Читать книгу Elize Parker-omnibus - Elize Parker - Страница 11

7

Оглавление

Op ’n mistige Aprilmiddag in 1974 ry Adri en Richard deur die Overberg na L’Agulhas. Hulle verhouding is steeds geheim en daarom gebruik hulle die gesamentlike wegbreeknaweek om so ver moontlik van Kaapstad weg te kom. Richard is bang Emmie ontslaan hom indien sy daarvan uitvind. Emmie is nougeset oor die reël dat haar werknemers nie verhoudings met mekaar mag aanknoop nie. Noudat Emmie en Carine egter oorsee reis, kan hulle effe meer ontspan.

Richard stop by die viswinkel op L’Agulhas toe hulle daar aankom. “Hier is iemand wat jou ken,” sê Richard toe hy na ’n rukkie uit die winkel kom. Hy wink ’n ouerige vrou nader. Adri betrag die vrou in die dik trui met ’n wolmus laag oor haar ore voordat sy haar herken. Sy klim uit die motor en groet haar: “Tant Helie! Richard, ontmoet ’n vriendin van my oorlede ma, Helie Carstens. Sy is die distrik se vroedvrou.”

“Jammer om van jou ma te hoor,” sê Helie in ’n skor stem. “Wat kom maak julle hier?”

“Ek het Richard aan die Overberg kom voorstel.” Die ou tante gee Richard ’n betekenisvolle blik. Adri bloos teen haar sin.

“Ek het haar geleer om met ’n handlyn vis te vang,” sê tant Helie.

Adri groet met die hand asof sy haastig op pad iewers heen is. “Dit was lekker om Tannie weer te sien. Bly Tannie nog hier?”

“Ek het nog die huis. Kom loer gerus in. Ons hoef nie ou wonde oop te krap nie.”

Toe hulle wegtrek, dink Adri na oor Helie se woorde. Hettie en Helie was kindertydvriendinne. Iets moet tussen hulle gebeur het waarvan sy niks weet nie. Ou wonde? Wat sou sy tog bedoel?

Zoetendal staan met ’n verwaarloosde elegansie en statigheid tussen die aankruipende fynbos toe hulle daar aankom. Die afgeskilferde groen hortjies en windverweerde teëldak wys dat die agthoekige huis te lank onbewoon in die bek van die suidoos gelê het. Die inrypad se witklip­plaveisel en die suidekant van die smal skoorstene is oorgroei met donkergroen mos.

Toe die deur agter hulle toeklap, is dit duidelik dat die tyd tussen hulle laaste kuier en vandag te lank was. Adri se grootste vrees dat haar eerste besoek aan Zoetendal na haar pa se selfmoord haar huilerig en hartseer sou laat, is gelukkig ongegrond. Sy gooi haar arms om Richard se nek en plaas ’n stroom soene oor sy voorkop voordat haar tong syne uit sy mond tart en sy hom tergerig kamer toe nooi.

Hulle tuimel vooroor op die hoë eikebed. Adri sit haar kop teen die bedstyl sodat haar blonde hare soos ’n waaier agter haar lê. Richard trek sy T-hemp oor sy kop en maak sy gordel los. Sy luister met toe oë na die musikale voorspel tot hul minnespel … die onmiskenbare verleiding van ’n denimrits wat oopgetrek word. Hy knoop haar rok los en soen haar koel vel. Die skemer gooi kombers oor hul naakte broosheid. Sy wieg dromend teen hom totdat ’n gul gloed haar heupe vul. Matelose begeerte dwing haar om die bakens van sy lyf op te soek. “Jy is my droomminnaar,” fluister sy. Niks laat haar so volmaak vrou en so volledig mens voel as om Richard liefdevol aangedruk teen haar te voel nie. Hy trek haar bo-op hom. Sy vou haar bobene om hom en krul teen hom aan totdat ’n heerlike warmte oor haar vel vloei. Hy hou met ’n stewige greep aan haar vas en rol eers na ’n ruk weg.

Hy kyk met ’n lui glimlag na haar. “Jy lyk op jou vroulikste in onopgemaakte beddens.”

“Jy praat te veel …” kla sy spottenderwys en rol tot langs hom. Met haar kop teen sy skouer oorval ’n diepe rus haar. Lank nadat hy reeds aan die slaap geraak het, lê sy nog dromerig wakker. Buite ruk die wind aan die hortjies. Veraf storm branders teen die rotse. Sy staan op en gaan maak vir haar ’n beker stomende koffie. Sy stap uit op die agterstoep en tuur lank na die hoekkamer van die buitegeboue. Daar is nie veel om te sien nie. Hettie het na Stefan se dood die vensters en deur met houtplanke laat toespyker. Aan die kamerinhoud is daar nog nooit geraak nie.

Adri draai weg voordat sy weer in angstige gedagtes oor Stefan se selfmoord versonke raak. Die lewe gaan onvermydelik voort. Dit is juis wat sy met hierdie besoek aan haarself wou bewys. Sy stap na binne en kruip weer langs Richard in. Sy leun oor en soen hom. Hy roer nie eens nie. Sy neem sy gesig in albei hande en soen hom vol op die mond. Hy maak sy oë oop, plaas sy arms om haar en trek die kombers stywer om hulle.

“Ek haat storms. Dit laat my aan my kleintyd dink. Dit was altyd so mislik om alleen in ’n storm te wees.”

Richard het alleen by sy ouma grootgeword. Sy ouers is in ’n ongeluk oorlede toe hy nog klein was. Adri ken die verhaal, maar laat hom toe om sy hart uit te praat. Die storm het hom kwetsbaar gemaak. Nie eens in hul intiemste oomblikke was hy al so openhartig met haar nie. Buite raak die storm ’n paar oomblikke stil, asof selfs die natuur hom hierdie kans wil bied om sy hart oop te maak.

“Dis seker hoekom Emmie vir my soos ’n ma is. Sy het my in haar hotel ingeneem toe niemand my wou gehad het nie.”

Sy het nie besef Richard aanbid die grond waarop Emmie loop nie. Emmie het duidelik ’n emosionele houvas op hom. Sy kruip vaster teen hom, maar sluimer nie saam met hom in nie. Sy is te verontrus oor sy mededelings. Buite tier die storm voort.

Oor die branders en oor Zoetendal breek die vuurtoring se helder ligbane met die ritme van die noodlot.

’n Paar dae nadat Emmie van oorsee teruggekeer het, ontbied sy Adri na haar kantoor. Adri sien sy is erg gespanne. “Het ek jou nie teen Richard gewaarsku nie? Het ek jou nie vertel hy is ’n hartebreker nie? Toe ek my rug draai, gaan kruip jy in ’n goedkoop liefdesnessie saam met hom!”

“Wat tussen ons gebeur het, was nie goedkoop nie,” sê Adri bewerig. Hoe weet Emmie daarvan? Het Richard haar vertel?

“Ek gaan hom vanmiddag afdank. As ek dink wat ek vir hom gedoen het! Stank vir dank!”

Adri dink terug aan Richard se fluisterende onthullings na hulle minnespel. Hy sal gebroke wees indien hy sy pos verloor. “Richard het niks hiermee uit te waaie nie. Ek het hom verlei. As jy iemand wil uitgooi, gooi my ­uit.”

“Ek moes geweet het jy is nes jou suster. Net so maklik om op jou rug te kry.” Die dun lyne om Emmie se mond trek in ’n plooi.

Adri het nog nooit so aan Nelia gedink nie. Nelia vermy mans soos die pes. Is Emmie heeltemal van lotjie getik?

Emmie tier voort. “Ek het nog altyd gedink Richard sal groot hoogtes bereik. Dit is hoekom ek hom bevorder het.”

Adri tree agteruit. “Richard het my in geen stadium verlei nie. Die hele verhouding was my skuld.”

“Wel, as ek jou ooit weer naby Richard vang, is hy sy werk kwyt. Trap uit my hotel en my huis uit! Moenie eers daaraan dink om Richard weer te kontak nie. En bly weg van jou onskuldige sussie.”

Adri tree agteruit. “Jy is genadeloos. Waar gaan jy vir Richard en Carine sê is ek heen?”

“Vir Carine gaan ek sê jy is oorsee om te studeer. Vir Richard gaan jy ’n afsêbrief skryf. Hoe jy op pad is na beter dinge in die kunswêreld en nie teruggehou wil word deur ’n man nie. Jy kan die brief op my bed los. Sorg dat jy uit my huis is as ek vanaand daar kom, anders verloor Richard sy werk.”

Adri haas haar. Sy wil so gou moontlik wegkom. Sy hoor Nelia in haar kamer beweeg, maar sy kan nie na haar oudste suster hardloop nie. Sy het haar teen Richard gewaarsku. Hoe het sy dit gestel? Ek praat nooit weer met jou as jy my kanse by die hotel bederf nie.

Nelia kom loer self in. “Wat maak jy?” vra sy verbaas toe sy sien Adri is besig om haar tasse te pak.

“Emmie het my weggejaag uit die hotel en die huis. Sy het uitgevind dat ek en Richard vir ’n naweek weg was. Hóé weet ek nie.”

“Ek het jou gewaarsku!”

“Hou op om die heilige maagd te speel. Met wie het Emmie jou op jou rug gevang?” vra sy sarkasties. Nelia word wasbleek en stap by haar kamer uit.

Adri het gedink die spanning tussen hulle sal verminder na hul ma se dood, maar die afgelope paar maande het bewys daar lê te veel onopgeloste emosies tussen hulle om mekaar nou te vind. Hulle is te lank grootgemaak om met mekaar mee te ding.

Sy gaan sit om vir Richard en Carine briewe te skryf. Die gedagte tref haar soos ’n hou in die maag. Sê nou sy sien Richard werklik nooit weer nie? Sê nou Carine vergeet haar na ’n ruk? Sy voel koud en bewerig, asof iets harteloos oor haar gespoel het en haar meesleur – weg van almal wat vir haar saak maak. Sy moet so gou moont­lik hier wegkom, dink sy ontstemd – voordat sy Richard of Carine te sien kry. Sy gaan nie in die pad van hul geluk staan nie.

Sy rammel vinnig die briewe af en gryp haar tasse. Sy weifel vir ’n oomblik in Nelia se deur om haar te groet. Nelia kyk nie eens op nie. Adri drafstap na haar motor en hoop die wispelturige ou enjin hou tot by Zoetendal. Dit is al heenkome wat sy het.

Elize Parker-omnibus

Подняться наверх