Читать книгу Aanspreeklikheid - Jaco Fouché - Страница 18

15

Оглавление

Daar is iets sinneloos aan die dae en die weke wat verbygaan. Moet rig­ting kry. Ek gesels met die opsigter, wat nie oor die gebeure van ’n ruk gelede kan kom nie. “Ek was bang hulle verdink jou,” sê sy. “Maar hulle sal nie. ’n Mens kan sommer sien jy’s ’n kind van die Here.”

“Ag, baie dankie. Is dit so duidelik?”

“Mens ken sy kinders op ’n afstand uit. Dis ’n trek op die gesig en iets in die oë. Jy is grootgedoop, jy kan dit nie ontken nie. Maar ons gesels so min, geen wonder jy het my nog nie vertel nie. Jy is mos nou al deel van die kompleks se familie.”

“Dis die probleem met alleenloper wees,” sê ek. “Jy is verdag. Maar ek is bly ek het Soraya geken. Sy was spesiaal. Ek is seker haar vorige liefde het ook so gedink.”

“Ek vergeet al so half van John,” sê die opsigter. “Hy is mos al verlede jaar dood? Kan dit al so lank wees? ’n Mens kan ook nie byhou nie. Een ding op die ander en eendag kyk jy terug en sien, nou goed, dit was jou lewe.”

“Dit ís al lank,” sê ek hulpvaardig. “Ek onthou dat ek Soraya op Valentyns­dag by die see sien loop het. Dit was nog warm, sulke warm dae.”

Ons staan by die voorste hek en sy vertel my nou hoe sy dwelm­handelaars daar verjaag het.

“Dit help nie jy bel die polisie nie,” sê sy. “Hulle kom eers wanneer iemand dood is. Of as die televisiemense opdaag. Vir hulle is dwelm­hande­laars net ’n ligte lastigheid. Oe, en toe daardie een nog by Soraya gebly het, het die polisie hom soms huis toe vergesel nadat hy te veel gedrink het. Mans staan bymekaar, deur wet en orde en reg en verkeerd. Hoe veg jy daarteen? Ek is ’n vrou van sewentig. Ek het hierdie land sien gaan van ’n belowende plek tot waar dit vandag is, ’n sirkus van vrees. Ek lag daaroor, ja. ’n Mens dryf die spot terwyl jou hart in jou keel sit.”

“Daar was so ’n teater in Frankryk,” praat ek onnadenkend – en seker pretensieus. “Die Grand Guignol. Hulle het vertonings aangebied … Die gruwelikste goed …” Die vrou beskou my en ek onthou ek is ’n kind van die Here. Ek laat vaar die sin om te verduidelik: “Dit was ook ’n plek van geleenthede vir grusaamhede, tot die oorlog mense gewys het wat ondernemingsgees en grusaamhede werklik is.” Ek kry spyt oor die woorde grusaamhede en ondernemingsgees.

“Jy praat van die bendes,” sê die vrou. Ek dink nie sy volg my nie. “Mense sê Hermanus is so rustig, maar die bendes is hier ook. Maak hulle nou net kwaad, en tien dae later spoel jou lyk aan die kus uit, gaargevreet deur die visse. Hulle … hulle het magte. Hulle … hulle het doekoem wat hulle op jou plaas.”

Die vrou praat driftig. Die posman daag op. Sy was aan die wag op hom. Nou neem sy die bondel pos en kyk daardeur of daar iets vir my is, wat daar nie is nie.

“Jy moet skryf, dat iemand vir jou kan terugskryf,” sê sy. “In die ou dae is dit hoe ons ons vriendskappe aan die gang gehou het. Of is jy nie eintlik een vir mense nie?”

“Dis die geheim van goeie buurmanskap. Jy hou jou skaars. Ek moet gaan werk.” En ek stap na die skootrekenaar in die woonstel en die hoofstukke oor die Fransman.

Die boek oor Fouché vorder stadig maar seker. Wanneer ek daaraan werk, vloei die woorde, vyfhonderd op ’n slag, ’n duisend. Van die sessies skop ek af met die redigering van die vorige dag se werk, net om aan die gang te kom, maar dit raak op sigself ’n taak. Die vertelling is nie heel­temal chronologies nie. Ek begin in Triëst, waar my subjek in sy laaste jare ’n banneling was, en werk daarvandaan terug na sy dae as onderwyser, as betrokkene by die Revolusie, as Napoleon se handlanger. Wat my die meeste interesseer, is sy houding jeens godsdiens. Miskien doen dit die manuskrip skade om op die godsdiens te hamer en tog kan ek nie daarvan wegbly nie. Was jy eenmaal ’n kerkganger, dra jy altyd daardie mantel, en sou dit gebeur dat jy eendag met die brandstapel gedreig word, sal jy soos die laaste Tempelier die kruis met jou lippe verloën, maar nooit met jou hart nie.

Fouché moet oortuig gewees het hy doen die regte ding deur die kerke te probeer vernietig. Hy het geglo dat daar niks ná hierdie lewe is nie, dat ander mense gek was om dit te glo en hy wou sy bitter evangelie hart­stogtelik verkondig. Hy wou hom moontlik ook wreek op diegene wat nie soos hy gedink het nie, hulle onbenullig maak, hulle opinies van die aarde vee ten einde sy eie te laat gedy. En tog, ten spyte van die onversetlikheid, kon hy hom telkens herontwerp om by die heersende orde in te val en opnuut ’n sterk rol te speel. Ek stel my voor dat elke herontwerpte rol vir hom ’n prestasie was. Dink van hom wat jy wil, onthou daardie mense wat deur sy manne by Lyon doodgemaak is as ’n klaaglike fout, maar hy kon op sy voete dink.

Ek skryf vir twee uur voor ek opstaan en my rug en arms strek, my ewewig herwin. Dan maak ek die balkondeure oop en kyk af op Soraya se tuin. Die hondjie sit daar, wit-en-taankleurig, by ’n leë waterbak. Roer­loos, ’n hompie dors en honger lewe. Ek sug. Daar is altyd nog iets om te doen.

Aanspreeklikheid

Подняться наверх