Читать книгу Aanspreeklikheid - Jaco Fouché - Страница 6

3

Оглавление

Moontlik het ek te min om te doen, want dis die see waarheen ek my op ’n weeksdag wend, die kilometer lange stuk sand, waar die branders nimmereindigend opstaan en neersloeg en dan in plate blink, koue water oor die stemmig gekleurde sand uitstoot en terugtrek. Twee seuns tier oor so ’n plaat dat die water spat, elkeen op ’n plat, ronde bord wat teen die naaste brandertjie uitklim en met ’n sierlike draai van hulle bene ’n boog water die lug instuur voor al twee kniediep staan, buk om die borde op te tel en uitdraf om die volgende waterplaat aan te durf.

Bo die waterlyn sit drie vroue bymekaar op handdoeke, in warm klere aangetrek, maer soos houtkruise. By die ablusieblokke staan vier wagte en gesels soos ridders voor die apokalips. Maar dis net my indruk: op hulle eie beskou, sonder my inset, lyk hulle ontspanne. Trouens, iets aan dié wat ontspan, bots met iets aan diegene wat hulle oppas.

Bo die strook groen en duskant die vaalgroen berg steek die dakke van duur huise uit, die soort plekke wat in ’n revolusie in vlamme opgaan. En dis te verwagte – die optogte sal nog die welaf woonbuurte in beweeg, die klippe sal trek, die vlammetjies sal brandgemaak word, die mense sal in die huise wegkruip en die God van hulle kindertye onthou, op wie hulle intussen die rug gedraai het. Ek loop net duskant die verste lek van die water, seedreuning in my ore, regs van my die groen melkhoutbome en die rotse, links van my die baai en ver weg ’n skuins rooi dak in die hawe.

Sy is daar, die oorlewende. Sy het ’n swart eenstukbaaikostuum aan wat haar decolletage en skouers bedek, seker om haar wond te versteek. Haar bene is lank onder haar ewe lang lyf, haar hare in ’n hoë poniestert. Ek is bewus van ’n sekere skoonheid terwyl sy naderkom, haar arms voor haar lyf gevou. Sy lyk na die soort mens wat diegene om haar gesond laat voel. Dit is dalk ’n soort trots aan haar wat my aantrek, of bloot sensasie: sy bly ’n mens, ’n vrou, ten spyte van ’n moordpoging. Ek loop afkyk-afkyk nader, onseker oor wat my te doen staan. Haar aandag is by die see en miskien die wolkrif op die horison. Ek kom tot by haar en ons blikke ontmoet, haar oë donker. Was ek ’n storieverteller, het ek gesê onpeilbaar. Haar mond is rooi.

“Middag,” sê ek.

“Hallo.”

Sy loop verby. Ek kyk terug, hoor weer ’n slag, toe nog een. Sy het die man in haar lewe verloor.

Voor my lê iets wits waar die sand nat en grys is. Dis ’n krap, ’n dooie krap, wat leeggedra word deur skulpdiertjies wat daarop wei. So ’n diertjie het ’n wit tuit wat hy in die krapvleis druk. Daar is verskeie, twintig, dertig, wat eet aan dieselfde krap.

Ek staan daar tot mense naderkom. Dis ’n paartjie, die eerste defini­tiewe paartjie wat ek op Valentynsdag sien. Hulle hou hande vas en kyk na my en die man bars uit van die lag en die vrou kyk giggelend weg. Ek voel dwaas en loop van hulle weg, tot hulle ver is en toe buite sig en ek kan omdraai en teruggaan na my motor.

Aanspreeklikheid

Подняться наверх