Читать книгу Skarlaken - Irma Venter - Страница 5

JAAP 1

Оглавление

Dit het gereën voor sy dood is. Ongehoord baie vir ’n Juliemaand, maar wie verstaan deesdae die weer. Die reën het drie dae lank aanhoudend uit swaar, donker wolke geval. Die droë, vaalbruin grond het die water eers dankbaar ingedrink, maar wou later niks weet van die druppels wat net nie wou ophou nie.

Die water het by die skaapkrale begin opdam, en toe by die skuur waar die ou ligblou Nissan Diesel-vragmotor al jare lank met pap bande en ’n ewe pap battery staan. Daarna het dit die huis bereik, deur die sitkamer getrek, ’n dik bruin modderstreep gelos van die agterdeur tot by die voordeur, oor die stoep en af met die klippaadjie.

Dit het ook in die oop veld versamel, in die pan, tussen die tafelkoppe en digte versamelvoëlneste vasgemessel aan telefoonpale. Of eerder, in die holte in die veld wat ’n pan gewórd het, op die vlakte met sy enkele groot boom waar niemand meer kom piekniek hou tussen kwetterende vaalbruin voëls nie. Deesdae staan die kruis gemaak van tambotiehout daar; dit word elke jaar mooi en nuut vernis.

Dit was stil die oggend van haar dood, asof die ganse Karoo asem opgehou het dat die reën moes klaarkry. En dit was vrek koud. Mens se longe het gebrand van die yslug en voor elke mond het die asem stoom geword. Die boere wat na haar kom help soek het, het met moddervuil stewels in ’n stom wals op die stoep rondgeskuifel in ’n poging om warm te bly. Hulle het met hande in die armholtes gestaan, koppe gebuig, hoede af. Ongemaklik. Bekommerd. Kwaad.

Haar pa het buite gaan asemskep toe hy haar gesien het. Die huis was te vol vroumense met bangmaakstories en hy het sommer net uitgeloop, koffiebeker in die hand. Toe kry hy haar, alleen op die vlakte. Die boonste laag van die pan was gevries ná die vorige nag. Dit het onder sy voete gekraak en fyn spinnerakke gemaak soos hy geloop het. Versigtig al nader aan die rooi fiets en die vrou wat op haar sy, halflyf – presies halflyf – in die modderige ys vasgevang was.

Die fiets was nie hare nie, maar die trourok wel. Die wit materiaal was hoog teen haar bene afgeskeur, maar die lang kantmoue was steeds daar. Dit was dieselfde rok wat sy die vorige oggend by Mart Visser op die dorp gaan haal het.

Betyds klaar vir die volgende Saterdag.

Niemand het geweet waar die rooi lap vandaan kom nie. Die dieprooi fluweel het vir omtrent vyf meter oor die pan gesprei gelê, asof dit haar sluier was.

Of vlerke.

Mens se oë wys dat jy dood is. Dat jy weg is. Die kleur syfer weg. Dis asof die vensters leeggestroop en toe is, die voordeur op knip getrek en gesluit, soos wanneer jy alles oppak en trek.

Haar pa het sy koffiebeker laat val en by haar gaan hurk, haar met sy hande begin uitgrawe. Dit was asof sy net so in die ry omgeval het – enkelhoogte hoëhak- swart leerstewel nog op die fiets se pedaal – en so bly lê het, haar gesig verdwaas oor haar gebrek aan balans. Onder die ou vliegbril uit die Eerste Wêreldoorlog was haar een oog oop.

As jy ’n foto uit die lug sou neem, sou dit lyk asof sy nog steeds ry, hande op die fiets se stuurstang.

Haar pa het vergeefs asem in haar longe probeer blaas, toe sy baadjie uitgetrek en oor haar gegooi. Terug huis toe gehardloop en geskree dat iemand die ambulans moet bel.

Die paramedici het vinnig opgedaag, maar agt, nege ure te laat.

Janien Steyn was dood.

Janien was my peetkind.

Skarlaken

Подняться наверх