Читать книгу Aanspreeklikheid - Jaco Fouché - Страница 9
6
ОглавлениеIn die slaapkamer het ek begin om snags ’n waaier aan te sit. Nie vir die lug nie, vir die geluid wat ander klanke uitkombers sodat ek minder oor my bure begaan is. Dit werk goed. Ek slaap langer en wanneer ek wakker is, werk ek lekkerder. Maar een nag is daar ’n kabaal wat geen waaier kan uitdoof nie. Dit kom uit die woonstel skuins onder my.
Eers lê ek net in die hoop dat die opsigter die situasie onder beheer sal kry. Dan tref dit my dat die geluide van die tuin se kant af kom. Miskien hoor die opsigter dit nie uit haar woonstel nie. Ek staan op en loer deur die gordyne voor die balkondeur.
Die tuin is verlig en drie mense gooi skaduwees daar. Die skaduwees maal om mekaar soos twee van die mense, mans, die derde tot bedaring probeer bring. Dis die vrou wat so skree terwyl sy op en af loop en die arms van haar wegstamp.
“Loop hier uit! Ek wil julle weghê. Julle misbruik my.”
“Soraya,” sê die man wat by haar bly. “Soraya, kom tot bedaring.”
“Moenie vir my sê, kom tot bedaring nie. Jy het my kar gesteel.”
“Ek is net gou shop toe. Jy het geslaap.”
“Dis gebruik sonder verlof. Dis diefstal. Jy is uit! Nou.”
Die mans lag. Een vat haar nogal onsag aan haar voorarms. Ek maak die deur voor my oop en stap in die donker op die balkon uit. Al drie is meteens stil.
“Wat gaan aan?” vra ek.
“Oompie, gaan slaap jy eerder,” stel die lang man voor.
“Hy wil nie weggaan nie,” sê die vrou vir my. “Ek sit hom uit.”
Die twee mans en die vrou hou my dop. Dis my skuif waarop hulle wag.
“Los haar uit en kom uit daardie woonstel.” Dit gebied ek.
Hulle staan. Ek sê: “As julle nie loop nie, sorg ek dat almal, van die opsigter tot die beheerliggaam tot die naaste prokureur, van naderby na julle sakies begin kyk. Ek weet julle is met iets onheiligs besig.”
“Loop!” sê die vrou. Die man het haar arms gelos en sy stamp hom nou hard teen die bors. Hy tree terug en kyk na sy maat.
“Kom ons maak soos rokkof,” sê hy en klink kwaad. Hulle voeg my gemene kyke toe, maar gaan die woonstel binne.
Die vrou bly in die tuin staan, haar aandag by my. Sy lig haar hand na haar gesig en dit lyk asof sy glimlag, hoewel dit moeilik is om in die strak lig te sê wat presies sy aan my te kenne wil gee. Ek kyk af na haar. Sy het ’n wit japon aan, met iets op die rug wat soos ’n geborduurde draak lyk. Daar is iets tussen ons, iets wat ek vir haar gedoen het en wat ek weet sy aanvaar in die een of ander seremonie wat ek nie mooi begryp nie. In die woonstel vloek een van die mans. Die vrou bly staan, haar rug na die deur en haar profiel nou na my. Die hondjie verskyn van onder ’n struik en sy buk by die diertjie. ’n Voordeur slaan toe. Daar is iets finaals aan die klank.