Читать книгу Skarlaken - Irma Venter - Страница 15

SARAH 1

Оглавление

Ek het al weer ’n ete gemis, maar Vonnie het gou geleer. Middagete is in die kombuis, nie in die eetkamer nie. En ons eet sommer uit kombuisborde, nie fênsie uithaal-vir-gaste-borde nie.

Ek hou van die kombuis. Dis groot en warm, met ’n Aga-stoof in die een hoek. Een wat werk en wat die witbrood gebak het waarvan ek eet.

Vonnie kán brood bak. En konfyt maak. Om nie te praat van netnou se souttert nie.

“Wat is dit nou weer?” Ek beduie na die brood. Vonnie en Obie het my en Jaap alleen gelos om te gesels.

“Nastergalkonfyt.”

Ek sal moet google wat dit is.

Jaap is ongeduldig. Vonnie wil haar brandstapel aansteek, maar hy bly op sy senuwees oor die data op die rekenaar. As die man my nie vertrou nie, hoekom my al die pad hiernatoe sleep?

Ek sluk die laaste happie brood, drink my tee klaar en draai die rekenaar sodat hy kan sien. “Janien het twee websites, die een wat jy ken en ’n ander een wat sy baie goed weggesteek het. Vir hom het sy die naam Jane Stone gebruik.”

Hy frons. “Ek onthou die naam glad nie. Dit was nie in haar internetgeskiedenis nie. Ek en die polisie kon niks snaaks kry nie. Vonnie ook nie. Net News24, IOL, ’n paar galerye in Johannesburg. Sulke goed.”

“Vonnie?”

“Ja.”

“Ek het so gedink. Het sy baie in Janien se goed rondgekrap?”

Jaap lyk onwillig om te antwoord.

“So nou en dan,” sê hy uiteindelik. “Meestal die laaste twee jaar voor Janien se dood. Sy het al hoe minder kom kuier en Vonnie was bekommerd oor haar.”

Hy vou sy servet in ’n netjiese driehoek. “Janien het dit ook nie maklik gemaak nie … sy kon baie moeilik wees. Vonnie wou kuier en sy wou heeltyd veld toe om foto’s te neem.”

“Dit verduidelik hoekom Janien alles so mooi weggesteek het.”

“Wat bedoel jy? Wat alles?”

“Een ding op ’n slag.” Ek beduie na die skerm. “As mens die Jane Stone website se geld volg, loop al die rekeninge uiteindelik terug na Janien toe. En na ’n rekening in Londen wat ongeveer R35 000 ryker is sedert haar dood. Lyk soos ou skuld wat betaal is, want Janien het die rekening gereeld leeggetrek.”

Ek wag dat Jaap die somme in sy kop maak. Dat Jane Stone gelyk is aan Janien Steyn. Dit het my ook ’n rukkie geneem. En sy volgende vraag was myne ook.

“Hoekom twee webwerwe?”

“Haar oorspronklike website, So What!, is mainstream. Veilig, gewoon, kuns waarin die gemiddelde mens sal belangstel. Toeriste, Afrika-mal Europeërs en mense wat lodges bedryf. So What Now? is anders.”

“Is dit die naam van die ander webwerf? Jane Stone s’n?”

“Ja.” Ek maak die website oop dat hy kan sien. “Hierdie een is hardcore. Dis alternatief en eksplisiet, baie meer seksueel en eksperimenteel van aard. Maar dêm goed.”

Jaap brom iets. Ek kan sien hoe hy die gedagte probeer verteer. Hy moenie nou bang word nie. Ek het hom gesê om dit te los, maar hy wou nie hoor nie. Dis nie altyd goed om te wil weet nie. Soms steek mens goed weg omdat jy weet jou familie gaan seerkry as hulle uitvind.

Ek wys na ’n videovenster op die webwerf. “Hierdie een is cool. Dis ’n tagtigjarige vrou wat strip uit protes teen ‘die kommersiële aanbidding van die jeug’.”

“Dis mos nie kuns nie.”

“Alles is kuns as mens sê dis kuns.” Ek beweeg na die onderkant van die bladsy. “Hierdie fotoreeks wys kaal swart en wit mans wat aan galgtoue rondswaai, alles met so ’n gelerige 1970’s hue. ‘Well Hung: A South African Historical Comparison’. En hier is ’n protes by slagpale, met hoenderbloed.”

Jaap se gesig wys sy afkeer.

“Baie van dit is regtig briljant,” skerm ek tot my verbasing vir Janien. “Dit push nogal die boundaries, maar dit wat sy gecommission het, was goed. Regtig goed. Julle behoort trots te wees op haar.

“Baie mense het belanggestel en van die kunstenaars het goed geld gemaak. Twee het aan uitstallings in New York deelgeneem en een aan ’n ekspo in Parys. Janien was besig om naam te maak. Hier lê twee versoeke vir onderhoude in Jane Stone se inboks.”

“Hoekom het ons nie al hierdie goed gekry nie?”

Ek maak die site toe. “Daar’s geen openlike links van So What Now? na Janien en So What! nie. Sy het haar identiteit goed weggesteek – dit was moeiliker om haar digitale spoor te volg as meeste mense s’n. Sy’t geweet dat Jane Stone nie moet uitspring as mense ‘Janien Steyn’ google nie, en om nie emails te laat rondlê nie. En sy’t haar browser-geskiedenis gereeld uitgevee.”

Ek dink aan die sosialemedia-stringe wat ek gevolg het. “Ek reken sy wou nie hê haar kliënte moes weet sy’s van Suid-Afrika nie. En sy wou nie hê haar familie moes weet wat sy op So What Now? bemark en verkoop nie.”

Eintlik dink ek sy was vrek bang vir Vonnie, vir wat haar ma en pa van Jane Stone sou dink, maar ek sê dit nie.

Ek hou Jaap fyn dop. Wonder of ek Janien se lewe reg verstaan. Of ek als reg sien vandat ek op Lekkerkry aangekom het. Ek is nie die wêreld se wakkerste vrou as dit by mense kom nie, maar Vonnie en Obie lyk en voel konserwatief. Janien se korrespondensie suggereer dit ook. En ek ken nie die dorp nie, maar ek wonder.

En Janien verwys nooit na Jaap in haar email nie, so ek weet nie hoeveel ek haar by hom moet beskerm nie.

Beskerm? Van wanneer af wil ek dít doen? Dêmmit. Janien is dood. Vermoor. Dís hoekom ek hier is.

Dalk moet ek Jaap alles wys. Dit sal seker help met sy ondersoek, veral die goed op Janien se foon.

Snapchat laat mense toe om foto’s na mekaar te stuur met fone of rekenaars. Wat dit anders as soortgelyke apps maak, is dat die foto’s ná ’n paar sekondes van die ontvanger se foon of rekenaar verdwyn. Ongelukkig vir Janien is daar ’n paar glitches in die app, veral in die tyd toe sy dit gebruik het. Data recovery-sagteware kan die foto’s weer oproep. Mens kan ook screen shots van die foto’s neem as jy wil. En mens kan die foto’s ook nog iewers op ’n server gaan soek as jy weet hoe.

Snapchat word veral deur tieners en dom grootmense gebruik om kaalfoto’s rond te stuur. Dis lekker, want die foto’s verdwyn voor iemand dit kan aanstuur of op Facebook sit. Voor ma’s en pa’s dit kan sien en histeries raak. Dit voel tydelik, ’n fout wat nie later by jou kan spook nie.

Janien het dit ook vir naakfoto’s gebruik. Mooi, kunstige foto’s waar jy meestal nie haar gesig kan sien nie, maar nogtans. Dit het na die identiteit S&M gegaan, wat dit op ’n rekenaar ontvang het, nooit op ’n selfoon nie.

S&M het nooit foto’s teruggestuur nie, altans, niks wat ek kon kry nie. Dalk was hy minder ekshibisionisties. Of versigtiger. Slimmer.

Dit voel nie asof S&M haar verloofde was nie.

Wat sal Jaap doen as ek hom vertel? Vir Vonnie sê?

Dalk moet ek eers doodseker maak voor ek allerhande prentjies van Janien in sy kop sit. Jane Stone is genoeg. Ek kan hom hier los om met Vonnie se malligheid te help terwyl ek na S&M gaan soek.

Janien en S&M het nou en dan op haar tweede email-adres, die Jane Stone-adres, gesels, maar ek het nog nie tyd gehad om al die boodskappe te lees nie. Hulle kommunikasie lyk kripties en kort, amper onverstaanbaar. Tye om mekaar te ontmoet. ’n Woedende argument met baie uitroeptekens.

Ek het wel S&M se rekenaar deur die IP-adres en internetdiensverskaffer getrack. Daarvolgens is boodskappe van ’n rekenaar hier naby gestuur, asook van ’n tweede rekenaar iewers op die dorp. En al twee rekenaars is nog aktief.

Jaap staar nog steeds verslae na die rekenaarskerm. “Wat beteken So What Now? Beteken dit iemand van hierdie webwerf het haar vermoor?”

“Ek weet nie. Dis jou werk om uit te vind.”

Hy haal ’n leesbril, pen en voos geblaaide notaboek uit sy baadjiesak. Voorop staan JANIEN in dik swart letters wat drie maal onderstreep is.

“Wat het op die webwerf gebeur die dag van haar dood?” vra hy. “Vóór haar dood? Is daar enige aktiwiteit wat jou aandag trek?”

Ek draai die rekenaar terug na my toe en begin soek.

“Daar was ’n gesprek oor bekende skilderye. Wat ’n skildery goed maak. Janien het in haar blog geskryf oor die liggaam as ’n instrument van kuns en sy het twee rap-video’s opgelaai.”

Hy tik met die pen teen die notaboek. “Skilderye?”

“Ja.”

“Wie het die gesprek gevoer?”

“Hoekom vra jy?”

Hy glimlag suur. Hy gaan haal die pak foto’s in sy kamer en sit dit voor my neer. “Lyk dit nie vir jou ook na een of ander skildery nie?”

Ek blaai teësinnig deur die pak beelde. Kyk na die foto met die rooi lap. Die gesig weggesteek agter die vliegbril. Die fiets. Die vrou vasgevang in vlug.

“Miskien, ja.”

Ek dink aan die emails wat ek gelees het. Die frustrasie en die woede, wie Janien was. ’n Kunsstudent wat dalk nie meer geskep het nie, maar ander se werk uitgestal het. Wat in ’n konserwatiewe familie sou introu. Van een so ’n familie na ’n ander.

Dalk is dit ’n skildery, ’n selfgeskepte een. Maar wil ek regtig weet?

Ek lag. Dis te laat. Jaap het my mooi gelees.

Jaap verstaan my lag verkeerd, neem die foto’s uit my hande. “As jy nie wil help nie, kan jy net so sê.”

“Wag nou,” keer ek. “Ek het nie vir die foto’s gelag nie.”

“Wat dan?”

“’n Persoonlike besef.”

Hy frons. “Wat?”

“Sommer net … Ander dag.”

Ek neem weer die boonste foto by hom. Vra uiteindelik die ongemaklike vraag wat heeltyd in my kop vassteek.

“Is julle seker sy het nie …” Die woorde sit in my keel vas. “Dink julle nie sy het … is selfmoord nie ’n opsie nie? Jy sê sy’t kuns geswot. Dalk was sy gefrustreerd omdat sy ophou skep het. Omdat sy meer van ’n paper-pusher geword het.”

“Janien was darem meer as dit. Sy was ’n baie talentvolle fotograaf.”

Dit voel asof hy nog iets wil sê.

“Maar?”

“Maar ja, werk was min,” gee hy onwillig toe. “Sy kon troues afneem, sulke goed, maar ’n foto-uitstalling sit nie kos op die tafel nie.”

“So dalk …”

“Nee,” stry hy. “Ek gee nie om wat jy sê nie. Sy’t haar webwerf baie geniet, sy kon nie uitgepraat raak daaroor nie. Mens is nie so opgewonde oor iets en dan neem jy jou eie lewe nie.”

“So selfmoord is uit?”

“Ja. En ek dink ook nie sy het haarself met M99 ingespuit nie.”

“Wat’s dit?”

“Veeartse gebruik dit om diere soos renosters en olifante te verdoof. In sy suiwer vorm is dit dodelik vir mense. Dis nie so maklik om dit wettig in die hande te kry nie, maar jy kan deesdae enigiets op die swartmark koop.”

Ek wil nie hoor nie, maar ek vra tog: “Is die M99 ingespuit voor of ná sy hier in die pan beland het?”

“Dis moeilik om te sê, maar dit lyk asof dit voor die tyd was. Asof sy hier geplaas is toe sy al dood was. Daar is net een stel voetspore wat na en van die pan lei. Nommertiens, en Janien was ’n ses. Daar was bakkiespore ook, maar so baie mense ry bakkies hier, dit kon net sowel Obie s’n gewees het.” Hy keer vinnig: “En nee, dit was nie.”

“As jy so sê.”

Hy kyk weer na die foto. “Hoekom dink jy dit was selfmoord?”

Ek wys hom die twee emails wat ek gekry het, dié van cheny@chenwag.com.

Hy lees dit vinnig, skud sy kop. “Ek het geweet sy was soms ongelukkig, maar ek het nie besef dit was só erg nie.”

“Het sy met jou gepraat?”

“Soms, ja. Haar verhouding met haar ma-hulle was moeilik. Hulle’t gesukkel om haar te verstaan. Hel, ék het gesukkel om haar te verstaan en ek het nog die voordeel gehad dat ek van buite kon kyk. Sy was net so anders as die res van ons. So vreemd en … boheems.”

“Dit maak sin vir my.”

Hy glimlag effens. “Is dit dieselfde met jou ma? Hoe is julle verhouding?”

My familie is die laaste ding waaroor ek wil gesels. “Is jy honderd persent seker dis nie selfmoord nie? Ten spyte van hierdie emails?”

Jaap kry die boodskap. “Sy sou dan die volgende naweek trou, hoekom sou sy selfmoord pleeg? Sy en Henk het klaar huis gekoop in Somerset-Wes.”

Ek onthou Henk se naam van haar WhatsApp-boodskappe. “Henk? Is dit sy volle naam?” Dalk is hý S&M.

Jaap dink lank. “Ek dink dis Henk Joubert van Staden. Hoekom vra jy?”

Ek haal diep asem en vertel hom van Janien se ander emails en haar Snapchat-kontak met S&M.

“S en M? Dis sadisme en masochisme. Pynseks. Waarmee was Janien besig?”

Ek trek my skouers op.

“Kon jy hierdie S&M opspoor? Is dit Henk?”

“Ek het nog nie ’n naam nie, net IP-adresse vir die twee rekenaars, een op ’n plaas en een op die dorp. Ek sal oor ’n rukkie vir jou ’n naam of twee kan gee. Ek moes net een of ander tyd gaan slaap vanoggend.”

“Is dit hier naby?”

“Ja.”

“Maak reg, dan ry ons.”

Skarlaken

Подняться наверх