Читать книгу Skarlaken - Irma Venter - Страница 19

SARAH 1

Оглавление

“Hallo.” Ek waai halfhartig vir die vrou, besig om die ketel vol te maak, toe ek die kombuis instap. Sy is klein en kort, nes ek.

“Magda?” Ek dink weer. “Maggie.”

“Maggie. Hallo.”

Sy lyk ewe ongemaklik met die vreemdeling in haar spasie. Ek moes seker maar op die stoep gebly het, al is Jaap en Fanus soos twee ou buffels wat aanhou kopstamp terwyl hulle weet nie een gaan wen nie.

Maggie sit die ketel aan, en haal ’n skinkbord uit. ’n Wit kantlap. Sy beweeg met klein, versigtige gebare, asof sy bang is om geraas te maak. Aandag te trek. Rok is koel, though, bont en lank. Ditto die verweerde rooi leerskoene.

Sy druk lang blonde hare agter haar ore in en buk om drie bekers uit te haal. “Ek hou van jou oorbelle,” sê sy sonder om vir my te kyk.

Ek voel aan die ses silweroorbelle in my regteroor. Pa, ma, drie broers, een suster. Ek het nog nie die minussom gemaak nie.

Maggie gooi kookwater in die bekers. “Drink oom Jaap suiker?” Sy staan met die lepel in haar hand. Daar is ’n fyn goue horlosie aan haar linkergewrig en ’n goue ring aan ’n ketting om haar nek. Die gladde bleek vel sê sy’s versigtig vir die son.

Ek dink aan die Flake-papiere, raai: “Twee lepels? Twee en ’n half.”

Sy gooi die suiker in en roer die kitskoffie. “Ek moet seker ’n suikerpot uitvat, soos my ma altyd sê, maar nou ja.” Dan onthou sy skielik. “Ek sal nou vir ons tee maak.”

“Rooibos as jy het.” Ek onthou weer Vonnie se gesig gisteraand. “Asseblief, Maggie.”

Sy glimlag. “Sê sommer Spreeu. Net my pa en die dorpsmense noem my Maggie.” Sy maak die kas naaste aan haar oop. “Freshpak okay?”

Ek knik meganies, my kop skielik aan die draf. Dis Jaap se skuld. Jaap en hierdie dêm moordsaak.

S&M. Stefan Malan. Fanus Malan. Spreeu Malan? Die IP-adres sê S&M het van ’n rekenaar in hierdie huis verskeie emails aan Janien gestuur.

Was Spreeu Janien se geheim?

“Hoe ken jy en oom Jaap mekaar?” vra Spreeu.

Sy maak tee in twee blou koppies en pak die koffiebekers op die skinkbord.

“Ek het hom verlede jaar met ’n ou saak gehelp.”

“Saak? Is jy van die polisie?” Sy kyk op, ontsteld. “Is dit al weer …”

“Ek werk nie vir die polisie nie,” keer ek vinnig. “Maar ja, Jaap het my gevra om hom met Janien se dood … moord te help.”

Haar hande, fyn en spookwit, vries om die bekers. Sy sit hulle haastig neer, draai om en trek die laai naaste aan haar oop. Soek raserig deur die messegoed.

Ek kyk na die kombuisdeur, na Spreeu se smal rug. Kry skielik koud in die groot, oop kombuis. Buite lyk dit asof die wolke laer trek, die reën lewe kry. Hoe sou dit met Vonnie se brandstapel gaan? Hoekom het ek nie vir Jaap nee gesê nie?

Spreeu draai terug, teelepels in die hand. Waar moet ek begin? Móét ek begin?

“Hierdie ding tussen jou pa en Jaap? Kom dit al ’n lang pad?”

“Ja.” Sy lyk verlig dat ek nie verder oor Janien se dood praat nie. “Seker van net ná my geboorte af, toe tannie Vonnie-hulle hiernatoe getrek het. Dit het iets met haar te doen gehad. Ek’s verbaas dat my pa gesê het julle kan kom kuier. Ek dink die stilsit maak hom mal. Teen hierdie tyd was hy gewoonlik al drie keer dorp toe.”

Sy hou op praat, asof sy besef sy babbel.

“Maar jy en Janien het julle nie daaraan gesteur nie. Julle was goeie vriende?”

“Ons was.” Sy beduie na haar skoene. “Ons is saam Londen toe vier jaar gelede. Ons het hierdie daar gekry, Janien sommer twee pare. Op Camden se punk-mark.” Sy glimlag effens. “Ons moes lank spaar om uiteindelik oorsee te kon gaan.”

Wat moet ek nog vra? Hoe moet ek dit vra? Moet ek dit nie eerder vir Jaap los nie? Maar sal Spreeu met Jaap gesels?

Nee. Nie Jaap nie, óóm Jaap. Die geskiedenis lê so dik hier, jy sal helder oordag daaroor neerfoeter. En wie sê Jaap is nie nes Vonnie nie?

As Spreeu S&M is, sal dit baie dinge verduidelik. Soos waarom Janien die boodskappe so sorgvuldig uitgevee het.

Ek spits my ore vir die stemme op die stoep. Klink of Jaap en Fanus nog steeds stry. ’n Derde stem, seker Stefan, praat vinnig en sag.

“Hoekom noem mense jou Spreeu?” vra ek.

Sy sit die teelepels voor haar neer. Orden die silwer soos soldate langs mekaar.

“Dit kom van universiteit af. Ek was die kleinste in die koshuis.” Sy ruil die teelepels sodat die eerste een laaste staan.

“Was Stefan ook vriende met Janien?”

Sy knik. “Ons het saam grootgeword. En ek, Stefan, Janien en Henk was later saam op universiteit. Stefan en Henk is ’n jaar ouer, maar ons het nog gereeld saamgekuier. ”

Sy kyk op na my, haar oë blink.

Ek luister weer stoep se kant toe. Die stemme is nog waar hulle was, ver genoeg om nie te hoor nie. Ek moes hierdie gemors vir Jaap gelos het, maar dis nou te laat.

“Hoe help jy oom Jaap …”

“Asseblief tog, sê net Jaap, anders het ek hierdie prentjie in my kop.” Die woorde is uit voor ek dit kan keer.

Spreeu lag. “Janien het dieselfde gesê. Jy voel nogal bietjie soos sy.” Weer ruil sy die lepels om, tweede een eerste. “Wat doen jy presies? Vir oom … vir Jaap, om hom te help?”

“Ek’s goed met rekenaars. Ek soek na links wat niemand anders kan kry nie.”

Haar hande stop. Dan tel sy die lepels op en sit dit haastig op die skinkbord. Sy voel teen ’n beker met die agterkant van haar hand. “Dis yskoud. Ek gaan weer moet maak. Sal jy asseblief vir my pa gaan sê dis op pad?”

Beslis nie. Ek staan nader. “Was jy S&M?”

Sy draai om en soek weer na die koffieblik in die kas. Los dit dan en maak die ketel vol. Sy bly by die toonbank staan, haar rug na my gedraai.

“Spreeu?” hou ek vol.

Sy skud haar kop, die blonde hare ’n gordyn. “Jy verstaan nie. Ek het nie vir Janien … Ek kan nie.”

“Kan nie wat nie?”

“Niks wat ek weet, hou verband met haar dood nie. Ek’s seker dit doen nie.” Sy sug, laat haar hande stadig sak tot hulle doodstil op die toonbank lê. “Dit was ’n leeftyd gelede.”

“Wil jy nie weet wie Janien vermoor het nie?”

Sy draai om. “Dink jy dit was ek?”

Ek dink aan die fiets. Die feit dat iemand Janien én die fiets deur die modder tot op die pan moes dra. Die nommertien-stewels. Die DNS wat sê dit was ’n man.

“Nee. Maar dalk weet jy meer as wat jy voorgee. As wat jy vermoed. Dalk weet jy iets wat Jaap kan help.”

Sy tel die bekers op, loop wasbak toe en maak hulle leeg. “Daar’s ’n blou huis op die dorp. Jy sal dit maklik kry as jy vra. Vanaand sesuur.” Sy vermy my oë. “Ons kan nie hier praat nie.”

“Ek is …”

“Ek moet koffie maak. Asseblief.”

“Okay.”

Ek loop uit stoep toe, waar die stem van ’n beneukte Fanus die middag in rank. Stefan is reeds weg.

Ek gaan sit langs Jaap en staar na my skoene. Vergeet skoon om te sê van die koffie.

’n Paar minute later kom Spreeu met die skinkbord uit. Sy sit dit op die stoepmuurtjie neer, kyk na Jaap en dan na haar pa. “Ek gaan dorp toe. Ek moet ’n pakkie vir Ma gaan pos.”

Ek wag tot sy met die stoeptrappe af is, motorsleutels in die hand, voor ek na Jaap kyk. “Is jy klaar? Kan ons ry?”

Skarlaken

Подняться наверх