Читать книгу Aanspreeklikheid - Jaco Fouché - Страница 14

11

Оглавление

Soraya word in die nag vermoor. Daarna lê ek wakker. My hart is in my keel en ek bly lê terwyl ek luister en hoop iemand anders tree op. Maar ék sal moet.

Ek staan op en gaan loer deur die gordyne voor die balkondeur. Dis donker in haar tuin. Dit het stil geword. Ek maak die deur oop en gaan uit op die balkon. Daar is lig in haar woonstel. Miskien is dit pas aangesit, want ek besef ek kan meteens die hondjie op die gras uitmaak in die lig wat deur ’n venster skyn. Die diertjie skuifel oor die gras, asof hy agter iets te ete aan snuffel.

Daar is ’n slag wat my laat vrees dis ’n skoot, maar dis ’n voordeur wat toegeslaan het. Ek moet die klank al ken, die deure hier slaan toe wanneer hulle oopgelos word. Ek haal diep asem en stap na my voordeur en gaan na buite.

Mense in die binnehof. “Wat gaan aan?” vra iemand.

“Dis weer daardie vrou.”

“Ag nee, sy moet uit, man, dit kan nie so aangaan nie.”

“Ek gee haar juis sulke kyke as ek verby haar loop, dat sy moet weet.”

Hulle merk my en dis asof die groep nader aan mekaar staan. Miskien het ek ’n fout gemaak deur nie eintlik met die mense te meng nie. Maar ek volstaan daarby: ek wou alleen wees en ’n mens het tog die reg?

Ek gaan met die trap af. Voor Soraya se deur staan mense in hulle nagklere, die koppe naaste aan ’n lamp skerp verlig, die ander in die half­donker. Een klop aan die deur sonder dat daar antwoord is.

“Iemand sal moet ingaan,” sê ’n vrou en kyk rond vir vrywilligers.

“Wie ken haar?” vra ’n man.

Mense draai weer na my. Ek besef hulle het my en Soraya opgemerk, ons deur vensters saam gesien beweeg, miskien in die dorp opgemerk, te wete gekom van ons verhouding, as dit is wat dit was. Ek stap na die deur en draai die knip en gaan stadig in.

Daar is chaos in die plek. Sy lê op haar rug op die teëlvloer tussen haar slaapkamer en die badkamer, haar mooi, fris bene gebuig, haar oë starend na die plafon. Haar bloed lê om haar soos ’n nagkabaai wat vloer toe gesyg het. Haar keel is afgesny, maar eers ná verskeie mislukte pogings. Die hale lê diep en vlak oor haar donker borste, haar wange, haar nek, haar skouers.

“Wat het gebeur?” vra die opsigter agter my met diep skrik in haar stem.

“Hoe moet ek weet?” vra ek woedend. Dis asof die vrou deur my sien.

“Kyk die snymerke,” sê sy, draai weg van my af. “’n Mens hoor dit op die nuus. Dis nooit een steekhou nie. Dis altyd sewe-en-twintig.”

Iemand het die polisie gebel. ’n Konstabel kom stel hom voor as Petersen. Hy het ’n knyperbord met papier by hom en hy begin aanteke­ninge maak. Ek self het ’n staat van waarneming binnegeglip: eerder dít as die ontsteltenis, nou. Dinge val my op: die diep glans van die bloed, die rusbank wat omgekeer is, die foto’s in die slaapkamer wat van die muur afgeruk is. Sekswoede. Ek haal diep asem en voel my gemoed bedaar.

“Hoe ken jy haar, meneer?” vra die konstabel.

“Ons was vriende.”

“En waar was jy?” vra die konstabel.

Ons kyk na mekaar. Hoekom klink sy stem so skerp?

“Hy was in sy woonstel,” sê die opsigter. “Ons was voor hom by die deur.”

“Ek moet dit van die meneer self hoor.”

Asem in, asem uit. In die deurmekaarspul lê ek kortliks die verhou­ding uiteen.

“Jammer oor jou verlies, meneer,” sê die konstabel. Is sy stem skerp? Is dit?

“Haai, shame, ja,” sê die opsigter simpatiek. “Jy is so ’n stil een, en nou dit.”

“En die man wat hier gebly het?” vra die konstabel. Nee, sy stem is nie skerp nie.

Ek verduidelik dalk te breedvoerig oor die geraas en die vermoedens. Sy naam is Theo, dis al wat ek weet. En hy lyk sterk, in staat tot dinge. Ja, hy is wit. Skuim van die aarde, voeg ek met weersin by. Verdien wat hom ook al tref en hoe gouer en harder, hoe beter. Die konstabel kyk versigtig na my. Hy sal nie weer in daardie skerp stemtoon met my praat nie.

Staan rond. Moet aanwesig wees, betrokke, selfs bedagsaam. Daar gaan ure verby. Verskeie beamptes kom in en doen hulle ding, neem foto’s, gebruik ’n maatband, staan in groepies en praat oor ander voor­valle waar­in mense dood is. Ek en die ander word uitgestuur en Soraya se lig­gaam word in ons afwesigheid in ’n donker sak geplaas en uitgedra. In die parkeer­terrein kyk ek hoe die bakkie met die silwer kap met haar wegry.

In my woonstel sien ek nie kans vir slaap nie. Ongerieflike span­ning in my lyf. Dus sit ek die skootrekenaar aan en werk tot my lyf styf en stram raak van my krom liggaamsposisie op die rusbank. Eers daarna gaan lê ek weer. Wil eintlik gaan stap. Maar dis die middel van die nag. Ge­vaar­lik op straat.

Aanspreeklikheid

Подняться наверх