Читать книгу Elize Parker-omnibus - Elize Parker - Страница 21

17

Оглавление

Adri vleg deur groepe Kapenaars wat in ’n swierige markiestent glasies klink tydens die jaar se belangrikste perderesies, die Met. Na die opening van Tassles doen Janet haar bes om haar aan die Kaapse elite voor te stel. Haar sosiale dagboek is reeds redelik vol. Die Kaapse in-klieks is altyd op soek na nuwe suksesvolle gesigte om hulle ander gaste mee te beïndruk.

Eers sien sy net sy blonde kop. Hy het ’n kraakwit hemp en donkerblou baadjie aan en staan met sy hand in sy broeksak. Rondom sy oë is daar veel meer plooie. Hy lyk ouer as die Richard wat sy onthou. Die besige vertrek kom en gaan voor haar oë in ’n waas van indrukke en geluide. Sy neem lighoofdig ’n glas sjampanje by ’n kelner. Haar oë bly op Richard vasgenael. Hy kyk skielik op. Sy wakker oë beweeg oor die skare koppe, maar voordat hy Adri raaksien, neem iemand hom aan die arm. Adri draai om toe Janet haar arm om haar skouer sit en haar aan ’n paar kennisse voorstel. Na die kennismakings lig sy haar oë op om weer na Richard te soek.

Hy is besig om sy weg deur die skare na haar te vind, sien sy ontsteld. Hy groet ’n vriend met ’n gemaklike hand­wuif sonder om sy oë van haar weg te neem. Hulle ondersoek mekaar se gesigte totdat hy voor haar staan. “Ek het nie gedink ons weersiens sal so wees nie. Beslis nie hier ­nie …” sê hy sag. Hy wys met ’n wye handgebaar na die tent. Sy oë verlaat nie haar gesig nie.

Was sy stem altyd so diep? “Ja, wie sou nou kon ­dink …” sê sy. Veilige clichés, holrug geryde uitdruk­kings – bruggies oor die stiltes van jare. Het ons na al die jare nie veel meer om vir mekaar te sê nie? wonder sy.

Hy kyk rond asof hy ’n ontsnappingsroete soek. “Kom, ek wil nie hier met jou praat nie,” sê hy. Hulle gaan staan teen die reling van die resiesbaan.

Adri is oorbewus van haar omgewing. Die skemer se sagte voete sluip lilapers teen Duiwelspiek. Melodieë gespeel deur die strykorkes dryf uit die tent na hulle. Speak softly, love …

Richard leun met sy rug teen die reling sodat hy na haar kan kyk. “Ek wens ek het tyd gehad om hiervoor te oefen. Ek sou iets sarkasties wou sê. Maar jy slaan my asem weg. Jy lyk so mooi.”

“Jy lyk self goed. Die getroude lewe pas jou.”

Hy draai weg van haar. “Ek kon nie vir jou wag nie. Ek het jou teen my roekelose kant gewaarsku. Jy het geweet ek kan nie verwerping verwerk nie.”

Adri leun oor na hom, haar hand uitgestrek in ’n moedelose gebaar. Oorbewus van die verwyt in sy stem, trek sy haar hand terug. “Ek het jou nie gevra om vir my te wag nie. Ek het geweet wat op die spel was.” Sy staan terug, want sy moet van hom wegvlug soos jare gelede. Maar sy kom nie weg nie. Sy hand rus op haar skouer toe sy omdraai. Sê hom nou van Jade, spoor sy haarself aan. Maar die oomblik voel nie reg nie.

“Het dit ’n gewoonte geword om weg te hardloop, Adri?”

“Ek is jammer,” sê sy. Sy aanraking het haar met ’n in­tense heimwee gelaat.

“Waaroor?”

“Alles,” sê sy en draai weg. Dit is nou stil in die donker skadu’s onder die groot bome.

“Ek het niemand na jou ooit weer so liefgehad nie,” sê hy skor.

Die donker misterie van die aand vou om hulle toe. Verlore in tyd staan hulle vir ’n oomblik soos figure in ’n pa­piergewig vasgevang. Sy stap eerste weg, haar rug op hom gedraai. “Wie was hy, Adri?” vra hy voordat sy by die tentdeur in verdwyn.

Sy steek vas. ’n Sekelmaan maak sy buiging bo die dennebome se silhoeëtte. En sy weet hoekom sy in al dié jare nie van hom gehoor het nie en hoekom hy so gou getroud is.

Sou Emmie se leuens nooit ophou nie?

Sy stap die helderverligte tent vol luidrugtige musiek nikssiende binne. Laat hom glo daar was iemand anders. Sy het alle wapens nodig om dit makliker vir haar te maak om die Moederstad met hom te deel en hom nie van Jade te vertel nie. Indien hy dit glo, sal hy nie weer na haar uitreik nie.

Tassles groei binne ’n jaar van ’n kwilt-cum-interieurwinkel tot ’n gewilde leefstylwinkel. Adri se eksklusief ontwerpte produkte gryp die gesofistikeerde koper en binnenshuise versierder se verbeelding aan. Al het sy nie die geld nie, begin sy materiale druk. Die aanvraag is daar. Haar grootste probleem is dat sy nie met tekstiele en produkte uit haar fabriek kan voorbly nie. Die oomblik dat produkte op die rakke kom, verkoop hulle soos soetkoek.

“Wat is Tassles se sterkste punt?” vra Max toe hy na die viering van die winkel se eenjarige bestaan Adri se Kampsbaai-woonsteldeur agter hom toetrek. Sy het hom reeds gepols oor nog moontlike winkels.

Haar woonstel is ’n uitstekende advertensie vir die winkel. Verskillende tekstiele met rose uit haar eie materiaal­reeks is ingespan om die ouerige woonstel met sy hoë plafon ’n gesellige en romantiese atmosfeer te gee. ’n Knus hoekie in die komvenster is vol rooskussings gepak en nooi besoekers nader om die uitsig te waardeer. Regdeur verskaf plakpapier en plakpapierrande ’n afgeronde atmosfeer. In haar slaapkamer lyk die bed snoesig onder ’n trooskombers en los kussings met roosappliekwerk.

“Die produkmengsel en ons reekse,” sê Adri en krul op die bank op.

“Verkoop die konsep per konsessie en word alleenvoorsiener aan die winkels. Brei eerder die fabriek uit as om meer winkels oop te maak,” sê Max en neem langs haar plaas. “Maar ek dink ons het nou genoeg besigheid gesels vir een dag.”

Hy trek haar nader en los ’n soen op haar hare voordat hy haar kop na hom draai en met sy lippe oor hare streel. “Ek weet vandag is vir jou ’n betekenisvolle dag. Ek wil dit nog meer betekenis gee deur jou te vra om my ’n kans te gee om jou lewe te deel, Adri. Op jou terme. Ek weet jy wil nie aan trou dink nie. Maar ek wil op ’n meer permanente basis deel van jou elke dag wees. Gee my net die kans.”

Dierbare, wonderlike Max wat altyd die groter besigheidsprentjie sien, dink Adri. Altyd daar met raad en daad. Hy wys nie dikwels sy ware gevoelens nie, maar is ’n buitengewoon bedagsame minnaar.

Het tyd geduld met diegene wat doelbewus hulle rug op die liefde draai? wonder sy. Sy het genade om van voor af lief te kry so nodig. En Max bied dit vanaand aan haar. “’n Gewoonte om weg te hardloop”, het Richard dit ge­noem. Vanaand wil sy hom verkeerd bewys. Vanaand hard­­loop sy in Max se arms in – al is dit vir al die verkeerde ­redes.

Elize Parker-omnibus

Подняться наверх