Читать книгу Skarlaken - Irma Venter - Страница 21

3

Оглавление

Die blou huis staan uit soos ek by ’n Sondagskoolpiekniek. Ek sal weet – ek moes twee bywoon voor my ma gesê het ek hoef nie weer te gaan nie. Ek dink dit was meer om die ander kinders se onthalwe as my eie.

Ek parkeer die KTM op die breë sypaadjie, langs ’n stokou vaalbruin Datsun met ’n wit-en-rooi plakker wat sê I h Jesus. Iewers gooi iemand tuin nat ten spyte van die reën vroeër.

Die blou huis se hekkie is outyds, soos mens soms nog in Pretoria-Wes sien – ’n draadheining met draadhek wat skwiek as jy dit oop- en toemaak. ’n Wit bakkie staan in die smal oprit, volgelaai met ’n vrag weggesteek onder ’n swart seil.

Wie ook al die blou huis besit, het nie honde nie, net ’n driebeenkat wat weghardloop toe ek met die sementpaadjie afloop. Daar’s nie veel van ’n tuin nie, net potte vol kruie wat orals rondstaan. En ’n meter hoë sementengel wat soos ’n stout kind in die een hoek hurk, haar groottoon in ’n fontein vol modderwater.

Die deur gaan oop voor ek kan klop. Dis Spreeu, kousvoete en in ’n groen rok en dik swart oopknooptrui. Tori Amos speel in die agtergrond, befoeterd en omgekrap.

“Kom in.”

Sy kyk oor my skouer na die motorfiets, hou haar hand uit vir my valhelm. Ek trek my handskoene uit, bêre dit in die helm en gee dit aan. Sy sit dit op ’n houttafel naby die voordeur neer.

Ons loop kombuis toe. Dis warm en pers en iemand in die huis kook graag. Alles in die vertrek is ouerig, maar goed opgepas. Nuwe stoof, groot oond en ’n lang werkblad. Geure uit ’n pot op die stoof laat my maag draai van die honger. ’n Verwarmer staan in die verste hoek.

Spreeu kyk vlugtig na die horlosie bo my kop en beduie na die tafel. “Sit.”

Ek haal my rugsak af en trek ’n stoel uit. Sluk aan die ongemaklikheid in my keel. Dalk moes Jaap eerder gekom het, hy weet beter hoe om inligting uit mense te kry.

Tog sê iets diep in my dat Spreeu nie met hom of enigiemand van Janien se familie sal praat nie. Daar lê te veel geskiedenis tussen hulle, nes tussen my en my ma. Ek praat veel eerder met Adriana as ek by iemand wil afpak. Sy verbind nie dadelik als wat ek nou doen met dit wat ek jare gelede aangevang het nie. So asof mens nooit regtig oor kan begin nie.

Spreeu vryf haar hande teen mekaar. “Wil jy iets hê om te drink? Ons het bier en ystee.”

Ons. Interessant. “Het jy dalk ’n Coke?”

Sy maak die dubbeldeuryskas oop en gee vir my ’n blikkie en ’n glas aan. Kyk weer op die horlosie asof sy vir iemand wag om huis toe te kom. Asof sy soek vir die toeslaan van die voordeur, die klank van voetstappe oor die plankvloer.

“Verwag jy iemand?”

Sy knik. “Sy werk by die SKA-projek en kom eers agtuur huis toe. Daar’s vanaand ’n vergadering met huiseienaars op die pad na die bouterrein. Hulle is ontsteld oor die skade wat die skielike verkeer aanrig.”

Sy draai stoof toe en hou haar besig met die pot, asof sy bang is om my reaksie te sien. Tog is sy ook nuuskierig. Sy hou op met roer en kyk onderlangs na my.

Moet ek iets sê wat haar sal gerusstel? Wat sê mens? En hoekom maak dit saak wat ek dink?

Ek gooi die Coke in die glas en trek my baadjie uit, hang dit oor die stoel se leuning. “Wat kook jy?”

“Kerrie.”

Die driepootkat kom ingesluip en gaan lê voor die verwarmer. Sy kyk na my voor sy haar opkrul om te slaap.

“Dis nogal sterk. Wil jy hê?” bied Spreeu aan.

“Dankie, dit sal lekker wees.”

Sy skep van die kos in twee wit-en-blou bakkies en gee een vir my. Vis vurke uit ’n laai en kom sit oorkant my by die tafel. Sy eet saam met my, al is dit pik meer as eet.

“Jy’s S&M,” val ek met die deur in die huis. “Ek het die foto’s op Snapchat gesien, dié wat Janien gestuur het. En ek het die emails gelees.”

Sy kyk weg. Die bleek vel word rooi onder die sproete wat oor haar neus en wange lê.

“Die foto’s vee mos uit …?”

Haar vraag hang in die lug. Ek skud my kop en haal my rekenaar uit, wag in stilte dat die lêer met foto’s oopgaan. Ek draai die rekenaar sodat sy kan sien.

Sy sluk hoorbaar. Druk haar servet teen haar mond en kyk weer na die horlosie. “Hoe het jy dit reggekry?”

“Dis wat ek doen – rekenaars.”

“Wat het jy nog uitgevind?”

“Ek weet van So What Now?”

“Weet Jaap?”

“Ja.”

“En van my?”

“Ja.”

“En Janien se ouers? Weet hulle?”

“Nee.”

Sy staan op, loop stoof toe en roer deur die pot kerrie. Die houtlepel stop. Sy staar na my. Haar oë is groen nes myne, sien ek vir die eerste keer.

“Waarna soek jy en Jaap?”

“Janien se moordenaar.”

“As julle orals rondgrawe, gaan julle baie meer as dit kry.” Sy hou my stip dop, asof sy na iets in my oë soek. “Is julle okay daarmee? Is Jaap okay daarmee om te weet wie en wat Janien regtig was? Haar ma-hulle is nie, dit kan ek jou belowe. Hulle wou heeltyd iets hê wat sy nie kon gee nie. Iemand wat sy nie kon wees nie.”

Ek dink voor ek antwoord. “Ek het geleer dat die mense naaste aan jou in elk geval weet. Dat as hulle regtig daaroor gaan dink, hulle sal besef dat hulle nog altyd die belangrikste goed oor jou geweet het.”

“Dink jy regtig so?”

“Ongelukkig, ja.”

Sy glimlag suur. “Janien wou nie hê haar ma-hulle moes weet sy’s dalk gay nie. Ek sê dalk, want sy was nog besig om uit te werk wie sy was. En die gedagte was vir haar ’n moeilike een om te sluk.”

Sy bly stil, vryf oor haar mond. “Janien was bang haar ma-hulle belet haar die huis, hulle liefde. Haar familie was baie belangrik vir haar. Maar sy’t gesukkel … dit was moeilik om heeltyd weg te steek wie sy is. Sy’t hard daarteen gestry, want sy wou so graag trou en kinders hê en inpas. Sy’t haar hele lewe lank wie sy is … was … getemper. Op elke gebied, glo dit of nie.”

Ek sit my vurk neer. “Jy steek nie weg wie jy is nie.”

“Dis wat jy dink. My ma gee nie om nie, sy’s net bly ek’s gelukkig. Maar my pa weet niks. Ek dink hy wíl nie weet nie. En die skool mag nooit uitvind nie. Ek gee Engels by ’n Christelike laerskool, dis al plek waar ek kon werk kry.”

Ek knik net, wonder wat om volgende te vra. Dan onthou ek die foto wat ek uitgedruk het. Ek het vanoggend weer daarna gekyk. Spreeu is een van die mense op die foto, haar hand om Janien se middel as jy mooi kyk. Dalk is een van die ander cheny@chenwag by wie Janien so oor haar ma-hulle en toekomstige skoonouers gekla het.

“Het niemand van jou en Janien geweet nie?” Ek begin weer eet. “En hoekom nog steeds trou as jy dalk gay is?”

Spreeu sit die houtlepel neer en draai om, leun teen die werkblad. “Ek en Janien was van kleintyd af vriende. Dit het stadig meer geword, en nie net van my kant af nie. Op universiteit, weg van die benoudheid van familie en ’n klein dorpie se geskinder, weg van die kerk se veroordeling, kon ons verken wat seker lankal tussen ons gelê het.”

Sy sug. “Jy’t nie die detail nodig nie, maar ons was die laaste jaar op universiteit saam. Toe sy Kaapstad toe getrek het, is ek agterna. Maar dit was moeilik. Sy het bang geword. Skielik wou sy my wegsteek … óns wegsteek. Sy was onwillig om te commit en onseker oor als, en ek wou nie meer wegkruip nie. Ek’t gevra wat aangaan, gesmeek, gepleit … En toe sê sy vir my sy en Henk is bymekaar. Einde van die storie.” Trane blink in haar oë.

“Ek het geloop. Ek moes op die ou end hier kom werk soek, waar ek mense ken. ’n Graad in kuns beteken deesdae niks. En ek het nie Janien se kop vir besigheid nie. Toe kom sy een naweek hier koffie drink terwyl sy by haar ma-hulle gekuier het. Sy’t weer gesê sy’s jammer. En dat sy en Henk gaan trou. Sy wil kinders hê en nie haar familie seermaak nie.”

Spreeu blaas haar asem lank en stadig uit.

“En die foto’s op Snapchat? Dit was net voor haar dood, dan nie?” Ek sit my vurk neer, klaar geëet.

“Ja.” Spreeu verkleur. “Als het goed gegaan tot seker so drie weke voor die troue. Dis asof Janien skielik haar besluit berou het. Sy was kwaad. En wild. Sy’t een aand hier kom kuier – ek het toe nog alleen gebly. Kyk, dis nie iets waarop ek trots is nie, maar ek kon nie laat gaan ná daardie nag nie. En Janien het aanhou foto’s stuur. Sy wat altyd so versigtig was. Sy’t heeltyd gevra of ek haar sal terugvat as sy en Henk nie uitwerk nie. Dalk het dit gehelp dat dinge die laaste paar jaar begin verander het. Stadig, maar darem. Dat meer mense oopkop begin raak het oor mense wat van hulle verskil, al is dit moeilik om raak te sien as jy nie in die stad bly nie.”

“En toe?”

Sy loop agterdeur toe, maak die bodeur oop en leun uit asof sy warm kry. Die lug wat by die vertrek instoot, is kil en klam. Verdryf die versmorende atmosfeer. Ek asem dit dankbaar in.

“En toe’s sy dood.” Spreeu praat so sag dat ek mooi moet luister om te hoor.

“Wie dink jy het haar doodgemaak?”

Sy draai om, vee oor haar wange. “Dink Jaap dis ek?”

“Nie sover ek weet nie. Iemand groot en sterk moes Janien se lig- … moes Janien tot op die pan gedra het.” Ek oorweeg die feite. “Dit kon dalk jy en Stefan gewees het. Of jy en iemand anders.”

“Stefan is my pa se kind uit en uit. Hy sou my … hy help my met niks.”

“Jaap sê Stefan was verlief op Janien.”

“’n Paar mense was. Hy seker ook, ja.”

“Het hulle gekuier?”

“Nie regtig nie. Janien wou hom nie aanmoedig nie.”

“En Janien se broers? Wat sou hulle oor julle twee gedink het?”

Sy lag. “Klein Obie sou okay gewees het daarmee. Dink ek. Hy was mal oor sy kleinsus, hy sou niks aan haar doen nie.”

“En Leon?”

“Hy was maar nog altyd bietjie odd.”

“Odd?”

“Ja. Jy weet, vreemd. Bietjie onseker.”

Interessante antwoord. “En Henk?”

Sy dink lank. Maak uiteindelik die bodeur toe en kom sit weer oorkant my. Kyk na die horlosie. Dis twintig oor sewe.

“Ek dink nie dit was hy nie. As hy geweet het … Maar hy sou nie. Niemand het van my en Janien geweet nie.”

“Hoekom het jy destyds niks vir Jaap gesê nie?”

“Janien het my laat belowe – laat swéér – dat haar ma-hulle nooit van ons moes uitvind nie. Sy was só bang om hulle teleur te stel. Ek het stilgebly, want Henk het ’n goeie alibi gehad. Hy was daardie aand by die braai op hulle plaas. Almal het hom gesien en video’s geneem van waar hy te veel drink en in ’n sinkbad vol bier neerfoeter. Wie anders sou Janien moontlik wou dood hê omdat sy gay is?” Spreeu skud haar kop. “Nee. Haar dood het niks met ons te doen nie. Ek’s honderd persent seker daarvan.”

“En jy? Het jy nie geworry oor wat sou gebeur as die skool van jou en Janien uitvind nie?”

“Natuurlik. Ek sê mos. Maar dit beteken nie ek sou haar doodmaak nie … Nooit nie.”

“Okay.”

“Regtig nie!”

“Ek sê mos dis okay.”

“Gaan jy en Jaap … Wat gaan julle met die foto’s maak? Asseblief, moenie vir tannie Vonnie … moet asseblief net nie. Dis die een ding wat ek Janien skuld.”

“Jaap sal seker ten minste met Henk moet praat. Hy gaan nie hierdie inligting ignoreer nie.”

Spreeu se kop sak tot op haar bors. Ek steek my hand uit, maar trek dit weer terug.

Sy kyk op met blink oë. “Dalk is dit in elk geval tyd vir ander werk. ’n Nuwe lewe.”

Ek weet nie hoe om dit vir haar beter te maak nie. Ook nie hoe om my laaste vraag beter te laat klink nie.

“Is daar iemand anders wat Janien kon doodgemaak het?”

Sy vee oor haar oë. “Seker, ja. Maar wie? Waar sal mens begin soek? Die laaste ruk … Janien was kwaad en uitdagend. Met almal, orals. Wie weet wat sy als aangevang het? Gelukkig het mense gedink dis net senuwees oor die troue.”

Sy skuif haar stoel terug en vryf haar hande teen mekaar. Ek ril self van die koue lug wat ingekom het. Die kat lê nie meer voor die verwarmer nie.

Ek staan op, trek my baadjie aan. Ons loop voordeur toe.

Spreeu stop skielik. “Dalk was dit besigheid.”

“Praat jy van So What Now?”

“Meer van Skout.”

Ek onthou dat ek die woord in een of twee emails gesien het, maar niks wat my verder laat soek het nie. Bygesê, ek het nog nie by al die encrypted data uitgekom nie. Dalk is dit wat sy so goed opgepas het.

“Wat is Skout?”

“Janien het dit saam met Yolene Chen ontwikkel. Of eerder, sy was besig om dit te ontwikkel. Ek dink dit was nog taamlik ver van klaar af.”

Die vrou se naam klink deels bekend. Is Yolene cheny@chenwag?

“Is Skout ’n program?”

“Seker meer ’n app. Ons het almal kuns geswot, maar dis asof Yollie en Janien van die begin af geweet het daar moet ’n plan B wees. Ek sê mos, Janien het ’n kop vir die internet en vir besigheid gehad. Sy kon gapings in enige mark sien.”

“Wat doen die app?”

“Dis ’n program waar mense vraelyste invul, opgestel deur sielkundiges, en dan soek die program op die internet iemand wat by jou sal pas. Nie iemand wat jy dínk by jou sal pas nie, maar iemand wat by jou ware behoeftes pas – dié waarvan jy dalk nie eers bewus is nie. Skout sif deur Facebook, Pinterest, Snapchat, Tinder, Google, Instagram, jou e-posse, als, op soek na jou sielsgenoot. As dit iemand kry, ping dit daardie persoon en vra of hulle sou belangstel om jou te skakel.”

Ek dink daaroor. Al die slaggate. Die potensiaal.

“Wat van al die IP wat betrokke is? Die intellektuele regte en die reg tot privaatheid?”

“Dis hoekom Skout so lank gevat het. Yolene en Janien het hierdie idee al in ons derde jaar gehad. Hulle het met Facebook en ’n spul ander mense geskakel om Skout te help befonds en te ontwikkel. Om uit te vind hoe en waar mense sou moes toestemming gee dat Skout hulle inligting mag gebruik.”

“Dit klink na ’n goeie idee.”

“Dit is. Dis nie ’n dating site nie, dit laat jou nie desperaat lyk nie en dit sny die kansvatters uit. Dit kry iemand wat jou verstaan. Nie iemand wat van jou hou soos jy dink jy is nie, maar wat van jou hou soos jy regtig is. En as jy nie belangstel nie, of as jy iemand gekry het, skakel jy Skout af.”

“Wat het met die app gebeur ná Janien se dood?”

“Dis als na Yollie toe. Janien het gesê haar helfte is myne as sy iets oorkom, dalk omdat sy skuldig gevoel het, maar ek het dit vir Yollie gegee. Ek sou dit tog nie kon klaarmaak nie, en dit was haar en Janien se idee, nie myne nie.”

“Waar’s Yolene nou?”

“Ek weet nie mooi nie. Ek dink sy’s in Gaborone. Haar familie is van Botswana. Moenie dat die Chen jou flous nie, haar pa is half-Chinees en haar ma swart.”

Gaborone. Dis ver. En as Skout gelaunch het, sou ek seker al daarvan gehoor het.

Ek tel my valhelm op, haal my handskoene uit en trek dit aan terwyl ek na die portrette voor my kyk. Ek het dit gemis toe ek ingeloop het. Dis gesigte, amper soos polisie-identiteitsfoto’s. Vreemde versierings vir ’n sitkamer.

“Is dit joune?”

Spreeu knik.

Ek leun vorentoe, tuur na die lewelose gesigte agter glas. Dis driedimensioneel, meer soos dun maskers, nie portrette nie.

“Maak jy dit?”

“Ja, op ’n manier. Ek skep gesigte uit DNS. Altans, ek het. Sommer sigaretstompies wat ek in die pad optel of hare in ’n hotel se wasbak.” Sy wys na die masker van ’n jong swart vrou. “Daai gesig kom van DNS wat ek op ’n toetsbord in ’n internetkafee in Lusaka gekry het.”

Haar stem raak helder, opgewonde. “Ek wou wys hoe ons dele van onsself orals in die wêreld los. Hoe ons almal eintlik een is. Takke van dieselfde boom. Hoe so baie inligting oor ons in die kleinste boublokke opgesluit lê. Janien het vir my sagteware ontwikkel wat sekere statistiese aannames maak.” ’n Effense glimlag speel om haar mond. “Ek het ’n prys vir die maskers gewen. Tweede prys, maar darem steeds ’n prys. Die eerste en laaste prys wat ek seker ooit sal wen.”

Ek kyk verbaas na die detail van die jong swart vrou se gesig. “Raai jy die meeste van die inligting?”

“Ek gebruik nuwegenerasie-DNS-toetse. Dié wat toets vir ouderdom. Ras. Geneigdheid tot siektes. Als. Dis nog ongetoets in die howe en so, maar eendag sal dit ook verander.” Sy skud haar kop. “Dis nogal scary. Ek kan uit die DNS uitwerk waar iemand se voorgeslagte vandaan gekom het. Hulle geslag, die kleur van hulle hare, oë, vel, of hulle sproete het, hulle geneigdheid om oorgewig te wees. Onder andere.”

Sy vryf oor die glas wat die masker bedek. “Ouderdom kan ek nog net in ’n breë band doen.”

“Hoe akkuraat is jy?”

“Redelik. Dink ek. Onthou, dis moeilik om te toets. Ek tel die DNS op. Ek meet dit nooit teen die donateur nie. Die moeilikste ding is die gesigvorm, so die maskers wys meer die breë familietrekke as presies hoe iemand lyk. Ek weet byvoorbeeld nie hoe lank iemand se neus is nie.”

Ek sukkel om die omvang van wat sy sê te begryp. “Maar as jy soveel inligting daaruit kan trek, hoekom kan die polisie nie ook nie?”

“Ek sê mos, die wetenskap is nog jonk. Maar dit verbeter daagliks. En ja, jy moet ’n ordentlike DNS-databasis hê. Jy moet geld hê. Opgeleide personeel. En dit kan sosiaal taai raak om mense op grond van ras uit te ken.”

Sy skrik toe die buitelig aangaan en kyk op haar horlosie.

Ek kyk na myne se groen wysers. “Ek moet ry,” skerm ek, voor sy my wegjaag.

Sy sluit die voordeur oop en staan opsy. Vang my arm toe ek verby haar loop.

“Asseblief. Wat ook al jy en Jaap doen, bel my net en laat my weet. Voor alles … voor … jy weet.”

Sy los my arm. Loop saam tot op die stoep, en met die trappies af. Bo ons blink die sterre van kant tot kant, ’n dik streep melk in die middel. ’n Effense wind waai die koue tot teen my vel.

Ek hoor die dreuning van ’n motor. Kyk op my horlosie terwyl ek die hekkie oopstoot. Net voor agt. Dit gaan koud ry wees tot op die plaas.

My ma bel net toe ek die KTM onder die bome op Lekkerkry staanmaak, langs ’n motor wat ek nie ken nie. Ek wil eers nie antwoord nie, maar doen dit tog.

“Hallo.” Ek druk die foon met my skouer teen my oor terwyl ek my handskoene uittrek. Maak vuiste met my koue, dom vingers.

“Sarah!” Sy klink verlig. “Uiteindelik. Ek het my dood bekommer. Waar is jy?”

“In die Karoo. Ek help met ’n ondersoek. Die polisie,” las ek vinnig by, voor sy dink ek vang iets onwettigs aan.

“Is jy orraait?”

“Ja, Ma.”

“Regtig?”

“Regtig.”

“Dis goed.” Haar stem word nog ’n graad ligter. “Wanneer kom jy huis toe? Ranna sê sy weet nie. Ek dog jy kom Pretoria toe wanneer julle terug is. Ek het jou máánde laas gesien, met die begrafnis laas.”

Ek druk my ken in my serp in en mik na die stoep waar iemand die lig aangelos het. Die warmte van die kombuis se koolstoof sal nou lekker wees. Maar ek wil nie in die huis praat nie.

“Ek sal sodra ek hier klaar is.”

“Wanneer is dit?”

“Ek weet nie.”

“Sarah …”

“Gaan als okay daar? Is Ma okay?” Skielik wonder ek hoe dit regtig met haar gaan. Al is Geo daar. My ander broers. En Miekie, my kleinsus.

Sy bly lank stil. “Ek is. Miekie sukkel die meeste. Sy’s nog so jonk. Jou pa se dood maak nie vir haar sin nie.”

“Hoe maak dit vir enigiemand sin?”

“Seker.” Weer rek die stilte. “Ek wil juis met jou oor Miekie praat. Dis dié dat ek jou heeltyd soek. Jou pa se testament …”

“Ons kan praat sodra ek by die huis is.” Ek wil nie weet nie. Nog nie.

“Jy kan nie aanhou weghardloop nie, Sarah.”

“Sodra ek by die huis is. Belowe.” Ek dwing my stem sagter. “Nag, Ma. Lekker slaap.”

Ek gooi die foon in my rugsak, haak die valhelm oor my arm en draf by die voordeur in. Binne is dit warm. Van die kombuis af kom ’n gedempte gelag. Ek hou eers verby na my kamer toe, nie lus vir mense nie, maar draai dan om. Die koue maak my honger. Spreeu se kerrie voel min en lank gelede.

Vonnie sit haar hand op haar mond toe ek inloop, haar oë laggend, gelukkig. Sy staan op en beduie ek moet haar plek langs Jaap inneem. Obie waai hallo van oorkant die tafel af. Hy lyk ook anders. Amper verlig. Dalk was vanmiddag se offerande ’n goeie idee. Dis asof die huis ligter is. Verlos van Janien se spook.

Langs Obie sit ’n jong man in jeans, netjiese swart skoene en ’n wit langmouhemp. Hy vryf oor sy bokbaard, staan op en skud my hand vinnig en beslis. “Leon. Aangename kennis.”

“Sarah.”

Hy gaan sit weer.

Vonnie beduie na die stoof. “Is jy honger?”

“Baie.” Ek sit my rugsak op die vloer neer, dan my baadjie en valhelm. Bedink my. “Asseblief, dit sal lekker wees.” Tel als weer op. “Ek was gou my hande en trek iets anders aan.”

Skarlaken

Подняться наверх