Читать книгу Skarlaken - Irma Venter - Страница 7
3
ОглавлениеJanien se kamer lyk nog dieselfde as verlede jaar en die jaar voor dit. Die een muur is swart geverf en vol foto’s. Die beddegoed is wit, nes die gordyne. Die kussings is baie en bloedrooi met swart voëls daarop wat venster se kant toe vlieg.
Toe Janien een Vrydagnag die muur swart geverf het, het Obie dadelik vir ou dominee Kas laat kom. Sy was veertien, en Obie en Vonnie het die ergste vermoed: satansgoed. Maar Janien het gesê hulle is laf en het die volgende week foto’s begin ophang. Almal met haar selfoon geneem, en swart is die beste agtergrond, het sy gestry.
Die foon was ’n geskenk vir haar dertiende verjaarsdag, al het Obie lank daarteen geskop. Maar Vonnie se argument dat Janien enige tyd van die koshuis af kan bel en dat sy die foon nodig het vir haar eie veiligheid as sy naweke sport doen, het gewen.
Janien het min oproepe gemaak, eerder orals op die plaas rondgeloop en foto’s geneem. Op die dorp ook, waar almal haar en haar kieriebeentjies geken het. Carnarvon, die plek in die middel van nêrens wat danksy die SKA-radioteleskoopnetwerk êrens geword het en nou aandag trek van Europa tot Australië.
Janien was baie opgewonde oor die SKA-projek, al is heelwat mense in die omgewing steeds skepties oor die spul teleskope wat die sterrestelsels bestudeer. Dis tegnologie-kuns, het Janien gesê.
Haar heel eerste uitstalling was foto’s en gesprekke met mense oor wat dit beteken om miljoene jare terug in die heelal te “kyk”. Twee dimensies, tyd en ruimte, wat amper onverklaarbaar saamsmelt.
Sy het begin by oom Geel Koos en tannie Queenie, Karretjiemense wat sy leer ken het toe sy nog klein was. Al wat die SKA vir hulle beteken het, was dat Geel Koos dalk eendag werk sou hê. Hy was vier-en-veertig, maar het sewentig gelyk. Twee jaar later is hy dood. Sy longe, het tannie Queenie vir Janien vertel.
Ek gaan sit op Janien se bed, nes verlede jaar en die jaar voor dit. Haar enkelbed as kind, later as student, en nog later as gas toe sy van die stad af kom kuier het. Selfs toe sy en Henk sou trou, het sy alleen hier geslaap as hy laat gekuier het en moes oorbly, want dis hoe Vonnie en Obie dit wou hê.
Maar mens sou blind moes wees om nie die waarheid te sien nie.
Janien was ses-en-twintig toe sy dood is – volgens die koerante een van Suid-Afrika se belowendste jong kunstenaars. Net jammer hulle het dit nooit gesê toe sy nog gelewe het nie.
Ek strek my regterbeen uit tot amper reguit voor my. Wat pyn die knie vandag so? Seker van die koue wat ek nie gewoond is nie.
Alles in Janien se kamer het verander ná haar dood. Sy was slordig en haar ma het dit gehaat. Janien kon nooit iets wegpak nie, maar Vonnie het die deurmekaar kamer net so gelos. Nou maak sy elke week die kamer skoon en maak seker als is op hulle plek.
Hierdie kamer is nie Janien nie.
Die polisie het dit verskeie kere deursoek, eers Isak en sy span, en toe nog ’n span van Kaapstad. Obie weier om hier in te kom. Ek het hom eenkeer betrap waar hy by die deur gestaan en binnetoe gestaar het. Hy het niks gedoen nie, net bly kyk asof hy iets soek. Uiteindelik omgedraai en weggeloop.
Vonnie is reg. Dalk is dit tyd om als op te pak en te verbrand.
Amper alles.
Ek het dit nog nie vir haar gesê nie, maar ek is hier vir Janien se rekenaar en haar selfone. Isak het gesê Vonnie kan als kry, hulle het wat hulle nodig het, en daar’s in elk geval niks bruikbaars op die toestelle nie. Hy het dit laat klink asof hy nog nie moed opgegee het nie, maar ek weet hy het. Jy sê dit net nooit vir slagoffers se ouers nie.
Ek het ’n plan met die rekenaar en die fone. Dis die vaagste moontlikheid van ’n moontlikheid, maar ná drie jaar is dit beter as niks.
“Nee.”
Ek ken daardie stemtoon – Vonnie wil niks weet nie.
“Ek wil net die rekenaar en die fone vat,” probeer ek weer. “Ook die foon wat Janien gekry het toe sy dertien geword het. Asseblief. Niks van die ander goed nie.”
Vonnie vee haar hare uit haar oë en steek weer haar hande in die skottelgoedwater. “Eet klaar. Ek wil opwas.”
Ek sit die laaste happie spek en eier in my mond. “Vonnie …”
“Nee. Ek wil klaarmaak.”
“Asseblief.”
Sy vee haar hande aan haar voorskoot af, kom nader en vat my bord. Sy is jonger as ek, ses-en-vyftig. Ma het ons drie kinders nege jaar uit mekaar gehad. Die oudste, Douw, is twee jaar gelede dood aan ’n hartaanval. Vonnie, die jongste, was ’n verrassing.
Sy druk haar krulle, al duifgrys vir jare, agter haar ore in. Dié gebaar is ook bekend: haar geduld is op. Maar ek wil nie laat los nie.
“Ek het verlede jaar iemand leer ken wat kan help. Wat kan soek waar die polisie nie kan bykom nie.”
Vonnie sit die bord hardhandig in die wasbak neer. Skrop dat ek kan hoor. Móét hoor.
Ek drink koffie terwyl sy klaarmaak en die water uittap. Sy hou nie van hulp as sy opwas nie. Niemand doen dit so deeglik soos sy nie, en sy’s die enigste een wat weet waar als gebêre word.
Ek hou haar dop terwyl sy die borde afdroog en wegpak. Janien se dood het elke ronding van haar lyf gesteel, haar vreugde helder oordag gekaap. Die bly het eers onlangs weer begin wys, so bietjie-bietjie. Klein Obie se troue in Johannesburg vroeg volgende jaar maak haar opgewonde. En Leon se vrou is agt maande swanger. Hulle wou kinders hê van die dag dat hulle getroud is, kort ná Janien se dood. Dis asof Leon sy ma se hart weer wou bly maak deur vir haar ’n nuwe asem te gee om op te fokus.
Toe die laaste stukkie skottelgoed gebêre is, maak sy haar voorskoot los. Ek kan sien sy dink oor my versoek, al wil sy dit nie wys nie. Sy loop katvoet vir valse hoop. Die sloot wat sy met soveel sorg gegrawe het, wag. Dis ten minste definitief en seker. Materieel dáár.
Sy frons en vryf oor haar neus. Dis ons pa se neus, nes myne. Reghoekig en effe te groot vir ’n vrou, maar aantreklik by ’n man. Of so het my skoolkys altyd gesê.
Vonnie vou die voorskoot op, vra sonder om na my te kyk: “Wie ken jy wat nou skielik kan help?”
“Haar naam is Sarah. Ek wil die rekenaar Pretoria toe vat dat sy daarna kyk.”
“Nee.”
“Vonnie … asseblief.”
Sy bly lank stil, sê uiteindelik: “Dié Sarah-vrou kom hiernatoe.”
“Ek kan nie …”
“Ek gee nie om nie. Dis Maandag. Jy het tot Vrydag. Niks langer nie.”
“Goed. Dis reg so. Dankie.”
Ek sal vat wat ek kan kry. Ek weet nie hoe ek Sarah Fourie hiér gaan kry nie, maar ek sal ’n plan maak.
“En onthou, Jaap, ek wil niks weet nie. Tot jy vir my ’n naam kan gee, kan sê dit was hý, wil ek niks weet nie.”