Читать книгу Skarlaken - Irma Venter - Страница 17

3

Оглавление

Ons ry deur ’n tonnel kaal winterbome tot voor ’n roomkleurige dubbelverdiepinghuis. Die grasperk om die huis is diepgroen soos Waterkloof se gholfbane, al is dit winter. Lankdrink. Ek hou van die plaas se naam. Blykbaar is hier êrens ’n oog of ’n fontein wat water gee. Dit moet kosbaar wees in die Karoo. Seker op enige plaas.

Ons klim uit. Die man op die stoep frons skerp toe hy ons sien.

“Hoekom lyk hy asof iemand sy pap geëet het?”

Jaap se oë sê ek praat te hard. “Ek en hy … Dinge was nog nooit lekker nie. Bly kalm en los die praatwerk vir my.”

“Hoekom? Wat is …”

Maar Jaap is reeds op pad stoep toe. Hy hoef nie te worry nie. Ek het geen begeerte om met vreemde mense te gesels nie – sy familie was genoeg vir ’n hele jaar.

Die man beduie met ’n kierie ons moet die stoeptrappe opklim. “Ek sukkel om te loop. Ligamente is af. Mis getrap.”

Bo gekom, lê die veld oop na alle kante toe. Die koue lug ruik soos spanspek en kom sit soet op my lippe. Ek klad die smaak tot in my mond. Ek hou van die Karoo. Hierdie ganse groot, oop plek. Ek hoop nie ons gaan binne sit nie.

Die man met die kierie skud Jaap se hand, toe myne. “Fanus,” sê hy. “Middag. Kom sit.”

Hy lyk so oud soos Jaap. Hy laat sak sy lyf stadig in sy stoel. Lig dan sy regterbeen met die grys plastiekstut om die enkel tot dit op die koffietafel voor hom rus.

Jaap soek deur die voordeur na die huis se warmte. Hy gaan sit oorkant Fanus en trek sy baadjie stywer om sy lyf. Ek gaan sit op die stoel langs hom.

Fanus steek ’n Camel aan; dit verduidelik seker die buite sit. Sy hare is so wit soos die rook wat die lug in verdwyn. Sy vingernaels en tande sê hy en die Camels loop al ’n lang pad saam.

Hy kyk na ons met waterige oë. “Hoop nie julle gee om nie.”

Dis nie ’n vraag nie.

Ek staan op en gaan sit windop, op die verste stoel, die lus vir ’n sigaret amper te veel. Jaap haal sy notaboek en pen uit. Hoe hy gaan vra wie in hierdie huis S&M is, weet net hy.

Fanus trek aan die sigaret, hoes. “Waarmee help ek jou … julle?” Hy kyk nuuskierig na my.

Jaap tik met die pen teen die boekie. “Dis soos ek oor die foon gesê het, ons het ’n nuwe leidraad in Janien se moordsaak.”

Die Camel stop in die lug. “En dis soos ek altyd sê: al weer dieselfde ou kak.” Hy skud sy kop, sy oë terug op my. “Julle – jy en sy?”

“Ja.”

“Watter leidraad?”

“Korrespondensie – e-posse, boodskappe – tussen haar en ’n man. SM.” Jaap los die en uit, asof dit bloot twee letters is. “Jou naam is mos Stephanus Malan. En jou seun ook.”

Ek probeer om nie verbaas te lyk nie. Jaap het niks gesê nie. Ek kyk na hom en sien die skadu van ’n glimlag om sy mond, die amperse lekkerkry. G’n wonder hy was so tevrede toe ek vir hom die plaasadres gegee het nie.

“Baie mense het daai voorletters.” Fanus se stem is koud.

Jaap raadpleeg sy notas. Blaai om, weer terug. Hy neem sy tyd, al weet ek hy het niks neergeskryf toe ek hom vertel het nie. En waar’s sy leesbril nou?

“Die IP-adres sê die rekenaar is op jou werf, Fanus,” sê hy.

“IP-adres? Wat de hel is dit? Is dit al wat jy het? Dit en twee letters?”

Jaap sê niks.

Fanus druk die halwe sigaret in die asbak langs sy been dood. “So vertel my bietjie van hierdie nuwe … leidraad van jou.” Hy kyk na my. “Jy’t seker iets hiermee te doen.” Sy blik gly oor my motorfietsstewels en jeans. “Jy lyk soos daai meisietjies op TV wat altyd sulke nonsens oopkrap.”

Die woorde borrel boontoe. “Meisietjie se …”

“Wag nou.” Jaap se oë waarsku ek moet onthou wat hy vroeër gesê het.

Ek kyk weg, vlakte toe. Miskien moes ek by die huis gebly het.

“Fanus, ek wil net weet of jy of Stefan dalk met Janien gepraat het voor haar dood. Veral Stefan. Dit beteken nie ek dink hy’t enigiets gedoen nie. Maar Janien het hierdie SM vertrou, hom goed vertel wat ons dalk moet weet.”

Steeds sê Jaap niks oor Snapchat of die aard van Janien en SM se verhouding nie.

“Kyk,” probeer hy weer, “hulle het tog almal saam op Stellenbosch studeer. Stefan, Henk, Janien en Magda. En hulle was goeie vriende. Iewers weet iemand iets wat ons kan help.”

Fanus steek ’n nuwe sigaret aan. “Stefan en Maggie, al twee my kinders, was by die braai toe Janien dood is. Henk ook.”

“Dan kan ons mos met Stefan praat?”

“As ek reg onthou, is jy nie meer in die polisie nie.”

“Isak Slingers is nog. Ek kan hom bel as jy wil. Hy kan slaghuis toe gaan en daar, voor almal, met Stefan praat.”

“Julle kon destyds niks uitrig nie. Wat laat jou dink julle gaan nou skielik antwoorde kry?”

“Ek het ’n bietjie hulp ingeroep.”

Fanus kyk weer na my en lag openlik. “Jy’s soos ’n ou hond wat met nuwe truuks hier opdaag. Maar jy bly ’n hond.”

Jaap beduie ek moet kalm bly, sonder om eers na my te kyk.

“Miskien is jy reg. Maar dan moet jy weet ek’s ’n knaende hond. En jy weet wat hulle sê oor knaende honde.”

“Nee, wat?”

“Hulle kry altyd wat hulle toekom.”

Fanus kyk stip na hom. “Vir wat moet jy dinge nou weer kom oopkrap? My kinders was baie ontsteld oor Janien se dood. Die hele distrik het nie ’n oog toegemaak nie. Almal het nagte om patrollies gery en elke vreemdeling is tien maal ondervra. Hoekom hou jy aan met sukkel? Jy neuk nou weer net dinge vir Vonnie op.”

Jaap begin ’n doolhof in sy notaboek teken, tydsaam en presies. “Waar’s Stefan?”

Fanus lag, maar die klank is bitter. “By die slaghuis. Ek sal bel en sê hy moet huis toe kom. Jy sal ook nie los tot jy met hom gepraat het nie.”

Hy beduie die huis in. “Maggie kan solank vir ons koffie maak.”

Skarlaken

Подняться наверх