Читать книгу Skarlaken - Irma Venter - Страница 6

2

Оглавление

Ek skink koffie uit die fles en blaas oudergewoonte daarop, al is dit reeds afgekoel. Dis al meer as ’n uur vandat ek die Corolla hier langs die pad getrek en in Julie se bitter koue my staan gekry het vir die lang wag.

Ek is nooit seker waarvoor ek wag nie. Dalk vir inspirasie, ’n nuwe gedagte oor wat met Janien gebeur het.

“Is jy nog steeds hier?”

Obie kom leun langs my teen die motor, pyp in die mond. Die nat vlekke op sy skoene wys hy het van die huis af kortpad deur die veld gevat.

“Vonnie sê jy moet kom eet,” sê hy toe ek nie antwoord nie.

Obie en Vonnie Steyn van die plaas Lekkerkry. Klink dit nie asof hulle vir ewig gelukkig moes leef nie? Hulle kinders vir ewig gelukkig moes leef nie? Hier in die Groot-Karoo net duskant Carnarvon.

Hulle twee seuns wil nie een boer nie, en Janien was hulle enigste dogter.

Obie sug diep uit sy bors uit. “Dis al amper drie jaar, en nog steeds niks. Wat sê Isak?”

Sy oë is op die horison en die bleeksingvalk wat daar sirkel. Hy kyk enige plek behalwe na die kruis met die bos vars blomme.

Isak. Nie kaptein Slingers nie.

Dit het lank gevat voor Obie die speurder só kon noem. Wat seker te verstane is as iemand gedink het dat jy jou eie dogter kon doodmaak. Dit neem tyd om te begin glo dat die polisie alles gedoen het wat hulle kon om die moordenaar op te spoor. Dit gebeur eers wanneer die woede moedeloosheid word, en daarna magteloosheid. ’n Akute, terminale teenwoordigheid waarmee jy probeer vrede maak. En, as jy gelukkig is, gee jy jou uiteindelik oor aan die neerdrukkende sleurgang van elke dag en dink vir twee, drie minute op ’n slag nie meer aan wat gebeur het nie.

Ek weet dit. Jare in die polisie leer jou dit.

Obie haal ’n boksie vuurhoutjies uit sy hempsak, sukkel om sy pyp weer aan die gang te kry. “Enige nuwe gedagtes oor wat gebeur het?”

Soos altyd vra hy dit hier, in die oopte, waar Vonnie nie kan hoor nie.

Nee, maar ek sê dit nie vir hom nie.

Ek ken die feite uit my kop uit. Ál die feite, nie net dié wat in die koerante verskyn het, maande lank herkou is en toe vergeet is nie.

Vonnie het my daardie oggend gebel, huilend en histeries. Ek het als in Pretoria gelos en hierheen gekom. Dat dit die ondersoekbeampte se derde moordsaak was, het as ’n skok gekom. Ek het iemand met meer ervaring gesoek. Isak Slingers was dan nou die dag nog saam met Janien op skool. Wel vier jaar ouer as sy, maar nog steeds nat agter die ore. Pure bogkind.

Ek het probeer help, tot hy my weggejaag het. Ek sou dit ook gedoen het as ek hy was. Ek het heeltyd beter geweet en was oortuig dat ek met my jare se ondervinding die saak sou kon oplos. Ek het ingestorm en dinge opgeneuk, gedruk en gedryf waar ek nie moes nie. Op Isak en almal hier se tone getrap.

Die feite van die saak was skraps.

Vonnie en Obie het die aand by hulle aanstaande skoonfamilie gaan braai, soos die meeste mense in die omgewing, en eers laatnag teruggekom. Janien en haar broer Leon het by die huis gebly. Hy het sy meisie reeds vroeër die dag op die dorp gaan aflaai en kom rugby kyk. Hy het nie van Henk van Staden, Janien se verloofde, gehou nie.

Leon sê hy het vroeg gaan slaap. Hy en Janien het TV gekyk tot hy bed toe is, en hy het haar daarna nie weer gesien nie.

Niks is uit die huis gesteel nie, en daar was geen tekens van ’n inbraak nie. Al leidraad was ’n paar stewelspore wat op die pan gevries het. Nommertiens, dalk elfs. Volgens die diepte heel waarskynlik ’n man van redelike gewig. Die laaste ry spore, toe hy niks meer gedra het nie, verklap dit.

Isak het gedink dis Leon. Hy dra nommertiens, nes ek en Obie. Nes Obie se buurman, en Janien se toekomstige man én skoonpa. Baie mans in die distrik dra nommertien-stewels en almal sou vol modder wees, want dit het dae aaneen gereën.

Daar was geen teken van bloed of ’n bakleiery aan Leon, sy klere of enige plek in die huis nie. Die binnekant van sy linkerboarm was blou, maar Janien het hom altyd daar geknyp as hy haar geterg het. En hy het haar siel deeglik uitgetrek voor die troue.

Ek draai na Obie. “Ek weet nog steeds nie wat gebeur het nie. Dit maak my gek.”

“Gaan jy weer in haar kamer rondkyk?”

“Mag ek?”

“Jy weet Vonnie wil als oppak en verbrand. Sy grawe al van verlede maand af ’n sloot daarvoor.”

“Die een by Janien se boom? Ek het dit gesien toe ek gister gaan stap het.”

Janien het daardie soetdoring die eerste en laaste keer probeer klim toe sy vier was, oor sy en Vonnie baklei het. My suster moes tot laatnag sit en stukkende plekke skoonmaak. ’n Akasiadoring is ’n bogger, veral as jy teen die takke op wriemel om van jou ma af weg te kom.

Obie knik. “Dis die plek, ja. Ek dink dis ’n goeie idee, die dominee ook. Al meen ons om alles weg te gee sal ook goed wees. Vonnie kan nie meer elke dag in daai kamer vaskyk nie.”

“Dan het ek nog een kans.” Ek sluk die laaste bietjie koffie. “En dan moet ek seker ook laat los.”

Skarlaken

Подняться наверх