Читать книгу Aanspreeklikheid - Jaco Fouché - Страница 8
5
ОглавлениеDie spul raas weer. Dit begin vroegmiddag, die gestamp van ’n deur wat nie teen die seewind vasgemaak is nie, die gelag van mans wat uitsien na ’n drinkery, die gekap van braaihout op die sementstoepie voor die tuindeur van die vrou se woonstel. Hulle praat hard, die man wat daar bly en een van die ander wat ledig hier in die blok ronddwaal. Ek het al ’n verskeidenheid onderwerpe aangehoor, sommige daarvan dinge wat ek laas in die army teëgekom het: besonder obsene grappe, hiperboliese verklarings van manlike mag ten koste van vroue, gays, oumense en kinders waaraan ek self deelgeneem het, als uitgedra deur my mond vol lemme. Dan, gou, warrel die eerste rook wit verby my oop balkondeur en ek staan op om toe te maak, in my eer gekrenk en ontevrede en magteloos.
Soms is daar musiek, van die soort wat wit mans oproep tot kragdadigheid en die drink van nog ’n bier sodat die volkstrots nie ondergaan nie. Vanmiddag word iets anders gespeel, ’n liedjie oor kokkerotte. Eers dag ek ek hoor verkeerd, maar nee, dis definitief wat besing word. Is ek al een met hierdie vrees dat iets verskrikliks met ons almal gaan gebeur? Ek maak iets om te eet en sit verder met my manuskrip oor die minister.
Die gesels en musiek bly tot my deurdring, nie besonder hard nie, maar aanstootlik. Ek gaan uit om ’n ent te gaan stap en voor die motorhuise kom ek die wit jong man teë wat vir my sê: “Dag, oom!” En my salueer. Ek groet mompelend terwyl ek merk dat hy na die vrou se motor op pad is en daarin klim. Maar dis nie my besigheid nie en vir vyftig minute stap ek deur Sandbaai tot ek kalm is en terugkeer.
Die musiek het intussen opgehou. Miskien het die opsigter kom gesig wys. Die gesprek gaan egter harder as voorheen voort.
“Daar is daardie nag ’n paar mense dood. Ek het gestaan en kyk hoe brand die plek. Wat moet jy doen? Jy meng nie in met daai mense nie, dis jou dood loop soek daai. Suid-Afrikaners weet nie hoe erg dit kan raak nie. En dit gaan nog hier gebeur. Kyk, ek werk meestal droog …”
Die voordeel van die spanning wat hulle by my skep, is dat ek langer ure in die manuskrip sit, bloot omdat ek nie kan ontspan nie. Dus kry ek ’n moeilik leesbare stuk leeswerk uit ’n Encyclopaedia Britannica uit die agtienhonderds afgehandel terwyl ek goeie aantekeninge maak.
Halfelf die aand besef ek dis warm en bedompig en waag ek dit om die balkondeur oop te maak. Dis nou stil. Voor my teen die berg skyn ligte geel en amber. Voëls, dalk fisante, raas in ’n oop veldjie tussen die huise. In die tuin skuins onder my is daar niemand, hoewel die tuindeur oopstaan en lig in ’n trapesium oor die gras val. Ek sien iets in die lig sit. Dis die hondjie, ’n wit-en-taankleurige diertjie. Dis eintlik ’n mooi gesig, rustig en verwelkomend en treffend, maar ’n skaduwee val in die trapesium en die hondjie skuif onder ’n struik in.
Dis die vrou wat uitkom, sigaret in die hand en opkyk asof sy die sterre wil sien voor sy my opmerk en na my kyk waar ek in my eie woonstel se lig op my balkon staan. Haar oë lyk groot in haar gesig.
“Het hy geraas?” vra sy. “Ek het gesien jou balkondeur is toe.”
“Nee,” sê ek. “Ek het niks gehoor nie.”
“Jy lieg. Hy raas verskriklik. Ek is keelvol. Ek moet iets doen.”