Читать книгу Skarlaken - Irma Venter - Страница 11

JAAP 1

Оглавление

“Hoe ken julle mekaar?”

Ek kan hoor Vonnie is kwaad. Sy was die borde asof sy die goed wil breek. Ek het haar gewaarsku dat Sarah ’n bietjie anders is, maar dit het duidelik nie gehelp nie. Dalk moes ek gesê het sy’s bietjie soos Janien.

Nee, nogal baie soos Janien. Selfde aweregse, opstroppelis streep, plus ’n stugheid waaraan ek steeds sukkel om gewoond te raak.

Vonnie dink heel waarskynlik steeds dis mense soos Sarah wat Janien verander het na iemand wat sy nie meer herken het nie. Dit moet die mense wees wat Janien op Stellenbosch ontmoet het wat haar so weird gemaak het – Vonnie se woord, so asof die Engels ’n vloekwoord is. Asof dit alles verduidelik.

Maar Janien is so gebore. Anders. Sy het altyd volspoed gelewe. G’n eerste of tweede rat nie, nee, altyd halsoorkop, met alles, deur die lewe en teen mure vas. Baie bloedneuse en gebreekte harte – meestal haar eie, oor en oor.

Sy het probeer inpas. Probeer om haar ma en later vir Henk gelukkig te hou, maar dit was moeilik. Ek kon dit sien, maar ek kon min sê. Ma’s soos Vonnie is heilig oor hulle kinders. Niemand moet inmeng en beter weet nie.

“Sarah is baie goed met wat sy doen, Vonnie. Dis al wat saak maak.”

Sy vee oor haar ken, die seepskuim ’n wit bol op haar hand. “Ek wil nie weet nie, ek sê mos. Môremiddag steek ek als aan die brand. Álles. Dis al wat saak maak.”

“Ek hoor jou.”

“Hoor jy regtig?”

“Ja.”

“Hoekom lag jy dan?”

“Want dis iets wat Janien sou gedoen het. Jou anderste kind.”

Dis so lank stil dat ek wonder of ek te ver gegaan het. Of ek haar herinner het aan al die kere wat sy so ontsteld was omdat Janien nie meer soos haar ander kinders kon wees nie – besadig, doelgerig.

Maar sy lag, so fyn en vinnig dat ek wonder of ek reg gehoor het.

“Dis dalk hoekom ek dit doen.”

Skarlaken

Подняться наверх