Читать книгу Skarlaken - Irma Venter - Страница 14
2
ОглавлениеMiskien is Vonnie moedswillig, soos toe ons klein was en sy aspris die suiker gemors en vir Ma gesê het dit was ek.
Sy begin by Janien se rekenaar. Dis halftwaalf en sy vat die skootrekenaar en die fone eerste. Hendrik kyk skrams na my van onder sy slap wit hoed, en loop dan stom met die stoeptrappe af. Hy’t vir Janien geleer vragmotor bestuur, haar geleer om te sien as daar reën aankom. Hy praat steeds af en toe van haar, as Obie in ’n goeie bui is en nie omgee nie. Mens vergeet ander mense mis haar ook.
Ek spring op. Het Sarah als wat sy nodig het? Hoe lank gaan sy dan nog lê en slaap?
Ek draf in die gang af, klop en loop by die gastekamer in. Draai in my spore om en maak die deur weer toe. Dit lyk dan asof die kind kaal slaap, met die vensters wawyd oop.
Vrou. Wragtig. Laat ek nie dieselfde fout as Obie maak nie.
En slaap, slaap sy vas, al is dit ’n vrieskas daar binne. Ek klop weer, harder dié keer.
Uiteindelik hoor ek beweging. Ek maak die deur op ’n skreef oop. “Kan ek inkom?”
“Nee.”
“Hendrik dra die rekenaar aan vir Vonnie se braaivleisvuur. Is jy klaar?”
Sy mompel iets. Ek hoor beddegoed ritsel. ’n Ritssluiter. ’n Vloekwoord wat ek hoop Vonnie nooit sal hoor nie.
Die deur swaai oop. “Wat is dit?”
Sy het ’n klein, dun hempie en jeans aan. Kry mens kleiner as die verkleinwoord? Help ook niks dat dit die middel van die winter is nie.
Ek kyk in die gang af. “Die rekenaar …”
“Ek het als wat ek nodig het.”
“Is jy seker? Wat as jy iets gemis het?”
Sy vee oor haar oë. “Ek het haar hard drive en haar foon geclone. Die Samsung.”
“Is dit al? Is jy seker dis genoeg?”
Ek kan sweer sy lag vir my wat so in die gang af praat.
“Ja. Ek sê mos, ek het die binnegoed gecopy. Ál die binnegoed.”
Ek vergeet om nie te kyk nie. “Wat as Vonnie uitvind?”
Sarah se wenkbroue lig. “Hoe gaan sy uitvind?”
“Seker. Het jy iets gekry?”
Sy vou haar arms om haar lyf, asof die koue haar skielik vang. Gaap. “Ja.”
“Nou trek aan en kom vertel my.”
“Kan ek ontbyt kry?”
“Ontbyt? Middagete staan al reg.”