Читать книгу Skarlaken - Irma Venter - Страница 10
3
ОглавлениеMens ry wes Carnarvon toe. Blykbaar is dit in die Noord-Kaap.
Ek maak die KTM oop dat die grondpad se stof breed agter my lê. Ek ry al lank. Op die N12 tot by Kimberley, toe Douglas se kant toe, Prieska, en af suid tot by Carnarvon. Piepklein plekkie.
Die plaas Lekkerkry is net-net verby Carnarvon, op pad Vanwyksvlei toe, sê my GPS.
Dis nie sleg om weer op die oop pad te wees nie. Inteendeel, dis nogal lekker. Al weet ek dis eintlik net uitstel voor ek my ma en die res van my familie in die oë moet kyk en jammer sê. Voor ek my honde by my ouboet moet gaan haal en sy vrou my tien keer gaan vra of ek okay is. Régtig okay is.
Lekkerkry se ou wit plaashuis lê teen ’n skuinste. Die stoep strek lank en breed voor die huis, en ’n netjiese klippaadjie kronkel tot by die voordeur. Die dag se laaste lig blink op die ry vensters wat oor die vlakte uitstaar. ’n Ry hoë, yl bome buffer die huis aan die westekant.
Waar’s Jaap? Ek sien nie sy Corolla nie. Ek’s nie lus vir vreemde mense nie. Nee, ek’s nie lus vir ménse nie.
Iemand het die motorfiets se stofspoor gesien of die dreuning gehoor – die KTM raas hard in hierdie ooptes. ’n Gryskopvrou verskyn op die stoep, hande toegevou in haar voorskoot.
Ek parkeer die motorfiets onder die bome, maak dit staan en klim af. Haal die valhelm af en vryf deur my hare. Bly besluiteloos staan.
Die vrou vee haar hande tydsaam aan haar voorskoot af. Kyk uiteindelik op en vind my oë onwillig. Sy lyk soos my ma. Verby vyftig en altyd besig met haar hande. Mooi hare. Die grys krulle val sag om haar skerp gesig.
Dis seker Janien se ma. Jaap se suster.
Ek hou my besig deur my bagasie af te laai. Waar ís Jaap? Ek trek my handskoene uit en wikkel die serp los onder my leerbaadjie. Haak die rugsak oor my skouer en die valhelm oor my arm, vat die sportsak in my linkerhand.
Die vrou draai na die voordeur en roep: “Jaap, sy’s hier!”
Ek loop stoep toe, sit die rugsak neer, dan die sportsak.
“Hallo.” Onthou waar ek is. “Middag, mevrou.”
Sy skud my hand versigtig. “Noem my sommer tannie Vonnie.”
“Dankie,” sê ek ongemaklik. Ek hou nie van tannie sê nie. Ek noem my eie tante op haar naam.
Sal dit die motorfiets wees wat Vonnie se stem so stram maak? Nes my ma s’n soms. Of miskien is dit die kort hare, of die swaar swart knielengtestewels. Miskien die geskeurde jeans. Take your pick.
Jaap verskyn in die deur, wit servet in die hand.
“Kom in,” nooi hy. Hy kyk van Vonnie na my. Druk die servet teen sy lippe. “Ons eet juis aandete.”
Hy het gisternag al gery, net ná ons gepraat het. Ek het eers vanoggend vroeg in die pad geval. Die man moenie dink ek gaan spring as hy sy vingers klap nie.
Ons loop die ruim huis binne. Die meubels is ouerig en gerieflik – vir gebruik, nie spog nie. Daar is talle foto’s teen die mure. Kinders in skoolklere en sportklere, en dan ’n reeks waar twee seuns en ’n dogter graad vang. Die trotse ouers. Vonnie se man is ’n bietjie ouer as sy, of dalk lyk hy net ouer. Volgens die foto’s het hy al vroeg grys geword. Daar’s diep lyne om sy oë, asof hy sy lewe lank al mik om ver te kyk. Sonbruin gesig.
Dis huis voel soos my ma en pa … my ma s’n. Die mure is benoud en neerdrukkend. En een van die mense op hierdie foto is ook dood.
Ons loop na ’n formele eetkamer waar ’n man staan en wag, pyp in die hempsak. Hy is langer as wat die foto’s sê. En hy ruik na tabak, nes my pa.
Hy skud my hand. Syne is warm en groot.
“Welkom, Sarah. Jy moet moeg en honger wees. Wil jy gou gaan bad? Ons sal wag tot jy klaar is.”
Hy beduie na die kos op die tafel waar tien mense kan aansit. Pampoenkoekies en lamsvleis stoom asof dit nou net uit die oond gekom het.
My asem raak al minder. Wat soek ek hier?
“Eet julle,” sê ek vinnig, sluk aan die droogheid in my keel. “Ek sal sommer stort. En dan aan die werk spring. Ek weet die tyd is min.”
Vonnie lyk geskok dat ek so met die deur in die huis val.
Dit laat my onthou waaroor Ranna altyd met my baklei. En my ma, en Adriana.
“Jaap kan sommer vir my kos bring. Asseblief, mevrou … tannie.”