdorp-tuin.

Een vir almal en almal vir een. Carine het dikwels in haar kleuterjare die Drie Musketiers se leuse op hulle van toepassing probeer maak. Min kon sy weet dat dit veel eerder tussen hulle drie “Elke vrou vir haarself” sou wees. Sou hulle, afsonderlik en saam, ooit Hettie se invloed kon ontgroei? Hoe lank gaan sy hulle vanuit die graf regeer?

Elize Parker-omnibus

Подняться наверх