Читать книгу Skarlaken - Irma Venter - Страница 8

SARAH 1

Оглавление

Die KTM 690 Enduro is moeg. Nes ek. Vyf maande tot by die Ngorongoro-krater, verby die Victoriavalle, Kariba en die Malawimeer. Ranna het saamgery tot verby die terugdraai, naby Bulawayo. Sy’t gesê dis veilig vir my om alleen Pretoria toe te ry, want die paaie is in ’n redelike toestand en slaapplek volop. Sy is Mosambiek toe – Alex het ’n onderhoud met die leier van Renamo gekry en sy moes gaan foto’s neem.

Ek dink sy wou my alleen los met die dinge in my kop, maar wie weet.

Ek gee nie om nie. Ek wou van die begin af alleen ry.

Ná my pa se dood wou ek wegkom. Móés ek wegkom. Mense het heeltyd woorde gegooi op wat gebeur het, so asof dit als sou beter maak, of begrawe. Praat, praat, praat. Dis asof niemand kon stilbly nie.

Die lang kilometers het my kop goed gedoen. Mens skakel af as jy met ’n motorfiets oor paaie sukkel wat kwalik ’n streep op die grond is. As jy jou rekenaar en foon los, die internet.

Stilte bestaan nie as jy jou deur toetrek in die raserige middestad van Pretoria nie. Stilte is wanneer jy in ’n slaapsak klim en die flits afsit en die donkerte jou toevou. Wanneer geen motors verby ry en geen helder advertensieborde iets probeer verkoop nie. Niemand praat of lag nie.

Daardie eerste klompie nagte onder muskietnette in tente of eenvoudige kamers, toe ek en Ranna nog saamgery het, het die donkerte op my bors kom sit sodat ek moes soek vir asem. Dit was asof die nag lyf gekry het, my teen die grond vasgedruk het. ’n Uur of twee later, ná die stilte, ná die wag en luister na die niks, het die nag se inwoners opgedaag. Kon ek die kug van leeus en die skel gelag van hiënas hoor.

Daaraan het ek ook gewoond geraak, nes aan die stilte. Uiteindelik.

Nou is die stad se geraas oorweldigend. Die verkeer, die mense op straat en die klank van hulle sms’e, emails, Whatsapps, oproepe en updates. Pieng, pieng, pieng. Nog, nog, nog. Nou, nou, nou.

Ek het twee weke laas van my ma gehoor. Ek het my foon by die huis gelos, maar sy’t gereeld vir Ranna gebel om te hoor of ons okay is. Ek was nie lus vir praat nie.

Nou wonder ek of sy ooit weer met my gaan praat. Dalk voel my suster en broers dieselfde.

My pa het my altyd sy hart se kind genoem, maar net laat in die nag, as ons aan die Aston gewerk het en niemand kon hoor nie – ’n silwer Aston Martin DB5, nes die een wat James Bond in Goldfinger gery het.

Maar ek moet vir niemand sê nie, het hy altyd gefluister wanneer ons skelm rook.

Ek dink hy het dit vir al sy kinders gesê.

Ons moes nie gerook het nie. Emfiseem is ’n bliksem.

Ek het 67 dae laas gerook. Ek het in Arusha ’n Stuyvesant aangesteek toe ek en Ranna by haar vriend Hamisi gekuier het. Ek het na Kilimandjaro gestaar, Ranna se foon geleen en my pa se nommer gebel om sy voicemail te hoor. Ek het die nag in geloop en getjank, en toe sommer nog ses sigarette gerook.

Ek drink deesdae Coke en rooibostee asof dit nikotien in het.

Ek stuur die KTM by Akasia-woonstelle se oprit in, haal my valhelm af en vryf deur my hare. Ranna het dit in ’n plekkie net buite Musina kort gesny, want ek wou dit af hê. Dit was darem ’n goeie vier maande gelede en die hare kruip reeds weer om my ore. Dit sal my ma mal maak as ek sonder hare by haar huis opdaag.

Háár huis. Nie hulle huis nie.

Vordering.

Ek trek my regterhandskoen uit en sit my duim op die skandeerder om toegang tot die gebou te kry.

Agter my slaan ’n kardeur toe. Ek kyk om. Motorfietse word deesdae net so maklik soos motors in hierdie deel van die stad gekaap.

Ek herken dadelik die lang, skraal man met sy benerige draadhanger-skouers. Die effense maag. Die lastige regterknie. Die bleekblou oë en die mooi glimlag, volgens Adriana.

Onmoontlik.

Wat soek Jaap Reyneke hiér? Hy en Ranna is vriende, maar ek ken hom skaars. Ons het verlede jaar saam na Madelein Paulse gesoek, maar dit was werk, niks meer nie.

“Naand, Sarah. Adriana het gesê julle sal hopelik hierdie week terug wees.”

Hy klink moeg. En sy gekreukelde klere lyk asof hy heelweek voor die hek geslaap het.

Ek skakel die motorfiets af, swaai my linkerbeen oor die oranje masjien met sy spesiale lae vering. Bêre die handskoene in die valhelm en kyk op my horlosie. Dis seweuur, Woensdagaand.

Hoekom sou my tante vir hom gesê het wanneer sy my terug verwag? En hoe weet sy dit? Het Ranna haar gesê?

“Hoe lank sit jy al hier?”

“Van Maandagnag af. Wel, seker Dinsdagoggend.”

“Hoekom?”

Hy kyk af na sy bruin toerygskoene, sy hande diep in sy baadjiesakke. ’n Koue wind roer sy reguit grysblonde hare.

“Ek het probeer bel, maar Adriana sê jy’t jou foon by die huis gelos ná jou … Jammer oor jou pa.”

Een punt teen hom. Vir die jammer. Nee wag, twee. Die polisieding tel ook, al is hy afgetree. Ek is immers ’n veroordeelde hacker.

“Waar’s Ranna?” vra hy. “Ek dog sy sou ook hier wees.”

“Sy’s in Mosambiek. Sy en Alex gaan vir die volgende paar maande daar werk. Net tot kaptein AJ Williams bietjie van haar vergeet het.”

Hy skud sy kop. “Ek kan nie glo die vrou wil nie laat los nie. Pas sy nog steeds hierdie paleis van jou op?”

“Ek weet nie, ek was mos weg. Maar ek hoor Adriana loop nog steeds deur. Almal wat Ranna ken, loop deur.”

Hy fluit deur sy tande. “Praat van toewyding. Of obsessie. Ranna het haar stalker van die gras af gemaak omdat niemand wou help nie. Hoekom vind AJ Williams dít nie uit nie?”

Ek onderdruk ’n gaap. Hierdie gepraat is sommer nonsens. “Wat soek jy hier, Jaap? Ek’s moeg en vuil en ek wil gaan slaap, nie chit-chat oor Ranna nie.”

“Het julle stry gekry?”

“Jaap, wat soek jy hier?”

“Ek het jou hulp nodig.” Hy tree vinnig nader en bedink hom dan, asof hy onthou ek hou nie daarvan as vreemde mense te naby aan my staan nie.

“Watse hulp?”

“Dis belangrik. Ek het R35 000, ek kan jou betaal.”

Dis baie geld vir ’n afgetrede polisieman. ’n Eerlike een – as ek Adriana kan glo.

“En as ek nie lus is nie?”

“Dan slaan ek my tent hier voor jou deur op saam met kaptein Williams.” Hy lag effens.

Klink nie juis asof ek ’n keuse het nie. Ek sug hard, haak die valhelm oor my voorarm en beduie vir hom om my by die hek in te volg.

Miskien is ek net moeg. Miskien het die maande saam met Ranna my sag gemaak. Of dalk is dit die twee keer wat ek hárd geval het. Of miskien is ek stupid.

Ek klim op die KTM en skakel dit aan. Voel die gerusstellende dreuning onder my sitvlak. Wonder vir ’n oomblik of ek moet wegjaag, maar ry dan gedweë by die hek in, Jaap se stokou, vuil Corolla kort op my hakke.

Stupid, besluit ek. Dis die regte antwoord. Stupid.

Skarlaken

Подняться наверх