Читать книгу Aanspreeklikheid - Jaco Fouché - Страница 15

12

Оглавление

’n Monnik staan voor die deur. Dis wat ek deur die slaap dink toe ek oopmaak. Die man is korter as ek, maar sterker gebou, en sy gesigs­uitdrukking is hard en troebel, so met die wenkbroue wat diep duik en die snor wat hom laat snou. Dis sy hare wat hom na ’n monnik laat lyk. ’n Wal groei langerig en welig en donkerblond in ’n kring om sy kaal kop.

“Speursersant Jansen,” sê hy en klem my hand sodat ek terugdruk en besef my handpalm is klaar sweterig. “Kan ek met jou praat?” Hy is nie onbeskof nie, maar min mense sal vir sulke vasberadenheid nee sê.

Hy kom in en sê: “Interessante keuse vir jou nering. Sou ’n huis verwag het. Met hoë heinings.”

“Dis goedkoper in ’n woonstel,” sê ek. “En veiliger. In huise word mense vermoor.”

Dit trek sy aandag. Ons staar na mekaar. “Vermoor,” sê hy. “Ja.” Hy kyk rond. Hy tel ’n kussing van die vloer op en laat val dit op die groot wit rusbank.

Ek prewel die gewone verskoning vir die gewone deurmekaarspul. Hy skud sy monnikekop, seker om my gerus te stel, en tog glo ek nie hy is tevrede nie. Hy is waarskynlik ’n man vir netheid omdat dit dissipline beteken. Hy dra ’n vaal leerbaadjie en ’n duur denimbroek en enkelstewels en sy strak blik dra gesag daarmee saam.

“En nou nog moord. So julle het uitgegaan, verstaan ek?” vra hy toe hy op die rusbank sit en die volume van die ensiklopedie wat die stuk oor Fouché bevat as stut vir sy aantekeningboek gebruik.

Ek verduidelik weer. Ek was hier die dag toe John vir Soraya geskiet en toe homself om die lewe gebring het. Ek was hier toe haar nuwe huurder raserig en onverskillig geword het. Ek is al geruime tyd hier in die woonstelblok, hoewel ek nie veel van die mense ken nie.

“So jou vingerafdrukke is daardie woonstel vol?” vra hy.

Ek beaam dit. “Ons was in ’n verhouding, so te sê.”

Hy knik, wag. Ek bly stil. Ek dink ek praat te veel.

“En jy het die man geken wat by haar gebly het?” vra hy. “Jy weet wie hy is?”

“Nee, net van sien. Hy het gesê hy bly in die backpackers’ lodge.”

Die man maak ’n aantekening. “En jy sê jy meng nie eintlik met ander nie?”

“Dis die soort man wat ’n mens vermy. Die ander mense in die blok ken ek nie. Dit lyk vir my onbeleef om jou sommer te gaan voorstel. Dis belangrik om afstand te hou. Dit maak die lewe makliker.”

Ek dink nie Jansen keur my versigtigheid goed nie. “’n Mens moet bedag wees op wat jou bure doen, selfs al verg dit opoffering. Reik uit, weet wat om jou aangaan, dit kan ’n lewe red. Dit kan jóú lewe red. Laat iemand net van tyd tot tyd by jou aankom en seker maak als is reg. Julle burgers kan nie bloot op die Mag staatmaak vir die resolusie van konflik nie. Daardie konflik moet vooraf bestuur en bedwing word.”

“Ja, ja,” sê ek haastig.

“En die naam Theo is al wat jy het? En dat hy in die backpackers’ lodge bly?”

“Dis reg. Hy is lank.” Toe ek dit sê, wonder ek of ek dalk die korterige monnik beledig, want hy kyk weer stip na my. Hy peil my, hy probeer my na waarde skat.

“En jy is in jou vyftigs?” vra Jansen.

“Ek is vyftig, ja.”

“Jy is te oud vir verandering?” vra hy, sy voorvinger teen sy keelvel.

“Wel, ek het darem die verhouding met Soraya aangeknoop.”

“Dink jy dis ’n soort oorgang?”

“Ek gaan beslis nie ’n motorfiets koop nie. Dis jou dood soek.”

Hy sê: “Die dood?”

“Die ding is,” probeer ek weer, “die ouens is jonk en ’n mens se lyf is nie wat dit was nie en dis nie altyd duidelik presies hoe ’n man betrokke moet raak nie …”

“Was jy dan in jou jong dae, sal ek maar sê, ’n man van aksie?”

“Ek dink tog so. Ek was in die army.”

“In die army?”

“Ja.”

“Aan die grens?”

“Nee.”

Hy lyk weer nadenkend, krities, afkeurend. Dis asof ek erken het my gunstelingonderklere is van kant, natuurlik ter wille van ventilasie. “En jy is ’n skrywer?” vra hy.

“Ja.”

“Jy lyk ongemaklik.”

Ek voel hoe die bloed in my gesig opstoot. “Dis … ek … so … wel …”

“Jy hoef nie oor enigiets sleg te voel nie. Nie almal is bakleiers nie en dankie tog daarvoor.”

“O.” Ek voel iets soos dankbaarheid teenoor die monnik. “Ons … Die publiek maak staat op julle. Julle doen goeie werk …”

“Ek gaan op die publiek staatmaak om my na hom te lei.” Die speurder tik-tik met die hoek van sy notaboek teen die brug van sy hand. “Waar was jy toe sy dood is?”

“Ek is maar altyd hier. Gaan nie baie uit nie.”

“Mense sê jy hou jou eenkant?” Hy vra dit weer. Dis iets wat hom pla. Ons kyk in mekaar se oë.

Ek het geen benul van hoe om my aan te bied nie. Daar is ons in mekaar se geselskap. Dan vou hy sy vingers om die rug van die notaboek en sê: “Nou ja. Ek moet gaan.”

Aanspreeklikheid

Подняться наверх