Читать книгу Skarlaken - Irma Venter - Страница 16

2

Оглавление

“Jislaaik! Wanneer laas het jy jou kar skoongemaak?”

“Jammer.” Jaap vee die Wimpy-sak van die Corolla se passasiersitplek, bedink hom dan en klim uit. Hy loop om die motor, leun in en tel alles op: wegneemkoffiekoppie, Flake-papiere, leë biltongpakkie. “Dis ’n lang pad tot hier.”

Hy hink huis toe om die rommel weg te gooi, en kom terug. Staan by die kar se deur en steek die pante van sy ligblou hemp, toe onder ’n dik bruin baadjie, in sy chino’s. Die hemp beklemtoon die blou van sy oë. Ek wonder skielik of hy ooit getroud was. Of iemand vir hom gesê het sy oë lyk mooi as hy ’n blou hemp dra.

Ek skud die gedagte af en klim in die motor. Soek na die knoppie om die venster oop te maak.

Jaap sak langs my in die bestuursitplek neer. “Jy moet draai. Ek het nie elektriese vensters nie.”

Hier sit seker nooit iemand langs hom nie. Ek skuif die sitplek terug en draai die stywe, protesterende slinger, glad onder die wolhandskoene waarvan ek die vingerpunte afgeknip het.

Hy blaas in sy hande en trek weg, kyk na die oop venster. “Dis koud. Moet daai ding oop wees?”

“Ja.”

Ek rits my leerbaadjie toe en trek die serp stywer teen my ken. Asem die vars lug in.

Op pad na die hek sien ek ’n groep mense naby ’n enkele groot doringboom staan. ’n Entjie weg staan ’n meganiese skopgraaf. Bo hulle lê die grou wolke laag en vol. Twee kraaie vlieg verby en kras hard, gaan sit op die naaste telefoonpaal soos toeskouers wat kaartjies gekoop het.

Ek draai om om na die toneel te kyk. “Vonnie?”

Jaap sug. “Ja.”

“Is dit die sloot met Janien se goed wat sy wil brandsteek?”

“Ja.”

“Doen sy altyd sulke goed? Dit voel vir my soos iets wat Janien sou gedoen het.”

Jaap kyk verbaas na my. Die Corolla ry al stadiger – nie dat ons ooit vinnig gery het nie. Dan lag hy uit sy maag uit, diep en lank.

Skarlaken

Подняться наверх