Читать книгу Elize Parker-omnibus - Elize Parker - Страница 15

11

Оглавление

“Waarom juis nou?” skree Adri teen die wind in terwyl sy oorhaastig oor die rotsstrande van L’Agulhas, Afrika se mees suidelike stranddorpie, struikel-stap. Op Frans beteken dié dorpsnaam Kaap van Naalde. Vandag brand vuurwarm naalde in haar gemoed – veel seerder as die skrape aan haar bene wanneer die soutwater daarteen spoel. ’n Digte mis, vol soetsuur alikreukelreuke, krul om haar toe sy die hoogste rotspunt uitklim en oor die see uitkyk. Sy weet onder die oënskynlik onversteurbare seemantel lê vele skeepswrakke vol eeue oue geheime. So min soos die see sy geheime kan prysgee, kan sy haar geheim bekend maak.

Sy is swanger.

Die doktersuitspraak voel soos ’n doodsvonnis. Emmie se woorde is bewaarheid – of kry haar vloek bloot ge­stalte?

Adri stut haarself teen ’n rots. Die malende waters trek haar nader soos ’n magneet. Haar kop draai met die verbysterende wete: sy is swanger, swanger, swanger.

Die jong dokter was nie simpatiek nie. “Is jy getroud?” het sy met ’n opvallende blik na haar ringvinger gesê. Sy het iets uitgestotter oor ’n voornemende huwelik, maar sy kon sien die dokter glo haar nie. Sy het volgens ’n kalender die baba se waarskynlike geboortedatum bepaal. Adri was drie maande swanger.

Die dokter het ’n paar pamflette oor swangerskap en geboorte aan haar oorhandig. “Is jy hier met vakansie?”

“Ek woon voorlopig op L’Agulhas,” het sy huiwerig gesê.

“Ek wil jou oor ’n maand sien.” Daarmee was die besoek afgehandel. Sy moes kontant daarvoor betaal. Met die terugplaas van haar beursie in haar handsak het sy gewonder hoe sy die besoeke ses maande lank gaan bekostig. Indien sy nie eens die doktersbesoeke kon bekostig nie, hoe kon sy ’n baba op haar eie onderhou? Haar laaste salaris by die Hotel Woltemade het sy gebruik om kunsmateriale te koop. Sedert haar aankoms op L’Agulhas het sy ’n paar skilderye aan toeriste verkoop. Kontantvloei kan sy dit nie noem nie. Haar bankbalans is gevaarlik laag.

Sy het Nelis Mouton ’n ruk gelede geskakel om te hoor of hy ’n betrekking vir haar het, maar hy het haar saaklik meegedeel dat hy haar nie kan help nie. Van sy kollegas het ook deure in haar gesig toegemaak. Sy het besef sy sal nie weer werk in dié veld in Kaapstad kry nie.

Trane vloei oor haar wange wanneer sy aan Carine dink. Aan Richard wil sy glad nie dink nie. Sy het die vorige dag ’n artikel in die koerant oor hom gelees. Richard het uiteindelik die doel bereik waarop sy visier al die jare ingestel was. Hy is so pas aangestel as onderbestuurder van die Hotel Woltemade en verloof aan ’n biljoenêrsdogter. Sy wil hom nie met die verantwoordelikheid opsaal om tussen haar en sy nuwe liefde te kies nie.

Mis draal om haar. Die vuurtoring se ligbane breek met eentonige ritme daardeur. Sy stap vinnig huiswaarts. ’n Verroeste skeepswrak doem spookagtig uit die mis op. Diep uit haar geheue dryf gedagtes ook na bo. Ma Hettie het verwag sy gaan swanger raak sonder om getroud te wees. Male sonder tal het sy op haar geskree: “Jy is ’n klein flerrie. Wanneer jy agtien is, gaan jy swanger word en jou hele lewe ruïneer! Kyk hoe is jy aangetrek!”

Sy het op sewentienjarige ouderdom ’n vaste verhouding met Hugo Blignaut aangeknoop om haar verkeerd te bewys. Miskien was Hettie tog reg – toe Hugo Weermag toe opgeroep is, het hulle verhouding doodgeloop. Daarna kon sy nie weer vaste verhoudings aangaan nie. Wat sou gebeur het as haar en Hugo se paadjies nie geskei het nie? Hy was haar eerste groot liefde. Wie weet, dalk sou hulle paadjies weer gekruis het as sy nie so gedrewe was om Hettie en Bredasdorp tot elke prys te verlaat nie. Haar slegte verhouding met haar ma was die spil waarom soveel van haar lewenskeuses gedraai het. Selfs na haar dood het sy nog ’n invloed op haar lewe.

Wanneer gaan dit ophou?

Sy stoot moeg die deur van Zoetendal oop en leun daarteen. Sy stap na die kombuislaai en haal ’n skêr daaruit. Sy gaan staan voor die badkamerspieël en sny haar hare. Die skêr is te stomp vir dié werk en sy maak ’n gemors daarvan, maar sy gee nie langer om nie. ’n Paar stringe waai op ’n slag totdat haar hare ongelyk op haar skouers hang. Ontevrede sny sy die stringe korter totdat haar kapsel ’n klomp goue krulle om haar kop is. Haar smal gesig lyk voller en haar oë groter as gewoonlik. Sy bars moedeloos in trane uit. Niks kan die feit verander nie: sy is onteenseglik drie maande swanger. En sy het niemand om die nuus mee te deel nie.

Vir die soveelste keer wens sy Stefan Keet het nog gelewe. Hy sou weet wat om te doen en hoe om haar te troos. Nelia sal nie ’n saak daarmee hê nie. Sy het eers onlangs ’n onpersoonlike poskaart van haar gekry. En uit hulle enkele telefoongesprekke blyk dit duidelik dat Nelia slegs in haar loopbaan belangstel. Maar hulle praat darem weer met mekaar – al is dit net om Emmie sleg te sê. Dit lyk of hulle rusie rondom Richard altyd ’n waterskeiding in hulle verhouding sal wees.

En Carine is nou buite haar bereik. Emmie het haar na ’n paar desperate telefoonoproepe alle kontak verbied.

Op L’Agulhas het sy nie vriende nie. Sy het uit moedeloosheid ’n oproep of twee na Hugo-hulle se plaas gemaak. Sy ma was vriendelik en beleefd. Dit sou egter lank wees voordat Hugo na Bredasdorp terugkeer. Hy het vir ’n rukkie by die Weermag aangesluit, het Marietjie Blignaut haar meegedeel.

Sy byt haar trane terug en draai na die venster op die stoep. Branders stort teen die klippe. Verder aan lê die weggevrete kalkklipmure van die eertydse getypoel waarin sy ’n paar oomblikke van liefdesvuur saam met Richard en vele gelukkige ure saam met haar pa deurgebring het.

As hy net nie sy lewe geneem het nie, is sy seker sou dinge soveel anders uitgewerk het. Haar pa het haar rug toegehou teen Hettie en teen die lewe. Sy dink terug aan sy sterfbedwoorde: We dance in a ring and suppose, but the secret sits in the middle and knows.

Wat sou hy tog daarmee bedoel het? En uit watter gedig kom die versreëls?

Vasgevang deur haar besluiteloosheid, verf Adri dae lank verwoed aan ’n klomp doeke. Sy hou haarself aan ’n streng roetine. Elke oggend stap sy langs die kuslyn met ’n sketsboek en maak sketse van seevoëls en veldblomme. Later lê sy die rowwe sketse vas in olie of waterverf.

Sy is seker die hele dorp weet sy is swanger. In haar eie spieël is daar nie veel tekens daarvan nie. Haar klere raak egter beslis nouer. Binnekort gaan sy swangerdrag nodig hê, wat sy waar op hierdie verlate stranddorpie gaan kry?

Is daar nie dalk lap in die pakkamer nie? wonder sy. As daar is, kan sy ’n paar stukkies klere aanmekaarslaan. Hettie het koue wintervakansies op L’Agulhas gebruik om klere te maak en seker gemaak sy en Nelia kan naaldwerk doen.

Miskien moet sy die pakkamer uitpak. Dit sal haar besig hou. Haar dae is lank, uitgerek en vol trane. Sy wend wanhopige pogings aan om van Richard te vergeet. Hoe langer sy swanger is, hoe meer aarsel sy om met hom in aanraking te kom.

Soms kry sy angsaanvalle as sy dink sy moet sonder enige ondersteuning vir ’n kind sorg. Sy kan nie eens behoorlik vir haarself sorg nie. Ten minste het sy ’n gratis blyplek.

Sy vind die pakkamersleutel en sluit die muwwe vertrek oop. Die lig werk wonder bo wonder en gooi ’n geel glans oor meubels uit ’n vergange tyd. Verlore verledes en vergete vakansies neem vorm aan terwyl sy deur die kamer vol weggooigoed stap.

Sy maak ’n kartondoos oop en tot haar vreugde staan daarbinne, netjies in sy metaalhouer, een van Hettie se naaimasjiene. Hiermee sal sy vir haar ’n klerekas aanmekaar kan slaan. Nog ’n kartondoos lewer rokmateriaal en gordynlap op. Dalk kan sy nuwe gordyne vir die huis maak. Sy is lus om die plek mooi te maak en haar persoonlikheid af te druk.

Sy trek ritse en ritse materiaal uit die kartondose. Hoe­kom het Hettie die waardevolle materiaal hier geberg? Sy sleep die kartondose die huis in en drapeer die materiaal voor die vensters. Daar is genoeg vir nuwe bed­linne ook.

Sketsboek in die hand stap sy van kamer tot kamer. Die spanning in haar nek en haar hande verdwyn. Vir die eerste keer in weke raak sy traanloos aan die slaap, te moeg om aan rekeninge of Richard te dink.

Toe sy die volgende dag metodies die kartondose in die pakkamer uitpak, kom sy op ’n swaar pakkie, toegedraai in bruinpapier, onder in een van die kartondose af. Sy balanseer dit ’n oomblik in haar hand en probeer raai wat daarin kan wees. Sy skeur dit oop en vind tot haar uiterste verbasing ’n rewolwer daarbinne. Sy lees die naam op die loop: ’n Smith en Wesson .32.

Dit moet een van Pa Stefan se versameling wees. Hy was op sy tyd ’n voorste Bisley-skut. Sy het gedink die versameling is na sy dood verkoop. Wat maak hierdie rewolwer diep versteek in ’n pakkamer op L’Agulhas? Tensy dit natuurlik destyds Pa Stefan se selfmoordwapen was en Hettie dit hier kom bêre het. Sy draai dit om en om in haar hand. Wat moet sy daarmee maak? Dit kan sekerlik nie langer in die pakkamer weggesteek lê nie? Sê nou iemand breek in en steel dit? Sy draai dit besluiteloos toe in die bruinpapier en bly sit vir ’n rukkie op haar hurke langs die kartondoos. Sy plaas dit uiteindelik terug daarin en pak Hettie se materiale terug bo-op die pakkie. Sy verseël die kartondoos met toeplakpapier en skuif dit eenkant in ’n hoek.

Wat ’n grieselrige vonds! Sy wil liewers nie daaraan dink nie. Miskien is dit die rede waarom Hettie Zoetendal selde besoek het na Stefan se dood.

Sy trek die pakkamer se deur agter haar toe en kyk na die hoekkamer van die buitegeboue waar haar pa selfmoord gepleeg het. Sy stap die huis binne en gooi die materiale wat sy uitgesoek het op die eetkamertafel langs die naaimasjien neer. Maar voorlopig kry sy nie gewerk nie. Beelde van lank, lank gelede spook by haar.

Sy roep voor haar geestesoog ’n duidelike beeld van Stefan van agter in ’n gemaklike stoel in sy studeerkamer op, sy skraal arms tot by die polse toe met ’n spierwit hemp. Sy kop rus skuins teen die stoelleuning met sy blonde, krullerige hare agteroor gekam en sy bril skeef op sy voorkop geskuif. Hettie vee oor sy slape en toe sy haar hand oplig, is dit vol bloed. Sy neem die wapen uit sy hand en vee die bloed van die ivoorkolf af.

Sy weet min van rewolwers en pistole. Maar sy kan by­na sweer Stefan se selfmoordwapen was nie die Smith en Wesson .32 in die pakkamer nie.

Elize Parker-omnibus

Подняться наверх