Читать книгу Aanspreeklikheid - Jaco Fouché - Страница 11

8

Оглавление

Soraya. Hoe lank nog? Aaklige gedagte en tog is dit daar, iets on­ver­mydeliks van die lewe. Sien uit na ’n vreemde gevoel van ligtheid, ver­ligting, vreugde, selfs. Dis die bevrediging wat met die voltooiing van ’n taak gepaardgaan. Ek is ’n voltooier. Ek moet telkens klaarmaak met iets.

Ons gaan na Betsy se restaurant vir die spek-en-piesangbroodjies en die louwarm koffie. Betsy kom staan by ons tafel en glimlag baie, haar hand weer na aan my bord teen die tafel gedruk.

“Jy moet my jou nommer gee,” sê sy tot my ongemak. “Dan kan ek jou bel wanneer ons specials het.”

Agter Betsy se elmboog maak Soraya grootoog vir my.

“Die lamsbredie is heerlik,” sê Betsy. “Ek het ’n kastrol vol gemaak.”

“Nee, dankie, dis te vroeg,” sê ek vriendelik. Haar gesig val. Ek pro­beer die saak beredder: “Ek wil vir Soraya aan jou heerlike broodjies bekendstel.”

“Skrywers het darem groot harte,” sê sy vir Soraya, wat nie antwoord nie, maar Betsy agternakyk toe dié na haar kombuis terugkeer.

“Moes ons juis hiernatoe gekom het?” vra Soraya met ’n klein glimlag. “Wil jy iets bewys? Iemand die hel in maak? En hou jy nie van lamsvleis nie?”

“Ek is hier vir die broodjies.”

“Jy het haar teleurgestel.”

“Wat moes ek doen?”

“Mooi werk met haar hart. Sy het ’n ding vir jou. Moenie so in jou skik lyk nie.”

Ek snork-blaas in my kieste. Maar die aantyging laat my sterk voel.

“Ek het oor jou gaan oplees in die biblioteek,” sê sy nadat Betsy die kos gebring het. “Jy is onbekend, maar daar staan hulle op die rak, jou werk. Nege boeke. ’n Paar goeie resensies op die internet. Maar jou beste dae …”

“Is twintig jaar gelede al verby. Klink omtrent reg. Het jy iets gelees?”

“Ja. Een van die jeugverhale sommer daar in die bib.” Sy byt aan die broodjie in haar hand. “Oor die Japannees wat droom van terugkeer na die Middeleeue en toe aan sy eie hand sterf. Jy laat hom so trots klink op sy dood. Daar waar hy uit die hiernamaals praat. Dis byna asof jy hom channel.”

“Hy wás trots. Die dood was vir hom ’n prestasie. Iets om na uit te sien. Dis deel van die kultuur daar soos ek dit verstaan. Die dood is edel en verwelkomend solank jy dit proaktief benader en nie passief lê en wag op jou einde nie. ’n Mens verdien ’n goeie dood, jy werk daarvoor. Krygers, manne, koes vir geen uitdaging nie. Jy bestorm dit eerder. Daar is foto’s van hom waar hy poseer as kryger. Swaard in die hand, wit lendekleed om sy lyf, die son op die sneeu rondom hom.”

Sy skud haar kop, kou, die broodjie tussen haar vingerpunte voor haar ken. Dit lyk of sy die broodjie geniet. “Dis belaglik. Weet jy hoe leeg is die universe? Daar is klaar so min lewe in die universe. Vir wat dit wat daar is, weggooi?”

“Omdat hy in ons gedagtes sou voortleef. Ons sou sy daad onthou, die … die edelheid van sy moed … die ondernemingsgees.”

“Nee,” sê sy. “Dan moet ek dat John in my gedagtes voortleef en ek wil hom nie in my kop hê nie.”

“Hy was tog deel van jou lewe.”

“Jy het self iets gesê soos dat daar baie liefdes en baie mense is. ’n Mens beweeg aan na die volgende liefde en maak daardie een die liefde van jou lewe. Dis niks minder as reg teenoor die nuwe persoon nie. Die broodjies is lekker.”

Betsy kom staan weer by ons. “Is jy ’n kunstenaar?” vra sy vriendelik vir Soraya.

“Nee,” sê Soraya.

“Nou wat doen jy?”

“Nie veel nie,” sê Soraya.

Betsy kyk na my en lig haar wenkbroue voor sy loop.

“Moenie so in jou noppies lyk nie,” sê Soraya.

“Ek het niemand aanleiding gegee nie.”

“Jy het haar voorheen laat verstaan sy is spesiaal vir jou. Ek kan dit sien.”

“Ek is net hier vir die broodjies,” sê ek weer.

“Ons moet gaan stap,” kondig Soraya hard aan, in wat ek eers dag ’n onverwagte verandering van onderwerp is, voor ek Betsy se gesig sien. Sy is weer in ons omgewing, binne hoorafstand. Die woorde was vir haar bedoel.

“Moet nou nie ’n ding begin nie,” sê ek onderlangs.

Soraya glimlag vroom. “Ek sal dit nooit doen nie. Kom, ons gaan af see toe.”

Op die sypaadjie voor die restaurant raas die mossies weer in die boom. Ek kyk terug deur die vensters en kan Betsy in die verligte kom­buis uitmaak waar sy ’n vuilgoeddrommetjie se deksel behendig met haar voet lig en ’n kastrol se vleiskleurige inhoud oënskynlik driftig in die drom­metjie leegmaak. Is dit die lamsbredie?

Aanspreeklikheid

Подняться наверх