Читать книгу Elize Parker-omnibus - Elize Parker - Страница 4

Proloog

Оглавление

Haar pa dra die dood reeds soos ’n tweede vel, dink Adri Keet.

Sy draai om na waar haar ma se stem uit die sitkamer opklink.

Selfs vanaand hou Ma Hettie hof. Soos vele ander aande. Sy ontvang besoekers asof Stefan Keet reeds oorlede is.

Adri voel die rowe van ’n langvergete wond onwillekeurig afdop. Het sy dan nie lankal die bekende pyn agtergelos nie? Of sal dit elke keer terugkom terwyl sy nog in Hettie se mag vasgevang is?

Sy is so moeg vir die manier waarop haar ma ou pyn kan ontgin.

Sy buig nader. Haar pa fluister, maar sy hoor net die helfte van die gedig. Tot hier op sy sterfbed bly hy die Engelse skoolmeester wat hy so lank in sy lewe was, die verfynde man wat Engelse gedigte kon voordra soos wat ander mense familiename kon opsê.

“We dance around in a ring and suppose, but the ­secret sits in the middle and knows,” dink Adri sy hoor hom fluister. Sy herhaal sy woorde asof sy weet dit is nodig om dit te onthou. “Robert Frost,” fluister hy verder. Sy volgende woorde gaan verlore in ’n gehyg en ’n ge­hoes.

Adri draai weg en hou haar mond vir ’n oomblik met haar hand toe terwyl sy op haar lippe byt. Sy eens sagte stem is nog sagter.

Sy draai terug en kyk na sy veranderende gesig. Daar is skielik ’n seëvierendheid daaraan. Die dood kan nou nie ver wees nie. Dan weet sy ineens waar die lig in sy oë vandaan kom

Met sy selfmoord behaal hy die enigste groot oorwinning van sy lewe – ’n oorwinning oor haar ma.

En skielik weet sy hierdie oorwinning is onlosmaaklik aan sy laaste onverstaanbare woorde gebind.

Sy kniel op haar knieë voor die bed. “Wat het Pappie gesê?”

Maar die plooie om Stefan Keet se oë vou reeds sy lewe­lose irisse toe. Adri lê haar kop op sy stil hande en soen vir oulaas die nou willose breë palm.

Elize Parker-omnibus

Подняться наверх