Читать книгу Leiboom - Eunice Basson - Страница 10

Het jy al die wind gesien

Оглавление

Het jy al laataand

na buite gestap, gesien hoe die wind

stil-stil bo die aarde

wolke soos wasgoed bondel,

soms dun wit strepe oor die houtskool nag trek,

of ’n katarakvlies oor die maan vee?

Dan kruip die wind weg en lê vir dae uitasem

in die skedes van grashalms,

maar die natuur se rekwisietemeester

blaai deur die teks, sy stel vra vir reën:

die wind gaan haal homself uit sy seile,

por massas skuim oor die blou dag aan

met byklanke wat spat uit sy kieste.

’n Ligflits skeur die gordyn,

flentervlae stryk oor die stad.

Paaie word spieëls, straatligte hang diep soos sterre

en my kat vou haar pote, kyk verleë

hoe die wind by die venster my bloes laat bol.

Leiboom

Подняться наверх