Читать книгу Aanspreeklikheid - Jaco Fouché - Страница 20
17
ОглавлениеDit het winter geword. Frankryk sleep my in. Ek dwaal van die wêreld van Joseph Fouché via ’n stel Reader’s Digest-boeke wat ek het na ’n ouer era, dié van Charlemagne en sy ridder Roland. Die gegewe het ek in die Fouché-boek ingewerk. Dis soos altyd ’n genot om in die verhaal weg te raak, die besonderhede soos sappige brokkies familiegeskiedenis: Roland wat sy skoonpa uitstuur teen die Saraseen in Spanje, Roland met die swaard Durandal, wat volgens oorlewering vandag in ’n krans in die dorpie Rocamadour vassteek sodat niemand dit kan uittrek nie. Die dorpie het ook bande met die tollenaar Saggeus uit die Bybel. En Saggeus het bande gehad met Veronica, die vrou wat Jesus se gesig afgevee het op die Lydensweg.
Hoe sussend die wind wanneer dit waai. Hoe vredig die klank van dakwater wat in ’n metaalgeut afstort.
Ek word wakker uit drome oor Fouché, die objek van my obsessie en maande se toewyding. Ek was saam met hom by Lyon, het sy afgryse aanskou toe soveel mense val en wéér geskiet moet word, ’n tweede keer vermoor. En sy hande is in sy hare, sy hande is oor sy mond, sy hande is oor sy oë en ore.
En tog kom die beelde deur, die wavragte organe en ledemate, die diep-diep skakering van die bloed tussen die polle gras en struike wat ek my op die toneel voorstel, die krete wat ek onder die bevryde hemel hoor wanneer dit stil word en die stilte ’n mens verdrietig stem.