Читать книгу Skarlaken - Irma Venter - Страница 13

JAAP 1

Оглавление

“Slaap sy nog?” Obie trek aan sy pyp dat die wit rook lui opkrul tot teen die stoep se dak.

“Ja. Sy’t tot laat gewerk.”

Ek kyk onderlangs na my swaer. Dis elfuur en gewoonlik sou hy al weg gewees het met die bakkie, veld toe, maar vandag is hy by die huis. Hy pas seker vir Vonnie op. Dié is skuur se kant toe, saam met Hendrik, haar regterhand, wat netnou die inhoud van Janien se kamer gaan begin uitdra.

“Hoe ken jy die meisiekind?” Obie vermy my blik, tuur die verte in.

“Ek het haar tante laas jaar ontmoet. Haar vriendin, Ranna, ken ek al jare lank. Sarah is darem bietjie ouer as wat sy lyk.”

“Wat doen sy presies?”

“Die tante? Of die vriendin?”

“Nee, die meisiekind.”

“Sy werk met rekenaars.”

Obie hoes soos ’n ou man, droog en lank. “Vonnie dink sy’s die ongeskikste mens wat sy al ooit ontmoet het.”

Sou Vonnie hom gestuur het om met my te praat? Sy wil Sarah seker so gou as moontlik hier weg hê.

“Sy’s baie goed met wat sy doen, maar mense is nie haar sterk punt nie. Dit het haar laas jaar drie dae geneem om twee woorde vir my te sê.”

“Was seker nie goeie môre nie.”

Ek skud net my kop. Ek gaan beslis nie vir Obie sê wat dit was nie. Ek hét immers op haar rugsak se skouerband gestaan.

Obie beduie na die oranje KTM en lag dat sy ooghoeke kreukel. “Vonnie sê vroumense ry nie sulke goed nie.”

“Sarah kan daai fiets uitmekaar haal en weer aanmekaar sit.”

Sy wenkbroue lig. “Die enjin ook?”

“Sy verstaan masjiene. Dis asof hulle met haar praat.”

“Klink soos jy en Janien. Jy’t haar verstaan. Partykeer het jy beter as ek of Vonnie geweet wat in daai kop van haar aangaan.”

“Dink jy so?” Ek weet nie of ek saamstem nie. “Ek dink ons het almal meer tyd nodig gehad. Ek vermoed ons sou beter gevaar het as ons bietjie ouer en wyser was. Meer geduldig met mekaar.”

Nes ek en Vonnie en ons polisieman-pa. Nes die meeste gesinne seker.

Obie trek-trek aan sy pyp. “Maar toe is daar niks meer tyd nie.”

Dis lank stil tussen ons voor ek weer praat.

“Sê vir Vonnie ek sal Sarah so gou as moontlik hier wegkry. Sy’s net hier omdat ek gevra het. Ek is seker sy wil huis toe gaan. Sy was lank op die pad ná haar pa se dood.”

Obie sê niks, kyk net weg pan se kant toe, sy lippe dun en wit om die pypsteel.

Skarlaken

Подняться наверх